Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Herman Scholtz: ‘Spanners’ waai uit Eskom-kot

Eskom het nou hopelik geleer wat elke ouer al moes leer: ’n Vloermoer is g’n kinderspeletjies nie. Soveel te meer as hulle nie speelgoed nie maar spanners by die kot uitgooi.

Herman Scholtz

Dié naweek het Eskomwerkers iets om te vier. Nie net het hulle Eskom én by implikasie die hele land op hul knieë nie, maar die aanbod wat hulle nou oorweeg is selfs beter as wat die oorbetaalde staatsamptenare onlangs beding het.

Staatsamptenare het tussen 6% en 7% gekry met inflasie +1% in die volgende twee jare. Eskomwerkers besluit nog of hulle tevrede is met 7,5% onmiddellik en 7% in die volgende twee jaar.

Eskom se skouspelagtige ommeswaai van 0% tot 7,5% in weke kan gedeeltelik voor die deur van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gelê word.

Hy het ’n fundamentale flater in dissiplinering begaan: Pa kan nie vir ma ondermyn nie.

Gordhan is die een wat nuwe besems by Eskom ingebring het om drasties in te gryp. Hy het die gerespekteerde Jabu Mabuza en Phakamani Hadebe as onderskeidelik voorsitter en uitvoerende hoof aangestel. Hul opdrag was om moeilike besluite te neem.

Tot op hede het die publiek nog min lig in die Eskomtonnel gesien. En niemand het al die Eskombase van oordrewe waagmoed beskuldig nie.

Dit is waarom dit so verfrissend was toe Eskom ’n 0%-verhoging aangebied het. Reg of verkeerd, dit was die eerste teken van radikale verandering.

Wel, dit was totdat Gordhan “ingegryp” en Eskom beveel het om die aanbod terug te trek.

Hy het ’n roomys vir die vloermoer-kinders gekoop, maar nie net dit nie. Hy het in werklikheid die Eskombase wat hy aangestel het en wat ons moet vertrou, in die openbaar gekastreer. G’n wonder die onderhandelinge was sedertdien eintlik afpersing en kuikenmoord nie.

As Gordhan die Eskombase wou oorreed om toe te gee, kon hy dié gesprekke in die slaapkamer gehou het.

Twee weke gelede, toe vakbonde weer ongelukkig was met die Eskom-onderhandelaars, het hulle voorspelbaar weer na Gordhan toe gehardloop.

Dié keer sou niks minder as ’n dubbeldik borrelgom-melkskommel deug nie. En hulle het dit gekry.

Een vakbond het selfs gespog dat dié ronde sweerlik die kortste verdediging van ’n openingsaanbod was in die geskiedenis van kollektiewe bedinging.

Min werkgewers is in so ’n sterk bedingingsposisie soos waarin Eskom was:

  • Nie eens vakbondleiers kan dit veins dat hulle glo daar is versteekte winste by die werkgewer nie. Dit is gemeensaak dat Eskom op die rand van die afgrond staan en die hele ekonomie sal saamsleep. Beurtkrag weens sloerstakings en sabotasie is ongerieflik en sleg vir die ekonomie, maar nie naastenby so sleg soos ’n totale ineenstorting nie.
  • Eskomwerkers mag kragtens wet nie staak nie omdat hulle ’n noodsaaklike diens verrig. Boonop het Eskom ’n hofinterdik in die hand gehad om met werkers af te reken.
  • Dit is byna gemeensaak dat Eskom te veel werkers het. Die kragreus het in die laaste dekade 12 000 meer mense in diens geneem, maar wek dieselfde hoeveelheid krag op. Boonop het die maatskappy ’n monopolie op kragopwekking, wat dit moeiliker maak vir afgedankte werkers om êrens anders geholpe te raak.
  • Die sondes van Eskom kan nie die huidige base toegereken word nie. Hulle is die redders.
  • Inflasie is onder beheer.

As Eskom nie vanuit dié posisie kon hond haaraf maak nie, hoe gaan dit wees wanneer, of eerder indien, Eskom gestabiliseer is en weer winsgewend is?

Wees verseker dat Eskomwerkers wéér daarop gaan aandring om met pappa te praat wanneer mamma “nee” sê . . .

Mabuza het drie weke gelede toegegee dit was nie strategies om met ’n 0%-verhoging te begin nie. Wat anders kon hy sê sonder om Gordhan te weerspreek?

Ironies genoeg het Mabuza by dieselfde geleentheid gesê Eskom se probleme het baie te doen met historiese inmenging van politici.

Hy is natuurlik heeltemal korrek.

Maar dan sê hy in ’n dapper skyn van ’n verenigde front dat hy en Gordhan “baie duidelik” is oor wie watter verantwoordelikhede en magte het.

Vergewe ons, mnr. Mabuza, as ons jou nie glo nie.

Ons almal kan sien wie dra die broek in dáái huis.

  • Herman Scholtz is nuusredakteur van Rapport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.