Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Hulpbronplan het te hoog gemik met Eskom
Kragdrage soos die wat Eskom gebruik. Foto: Unsplash

Die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) is bereken op ’n aanname dat kragpryse reeds 22,5% duurder is as nou.

Dít beteken dat tariewe skerp sal moet styg om die plan tot uitvoering te bring en ’n voortdurende kragtekort te voorkom.

Die IRP, wat verlede week ná ’n lang vertraging bekend gestel is, bepaal wanneer en hoeveel van watter soort kragopwekkingsvermoë die land in bedryf moet stel om tot 2030 in die vraag na elektrisiteit te voorsien.

Dit dui ook aan hoe kragtariewe oor die volgende tien jaar moet beweeg om dié plan te finansier.

Al die scenario’s vir kragpryse in die IRP begin met die aanname dat kragtariewe tans sowat 130c/kWh is, terwyl die gemiddelde kragtarief eintlik 89c/kWh is.

Dít beteken Suid-Afrikaners sal hulle moet staal vir groot verhogings op lang termyn om die IRP-planne te laat uitwerk.

En die finansieringsplan berus op die aanname dat kragtariewe reeds verlede jaar die volle koste van Eskom se bedrywighede, uitgesluit vermorsing en korrupsie, sou weerspieël.

Dít is volgens bronne in Eskom minstens 125c/kWh – aansienlik meer as wat verbruikers tans betaal.

Die hofaansoeke wat Eskom aangekondig het om die energiereguleerder (Nersa) se tariefbepalings aan te vat, het juis ten doel om volgende jaar en die jaar daarna tariefverhogings van 16% af te dwing wat Eskom glo dit in pas sal bring met sy doeltreffende koste.

As Eskom se dringende aansoek slaag om die R69 miljard se regeringshulp wat Nersa van sy toegelate inkomste afgetrek het deur hoër tariewe van verbruikers te verhaal, sal die gemiddelde tarief volgende jaar 119 c/kWh beloop, en 139 c/kWh in die jaar daarna.

Die regering se IRP is egter baie optimisties oor hoeveel geld Eskom gaan verdien uit kragverkope, en ignoreer oënskynlik dat Nersa baie snoep was met Eskom toe hy in Maart vanjaar kragtariewe tot 2021-’22 vasgestel het.

Die regering se IRP is egter baie optimisties oor hoeveel geld Eskom gaan verdien uit kragverkope.

Eskom het gevra vir verhogings van meer as 15% per jaar vir drie agtereenvolgende jare, maar Nersa het net 9,41%, 8,10% en 5,22% toegestaan.

Tydens openbare verhore laat verlede jaar oor Eskom se driejaar-tariefaansoek het die kragreus aangetoon die Wêreldbank en kredietgraderingsagentskappe het ook aangedui sy kragtariewe is te laag om volhoubaar sake te doen.

Dít word nou deur die pryspad in die IRP ondersteun, maar dit beteken ook drastiese verhogings sal nodig wees om hoegenaamd op die vlak te kom waar die plan uitgevoer kan word.

Oor die beswaar dat nog hoër kragtariewe die ekonomie verder sal doodsmoor en die vraag na elektrisiteit en dus Eskom se verkope sal onderdruk, sê Eskom groepe verbruikers wat werklik kwesbaar is, kan deur die regering met spesifieke maatreëls gehelp word. Arm huishoudings kry reeds gratis basiese elektrisiteit en die tariefstruktuur bevoordeel diegene wat klein volumes gebruik.

Nie alle nywerhede word ewe sleg getref as kragtariewe styg nie en maatreëls soos tariefverlagings op kort termyn of selfs belastingtoegewings kan ingespan word in verdienstelike of strategiese gevalle.

Eskom het byvoorbeeld al met Nersa se toestemming spesiale ooreenkomste met byvoorbeeld Silicon Smelters en Sublime Technologies aangegaan om vir ’n beperkte tydperk laer tariewe te hef ten einde die maatskappye van ondergang te red en werksgeleenthede te behou.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Staatsondernemings  |  Irp  |  Hulpbronplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.