Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hele naweek beurtkrag ‘as dit aanhou reën’
Beurtkrag gaan waarskynlik heel naweek duur as dit aanhou reën. Foto: Unsplash

As die eendeweer in die noorde van die land voortduur, sal Eskom gedwing word om beurtkrag die hele naweek toe te pas, het die kragreus Vrydagmiddag in ’n verklaring gewaarsku.

Fase 4-beurtkrag is noodgedwonge Vrydagmiddag ingestel weens ’n grootskaalse gebrek aan opwekkingskapasiteit en om die kragnetwerk teen ineenstorting te beskerm.

Fase 4-beurtkrag geld reeds Saterdag tot 06:00. Eskom het egter nog nie bevestig dat beurtkrag die res van die naweek ingestel gaan word nie, maar wel gewaarsku as die “onophoudelike reën” voortduur, is kragonderbrekings ons voorland.

Die reën veroorsaak dat Eskom se steenkoolreserwes nat word, wat die hantering daarvan bemoeilik.

Nat steenkool brand ook moeiliker, het ’n woordvoerder verduidelik.

Eskom het Vrydag fase 2-beurtkrag tot fase 4 geëskaleer in die hoop dat hy meer water na die boonste damme van sy pompopgaarskemas kan pomp sodat meer hidroëlektrisiteit so opgewek kan word.

Die nasionale kragvoorsiener maak ook steeds volstoom gebruik van sy dieselkragopwekkers om bykomende elektrisiteit op te wek.

Hy het egter Donderdag aangedui sy voorraad diesel verkeer ook “onder druk”.

13 000 MW se kragopwekkingsvermoë was Vrydagmiddag verlore weens onbeplande gebeure, dit wil sê dit is nie af weens beplande instandhoudingswerk nie, maar weens iets wat gebreek het en noodinstandhoudingswerk moet nou gedoen word.

Eskom kan beurtkrag net afweer as sy verlies aan opwekkingsvermoë minder is as 9 500 MW.

Daarna steun hy swaar op sy noodkragopwekkers en pompopgaarskemas om die ligte aan te hou.

Vrydag se vraag na elektrisiteit was 1 000 MW méér as wat Eskom in staat was om te voorsien, daarom moes beurtkrag ingestel word.

Onder fase 4-beurtkrag word 4 000 MW se elektrisiteit op ’n gegewe oomblik afgesny om die kragnetwerk teen “totale ineenstorting” te beskerm.

Volgens Eskom werk sy tegniese span onverpoos om die foute by sy kragstasies reg te stel.

Daar was Donderdag glo nie een eenheid in die Kusile-kragstasie wat krag opwek nie. Eenheid 3 sou na verwagting weer Vrydag aan die gang kom nadat dit Donderdag ingegee het. Ander eenhede is af vir herstelwerk.

Eskom vra Suid-Afrikaners om verskoning dat beurtkrag weer skielik ingestel moes word en vra dat almal krag spaar deur onder meer geisers af te skakel tydens spitstye, asook rekenaars en ander kantoortoerusting wat nie oor die naweek gebruik gaan word nie.

Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.