Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hoe ‘Hitler’ by Eskom nie geskors is nie
Matshela Koko, vorige waarnemende hoof van Eskom. Foto: Lihlumelo Toyana

Venete Klein, voormalige nie-uitvoerende direkteur van Eskom, het vroeër op ’n direksievergadering haar besorgdheid uitgespreek oor die “gemilitariseerde” manier waarop van die topbestuurslede bestuur word.

Dit het gegaan oor kritiek oor die manier waarop Matshela Koko, toe waarnemende hoof van Eskom, sy ondergeskiktes bestuur het. Eskom-bestuurders was bang hulle kan hul werk verloor.

Koko het glo agter sy rug die bynaam “Hitler” gehad, en het rooikaarte uitgedeel aan mense wat volgens hom foute begaan het.

Die opname van die vergadering wat in Maart vanjaar gehou is, is Dinsdag in die ondersoek na staatskaping by Eskom in die parlement teruggespeel.

Op die vergadering het ’n paar mense vertel hoe talle bestuurders aan hulle vertel het hulle is bang om uit te praat en die spanningsvlak is hoog.

Suzanne Daniels, regshoof van Eskom, het in die vergadering gesê Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het ’n lys van transaksies aan Eskom gestuur wat ondersoek moet word. Dit sluit in kontrakte wat nie volgens die korrekte tenderprosedures toegeken is nie, en onder meer ’n kontrak aan Impulse, ’n maatskappy waarin Koko se stiefdogter ’n belang gehad het.

Eskom-base in 2017

Vanjaar alleen het Eskom reeds vier base gehad:

  • Matshela Koko het waargeneem tot April;
  • Brian Molefe het in Mei teruggekeer na Eskom, maar is kort daarna weer weg;
  • Johnny Dladla is in Junie aangestel as waarnemende hoof;
  • In Oktober is hy vervang met Sean Maritz, steeds in ’n waarnemende posisie.

Impulse se kontrak is onder noodmaatreëls toegeken teen R49 miljoen, maar die kontrak het teen Januarie 2017 tot R93 miljoen gegroei.

Op die vergadering is bespreek of Koko geskors moet word en wie in sy plek moet waarneem totdat ’n voltydse hoof aangestel word.

Klein het gesê mense het vir haar gesê Brian Molefe moet weer aangestel word, want hy weet hoe om met mense te werk en ken die bedrywighede van Eskom.

Adv. Ntuthuzelo Vanara, getuienisleier in die ondersoek, het dit aan Klein gestel dat die mense op daardie vergadering reeds saamgestem het dat Koko geskors moes word. Klein het erken sy was nie ’n aanhanger van Koko nie.

Op die vergadering was onder andere dr. Ben Ngubane, voorsitter, Zethembe Khoza, en dr. Pat Naidoo, ander nie-uitvoerende direkteure van Eskom. Daar is reeds dieselfde dag ’n vergadering met Koko gereël. Volgens Klein is Koko nie reeds daardie dag geskors nie, want Koko het belowe om skriftelik aan Ngubane te antwoord waarom hy nie geskors behoort te word nie.

Vanara het dit aan Klein gestel dat die direkteure se houding deur die loop van daardie dag verander het, en Koko is toe nie geskors nie, al het hulle dit in die vergadering die oggend gesteun. Hy het verwys na getuienis van Khulani Qoma, ’n vorige woordvoerder van die Eskom-direksie, waarin hy gesê het Khoza het ná die vergadering een van die Gupta-broers gebel, wat op sy beurt vir Brown gebel het, waarna sy gebel het om te keer dat die direksie Koko skors.

Meer oor:  Hitler  |  Venete Klein  |  Matshela Koko  |  Brian Molefe  |  Staatskaping  |  Staatsondernemings  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.