Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hoe minder krag jy verbruik, hoe erger raak verhoging jou

Talle inwoners in die Pretoria-omgewing moet hulle regmaak vir ’n verhoging van meer as 80% op hul elektrisiteitsrekening wanneer die stad se nuwe kragtariewe volgende maand in werking tree.

Volgens die nuwe tariewe word arm en laer-middelklas-huisgesinne veel harder gestraf weens ’n verandering in die tariefstrukture.

Boonop het Stevens Mokgalapa, burgemeester, nie ’n woord oor dié buitensporige verhogings in sy begrotingstoespraak gerep nie – buiten om te sê die stad se inkomste uit kragverkope gaan met 12% styg. Dit is minder as die nasionale energiereguleerder Nersa se riglyn vir ’n tariefverhoging van 13,07%.

Dis egter die klein jakkalsies wat die wingerde verniel. Strukturele veranderinge aan die tariefstruktuur gaan drastiese gevolge inhou vir veral kleiner verbruikers (tipies mense wat in deeltitelwoonstelle bly). Syfers toon dat hul rekeninge met soveel soos 80% kan styg.

Dis mal, die armste mense word die hardste geslaan.

Tot dusver is elektrisiteitspryse vir enkelfase- residensiële verbruikers in vier kategorieë ingedeel wat beteken het dat verbruikers wat minder krag gebruik, minder betaal. Die eerste 100 kWh per maand kos tans 141,78c, die tweede blok van 101 – 400 kWh kos 165,92c, 401 – 650 kWh kos 180,77c en vir alles meer as 650 kWh betaal jy 194,88c.

Die raad het egter nou ’n heel nuwe struktuur goedgekeur. In die eerste plek is daar ’n basiese tarief van R200 per maand wat jy moet betaal, selfs al verbruik jy geen elektrisiteit nie. Verder is die tariefblokke verminder tot slegs twee: vir verbruik onder 650 kWh en een daarbo. Die prysvoordeel vir klein verbruikers verdwyn dus heeltemal. Boonop is daar verskillende tariewe vir die winter (Junie tot Augustus) en somer (September tot Mei).

Van volgende maand af gaan die eerste 650 kWh 182,32c per kWh kos. Vir alles meer as 650 kWh gaan jy voortaan 220c per kWh opdok. (In die somer is die tariewe onderskeidelik 152c en 197c).

Eric Bott, direkteur van Energy Measurement Consulting en kenner van kragtariewe, sê kleiner verbruikers gaan die spit moet afbyt omdat hulle die swaarste getref word deur die konsolidasie van die onderste drie tariefblokke.

“Dis mal, die armste mense word die hardste geslaan,” sê hy.

Mense wat in woonstelle en dorpshuise woon, verbruik gemiddeld 450 kWh per maand. Volgens Rapport se berekeninge gaan verbruikers wat 200 kWh per maand gebruik se kragkoste op 1 Julie (saam met die R200 “basistarief”) styg van R307,70 tot R564,64. Dit is ’n styging van meer as 80% en boonop nog voordat BTW bygereken word.

’n Verbruiker wat 450 kWh per maand gebruik, se koste gaan met sowat 40% toeneem (van R730 tot R1 020) en ’n kragvraat wat 800 kWh per maand verbruik, gaan R1 715,08 betaal, ’n styging van 23%.

Bott sê die bloktariewe is aanvanklik onder leiding van Nersa ingestel in ’n poging om verbruikers aan te moedig om krag te bespaar. Hoe meer jy verbruik, hoe erger moet jy hoes.

Deesdae hef al hoe meer munisipaliteite ’n basiese aanvangstarief om te vergoed vir die verlies aan kragverkope omdat verbruik daal, onder meer weens gebruikers wat oorslaan na alternatiewe, soos sonpanele. Tshwane se aanvangstarief van R200 is, volgens hom, egter baie hoog.  

Hy sê dit is nie ongewoon dat verbruikers die keuse gebied word om verskillende tariewe te betaal in die somer en winter nie. Dit is egter ongehoord om dit af te dwing op klein, residensiële gebruikers, sê hy.

Bott sê Tshwane se tariewe moet nog deur Nersa goedgekeur word en verbruikers se enigste hoop is dat die reguleerder vir hulle in die bres sal tree en die tariewe na die stad terugverwys om dit te hersien.

Die stad het glad nie op navrae oor die kwessie gereageer nie.

Meer oor:  Tshwane  |  Elektrisiteitstariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.