Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hoër petrolprys tref swaar - al werk jy van huis af

’n Kannetjie petrol vir jou geliefde: Dis blykbaar die kosbaarste geskenk wat ’n verliefde jong man nou aan ’n meisie kan gee om sy liefde te verklaar.

Kos en ander produkte word alles duurder omdat brandstofpryse styg.

So lui ’n grappie op Facebook nadat die prys vir 95 oktaan-petrol in Gauteng met R1 tot R17,32 per liter gestyg het. Aan die kus kos dit van Woensdag R16,61 (99c per liter duurder).

Dié rekordprys beteken dit kos nou R3,36 per liter meer as in April 2019. ’n Jaar gelede het dit net minder as R700 gekos om ’n 50 liter-petroltenk te vul, teenoor R866 nou.

Dr. Christie Viljoen, ’n ekonoom van PwC, sê 72c uit die R1-styging word toegeskryf aan ’n hoër olieprys en ’n swakker rand, maar die res is weens die styging in die algemene brandstof- en Padongelukfonds (POF)-heffings (van onderskeidelik 16c en 11c per liter).

Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê die prys van Brent-ruolie was in April 6,7% hoër op ’n maandgrondslag op gemiddeld $64 per vat, terwyl die rand 1,3% swakker was teenoor die Amerikaanse dollar.

Sowat R6 (35%) van die prys van elke liter brandstof wat jy koop, gaan nou aan die algemene brandstof- en POF-heffings, sê die Automobiel-Assosiasie (AA).

Volgens die Sentrale Energiefonds maak die algemene brandstofheffing nou R3,93 uit van die prys per liter petrol en die POF-heffing R2,18 per liter.

BusinessTech het bereken tot R313 gaan dus aan belasting elke keer as jy jou voertuig met brandstof volmaak.

Volgens die jongste beskikbare syfers van die departement van minerale bronne en energie is sowat 11% minder diesel en 22% minder petrol in die eerste drie kwartale van 2020 verkoop as in die ooreenstemmende tyd in 2019.

Vishal Premlall, nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Petroleum-kleinhandelaarsvereniging (Sapra), sê ’n opname vroeg in November onder hul lede wys 80% van brandstofkleinhandelaars het in Maart 2020 minder uit brandstof gemaak as in Maart 2019. Meer as die helfte het dalings van meer as 20% ervaar.

Bedrywighede is geraak deur minder verkeer weens die inperkings, maar mense wat van die huis werk is iets wat nog lank ’n invloed gaan hê, sê Premlall.

Selfs al werk jy van die huis af, raak dit nou duurder om kos en ander artikels wat jy aanlyn bestel, by jou te laat aflewer.
Dr. Christie Viljoen, ekonoom

Sowat 50% van permanente werknemers by Sapra-lede is gevra om minder ure te werk en 20% om hul jaarlikse verlof tydens die streng inperking te neem. Min permanente werkers is afgelê, maar sowat 10% deeltydse personeel is wel afgelê weens Covid-19-verwante redes.

Volgens Viljoen maak brandstof sowat 5% van die inflasiemandjie uit. Enige styging in die prys raak alle Suid-Afrikaners.

“Selfs al werk jy van die huis af, raak dit nou duurder om kos en ander artikels wat jy aanlyn bestel, by jou te laat aflewer.”

Die stygings sal eers oor ’n paar maande in hoër produkpryse weerspieël word, maar volgens hom is kleinhandelaars onder druk omdat hulle groot prysstygings nie net so aan sukkelende verbruikers kan deurgee nie.

Hy verwag nie onmiddellike rentekoersverhogings weens die inflasionêre impak van hoër brandstofpryse nie omdat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se model toon inflasie behoort gemaklik binne die teikenband van tussen 3% en 6% te bly.

Makube sê die duurder brandstof val ongelukkig saam met die begin van die planttyd vir wintergewasse en oestyd vir somergewasse. Buiten dat die prysverhoging boere se insetkoste sal verhoog, sal dit ’n impak hê op plant- en oes-aktiwiteite en die verspreiding en verpakking van landbouprodukte.

Graanprodusente en logistieke maatskappye in die landbou-waardeketting vervoer sowat 80% van graan per pad, sê hy.

Kenners verwag Brent-ruolie sal tussen $62 en $65 per vat stabiliseer. Hoewel die rand taamlik sterk is (Vrydag: R14,58), neig die geldeenheid swakker, wat enige daling in die olieprys sal teëwerk wat in die toekoms tot laer plaaslike brandstofpryse kon lei.

Bloomberg berig die olieprys was Vrydag laer weens ’n toename in Covid-19-gevalle in Indië, wat die vraag na olie kan demp. Indië is die wêreld se derde grootste olie-invoerder. Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy bondgenote beplan om in die volgende paar maande ’n bykomende 2 miljoen vate per dag te produseer.

Die brandstofprysstyging is ’n dubbele slag vir verbruikers wat nou ook gemiddeld 15% meer vir elektrisiteit betaal.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.