Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Herbesin oor plan vir krag, vra LP’s

Groeiverwagtinge vir die ekonomie en vir energieverbruik soos dit in die voorlopige energieplan tot 2030 vervat is, moet volgens parlementslede moontlik laer aangepas word.

Die departement se modelle vir die ideale samestelling van waar die land sy energie vandaan kry, is geskoei op vooruitsigte vir ekonomiese groei.

Luidens die geïntegreerde hulpbronplan (IRP), wat in Augustus deur die departement van energie vir openbare kommentaar gepubliseer is, word ekonomiese groei van 4,26% verwag. Energieverbruik gaan met 1,8% per jaar styg, lui die IRP.

Maar nadat die parlementêre portefeuljekomitee oor energie die 41 geskrewe en 38 mondelinge voorleggings bestudeer het, meen hulle die departement moet “ernstig herbesin” oor dié vooruitsigte.

Verskeie rolspelers reken die groeiverwagtinge is hopeloos te hoog.

Die energie-intensiewe verbruikersgroep (EIUG) het onder meer gesê hul laagste verwagting van die BBP is groei van 0,9%, hul gemiddelde verwagting is groei van 1,9% en as dit báie beter gaan as verwag, sal dit met 3,2% styg. Energieverbruik sal gevolglik met 1,4% en 1,6% en slegs in uitsonderlike omstandighede met 1,8% styg.

Op sy beurt het Business Unity South Africa (Busa) gesê die IRP moet voorsiening maak vir BBP-groei van 1,33% en energieaanvraag van 1,21%.

In die portefeuljekomitee se voorlopige verslag oor die openbaredeelnameproses is dit nommer een op die lys van aanbevelings. Hulle neem egter ook die teenpool in ag, wat deur sommige LP’s geopper is: “Wat ás die regering suksesvol is en meer buitelandse belegging lok as wat verwag is? As die ekonomie skielik sou groei, gaan die energiesektor gereed wees?”

Energiemengsel

Die departement se modelle vir die ideale samestelling van waar die land sy energie vandaan kry, is onder meer geskoei op dié groeivooruitsigte. As die groeisyfers verander, kan die uiteindelike aanbeveling vir hoe die energiemengsel moet lyk, ook verander.

Die IRP stel tans voor dat teen 2030 moet sowat 46% van die land se krag uit steenkool opgewek word, 16% uit gas, 15% uit wind, 11% uit sonkrag en 6% uit hidrokrag.

Kernkrag is nie deel van die plan nie.

Fikile Majola, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor energie, het egter die afgelope week gewaarsku ’n taai debat lê nog vir die komitee voor oor of kernkrag wel deel moet wees van die plan.

Eskom-tariewe

Intussen het Nersa met die openbaredeelnameproses begin vir Eskom se aansoek vir ’n tariefverhoging van gemiddeld 15% elke jaar vir die volgende drie jaar. Eskom doen aansoek om in 2019-’20 altesaam R219 miljard van tariewe te verhaal; in 2020-’21 altesaam R252 miljard en in 2021-’22 sowat R291 miljard.

Selfs al staan Nersa dié versoek toe, sal Eskom in 2020-’21 en in 2021-’22 steeds nie al sy skuldverpligtinge kan nakom nie en ’n kontanttekort hê in daardie jare.

Geskrewe kommentaar kan tot 30 November ingedien word, waarna openbare sittings teen 1 Februarie 2019 afgehandel sal wees.

Eskom het ook die afgelope week aangekondig hy gaan sy uitgawes besnoei deur te herstruktureer en van sy uitvoerende personeellede af te lê.

Van die ander aanbevelings sluit in dat die impak van die Inga-hidrokragprojek in die Kongo-rivier en die twee onafhanklike steenkoolkragstasies wat deel is van die plan, verreken moet word. Die komitee meen dit is “hoogs waarskynlik” dat dié planne nie gaan realiseer nie. Verder sê die komitee die risiko om gas in te voer moet ondersoek word.

Hulle beveel aan die IRP moet “periodiek” bygewerk word. Die departement het voorheen deurgeloop onder kritiek omdat die plan elke twee jaar bygewerk moet word, maar dit laas in 2010 gedoen is.

Jan Esterhuizen (DA) het gesê die klem op gas is ’n probleem omdat “ons geen idee het hoe gaspryse in die toekoms gaan lyk nie”. Die probleem met hernubare krag is dat “ons geen idee het hoeveel werk dit gaan skep en hoeveel dit gaan kos nie”. Volgens hom is die Inga-projek ’n “dagdroom” wat liefs heeltemal uitgelaat moet word.

Mzingisi Dlamini (EFF) het gesê die aanbevelings moenie aan die minister gestuur word nie. “Hierdie ministers – hulle bestaan nie. Ons moet daaroor besin. Hierdie ding om iets aan ’n minister oor te laat wat nie bestaan nie, is ’n uitdaging.”

Majola het hom gedeeltelik gelyk gegee. “Of hulle bestaan of nie, is een ding. Maar ek stem met jou saam, ons moet daaroor besin. Dit is ’n uitdaging nie net vir ons komitee nie, maar vir die hele parlement.”

Meer oor:  Kernkrag  |  Krag  |  Groenkrag  |  Departement Van Energie  |  Irp  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.