Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hoë kragpryse: ‘Blameer die munisipaliteit’
An electricity pylon
Plaaslike rade se wins tot 80%, sê Eskom-baas oor hoë kragpryse. (iStock).

Munisipaliteite, en nie Eskom nie, is verantwoordelik vir Suid-Afrika se hemelhoë kragtariewe, sê Eskom se baas.

André de Ruyter het die afgelope week op ’n virtuele nuuskonferensie gesê munisipaliteite las tot 80% by die prys waarteen Eskom elektrisiteit verkoop. Meer as 40% van die land se kraggebruikers koop hul krag van munisipaliteite en dié vet winsgrens is die ware rede hoekom verbruikers meen kragpryse is te hoog, het hy gesê.

Kenners is dit met hom eens dat munisipale kragtariewe onder die vergrootglas moet kom, maar stem nie saam dat Eskom se tariewe relatief laag is, soos De Ruyter ook aanvoer nie.

De Ruyter se uitspraak volg teen die agtergrond van ’n besluit verlede week deur die elektrisiteitsreguleerder Nersa dat Eskom ’n bykomende R13 miljard uit kragtariewe mag verhaal. Nersa moet nog besluit wanneer dit sal gebeur en of die verhaling oor meer as een jaar versprei sal word.

Die Nersa-besluit maak ook die deur oop vir Eskom om ’n verdere spesiale tariefaansoek in te dien. De Ruyter het vandeesweek gesê Eskom is nog besig om die besluit te bedink, maar Rapport verneem van bronne in Eskom dat dit waarskynlik sal voortgaan.

Die R13 miljard is aan Eskom toegeken kragtens die aansuiweringsmeganisme (RCA), ingevolge waarvan Nersa Eskom se toegelate inkomste terugwerkend kan aanpas as die aannames waarop die aanvanklike bedrag gegrond is, anders realiseer as wat voorsien is.

Eskom het aansoek gedoen om ’n bykomende R27 miljard met betrekking tot die 2018-’19-tariefjaar, maar net omtrent die helfte gekry.

Eskom het aansoek gedoen om ’n bykomende R27 miljard met betrekking tot die 2018-’19-tariefjaar, maar net omtrent die helfte gekry.

Die kinkel in die kabel is dat regter Jody Kollapen in Maart beslis het dat Nersa se aanvanklike tariefbesluit vir die tydperk onregmatig was. Hy het dit tersyde gestel en beveel dat Eskom, ná die aansuiweringsaansoek wat toe reeds aan die gang was, ’n aanvullende tariefaansoek mag indien as hy reken die aansuiweringstoekenning vergoed steeds nie vir sy verlies weens die onregmatige besluit nie.

Rapport verneem Eskom gaan waarskynlik die geleentheid benut om veral Nersa se hantering van sy steenkoolkoste en bedryfskoste te betwis.

Intussen moet Nersa begin om munisipaliteite se aansoeke om nuwe kragtariewe, wat op 1 Julie in werking tree, te verwerk te midde van die ontwrigting van munisipale begrotingsprosesse weens die landwye Covid-19-inperking.

Baie munisipaliteite begin nou eers met openbare deelname oor hul voorgestelde begrotings, kragtariewe ingesluit. Dit gebeur gewoonlik einde Maart en is normaalweg nou al afgehandel.

Die riglyn wat Nersa verskaf, is dat tariewe gemiddeld met nie meer nie as 6,22% styg, met ’n bruto winsgrens van 60% en ’n netto winsgrens van 15%.

Kragverliese moet tot 10% beperk word en die invorderingskoers vir betalings vir kragverkope moet minstens 95% wees. Aansoeke wat die 6,22%-riglyn oorskry, sal deeglik gemotiveer moet wees. Nersa het planne wat hy aanvanklik gehad het om munisipale tariewe vanjaar nader aan Eskom se kleinhandeltariewe te dwing, vir eers laat vaar.

David Mertens van die Nelson Mandelabaai-sakekamer sê Eskom se tariewe én dié van munisipaliteite raak onbekostigbaar. Hy meen Nersa het beheer verloor oor munisipale kragta-riewe en gee nie naastenby ge-noeg aandag aan dié tarief-aansoeke nie. Hy wys daarop dat min munisipaliteite kostestudies gedoen het en dus nie weet wat kraglewering hulle werklik kos nie; munisipale kragverspreiders se doeltreffendheid word nie behoorlik getoets nie en die finansiële inligting waarop hul aansoeke gegrond is, is dikwels gebrekkig of foutief.

Mertens sê minstens 20% van die krag wat munisipaliteite verkoop, is aan klein- en middelslagondernemings.

“Die hele motorvervaardigingsbedryf is afhanklik van munisipale kragverspreiders,” sê hy en voeg by munisipale tariewe vir nywerhede en ondernemings word gelaai met subsidies vir ander munisipale dienste en residensiële verbruikers en boonop opgejaag deur ondoeltreffendheid op munisipale vlak.

Morné Mostert, hoof van munisipale sake by AfriForum, meen ook Eskom én munisipaliteite moet pa staan vir hoë kragtariewe. Hy sê Nersa keur munisipale tariewe goed sonder behoorlike kostestudies.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Andre De Ruyter  |  Elektrisiteit  |  Staatsonderneming  |  Kragtariewe  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.