Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hittegolf kan druk van beurtkrag vererger
hittegolf, weervoorspelling
Die son sak ná 'n warm dag Vrydag in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die hittegolf in Gauteng en ander dele van die land sal waarskynlik daartoe lei dat mense meer elektrisiteit verbruik, wat druk op Eskom se verskaffing, en dus die kans op beurtkrag, sal vergroot.

Gewoonlik is die vraag na krag oor naweke laer, maar die verwagting is dat die gebruik van veral lugversorgers tot groter druk sal lei, sê Dikatso Mothao, woordvoerder van Eskom.

Maksimum temperature van 33 °C word vir Saterdag voorspel vir Johannesburg en in Pretoria kan die kwik tot 35 °C styg.

Rugby en beurtkrag

Intussen is daar ook die groot rugby die naweek met die Springbokke wat Sondag teen Japan in ’n kwarteindstryd om die Wêreldbeker speel. En mense wonder of daar krag gaan wees.

Mothao kon egter nie waarborg dat Suid-Afrikaners die wedstryd sal kan sien sonder dat beurtkrag ’n stokkie daarvoor steek nie.

Hy het mense aangeraai om eerder voorbereid te wees op moontlike beurtkrag.

Matriekeksamen

Intussen het ’n woordvoerder van Angie Motshekga, minister van basies onderwys, gesê Eskom kan nie die versekering gee dat die matriekeksamen nie Maandag weer geraak sal word deur beurtkrag nie, maar die departement het planne gereed vir ingeval dit wel gebeur.

Hope Mokgatlhe het gesê Eskom het nie antwoorde nie, maar die departement het planne én daar is ander vraestelle indien dit nodig sou wees.

Die Gautengse departement van onderwys het Vrydag in ’n verklaring gesê net nege van die 1 224 matrieks wat Donderdag inligtingstegnologie moes skryf, kon uiteindelik nie die vraestel skryf weens beurtkrag nie. Dié leerlinge kry later weer ’n kans om die vraestel af te handel.

Kragkrisis 'gekaap'

Intussen het die DA in ’n brief aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gevra dat die raad van Eskom en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voor die komitee moet verskyn.

“Die verwarring en oneerlikheid kan nie langer geduld word nie. Die publiek het duidelike antwoorde van Eskom en die minister nodig oor wat presies aan die gang is.”

Maar die ANC het Donderdag gekap na die DA en sê dié party kaap die kragkrisis in die land vir eie belang.

“Dit het onder ons aandag gekom dat die party ’n aanlyn petisie versprei waarin mense gevra word vir steun vir sy sogenaamde plan om Eskom te red.” het die ANC in ’n verklaring gesê.

Meer oor:  Gauteng  |  Beurtkrag  |  Hittegolf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.