Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hoekom is daar nie beurtkrag nie?

Dis nou al 22 dae wat die ligte dag en nag aan is in ’n tydperk wat Eskom aanvanklik geraam het daar gereelde beurtkrag sou wees. Nie dat ons nou spoke wil opjaag nie, maar waarom is daar krag?   

Eskom se Medupi-kragstasie in Limpopo. Foto: Getty Images

’n Ontleding van Eskom se data wys dat die kragreus vir die eerste keer in ’n baie lang tyd meer as 30 000 megawatt (MW) se krag kon opwek vir die afgelope paar weke.

Sy opwekkingsvermoë het noemenswaardig gestyg sedert beurtkrag sowat drie weke gelede getref het.

En Eskom kry dit reg sonder sy rugsteun-stelsels, soos sy oopsiklus-gasturbines, wat diesel brand om die ligte aan te hou wanneer Eskom se kragstasies nie kan bybly nie.

Langtermyn-instandhouding werk

Die hoofrede vir Eskom se prestasie die afgelope ruk is die beduidende verbetering in die betroubaarheid van sy steenkoolkragstasies die afgelope drie weke.

Waar onbeplande instandhouding weens foute by dié kragstasies gelei het daartoe dat tot 15 000 MW se opwekkingsvermoë onbeskikbaar was tydens beurtkrag, is dié syfer Vrydag minder as 11 000 MW, volgens Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom.

Die verbetering van sowat 4 000 MW beteken dat meer eenhede by Eskom se steenkoolkragstasies nou krag opwek as aan die begin van Februarie.

Volgens Mantshantsha is dit deels te danke aan Eskom se langtermyn-instandhoudingsprojek om stasies se betroubaarheid te verhoog wat in Julie 2020 van stapel gestuur is.

Die projek het heelwat eenhede van die netwerk afgehaal om sogenaamde “diep herstelwerk” te doen, pleks van net pleisters te plak op probleme vir ’n kort rukkie.

Dis ’n lang proses wat nog nie klaar is nie, maar Mantshantsha sê dit begin nou vrugte afwerp.

Einde van beurtkrag voorsien

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: News24

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het in Februarie op ’n mediakonferensie van die Vryemarkstigting (FMF) gesê die eerste fase van die langtermyn-instandhoudingsprojek sal teen April voltooi word.

Dit beteken dat die kans op beurtkrag vanaf April “noemenswaardig” sal begin afneem.

Teen September hoop Eskom om klaar te wees met die langtermyn-instandhoudingsprojek. Daarna sal die kans op beurtkrag “beduidend” verminder, volgens De Ruyter.

Mantshantsha skryf egter nie alles toe aan die projek nie. Die kragstasies is ook maar net tans besig om beter as verwag te presteer.

Die bewyse lê daarin dat dit nie nodig is om die gasturbines te gebruik nie.

Dié peperduur opwekkers brand tot R10 miljoen se diesel per uur wanneer almal ingespan word.

Waar diesel die ligte aangehou het in die tyd voor en gedurende pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede op 11 Februarie, het Eskom slegs een keer in die afgelope nege dae sy gasturbines gebruik.

Volgens Mantshantsha moes Eskom Donderdagaand nege gasturbines vir sowat ’n uur tydens spitstyd inspan om aan die vraag na krag te voldoen.

Vraag na krag ook laer

Die totale vraag na krag in die land beloop tans sowat 28 000 MW teen spitstyd.

Dit is 2 000 MW minder as die gemiddeld van 2019. Die hoofrede hiervoor is die ekonomiese agteruitgang van die land wat tot die afskaling van baie ekonomiese aktiwiteit gelei het.

Eskom het dus sonder die gasturbines vir die eerste keer in maande ’n surplus opwekkingsvermoë van sowat 2 000 MW.

Dis ’n aansienlike verbetering teenoor wat die kragreus vantevore geskat het vir die week.

Volgens Eskom se vooruitskattings, wat maande vooruit gedoen word, sou hy vandeesweek (en vir nog drie weke hierna) ’n tekort van meer as 2 000 MW gehad het.

Die onverwagte verbetering in die prestasie van sy steenkoolkragstasies beteken hy kan eindelik nou sy beplande instandhoudingswerk versnel en terselfdertyd aan die vraag na krag voldoen.

Meer oor:  Eskom  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.