Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Idees welkom oor Eskom-krisis
electricity,eskom,energy,power lines
Eskom sê enige idees oor hoe om sy krisis op te los, is welkom.

Enige idees oor hoe Eskom sy geldkrisis kan oplos, is welkom, het Jackson Mthembu, minister in die kantoor van die presidensie, Donderdag gesê.

Hy is op ’n mediakonferensie ná Woensdag se kabinetsvergadering gevra hoekom Tito Mboweni, minister van finansies, nie in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk met ’n plan vir Eskom se skuld vorendag gekom het nie.

Dit kom nadat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, vroeër met die bekendmaking van die herstruktureringsplan vir Eskom gesê het Mboweni sal in sy mediumtermynbegrotingsrede meer sê oor staatsteun vir Eskom se skuldlas.

Waarnemers het verwag die staat sal ’n deel van Eskom se skuld oorneem, maar pleks daarvan het Mboweni gesê die staat sal Eskom eers met sy skuld help as hy gevorder het met sy ontbondeling. Die regering gaan volgens Mboweni ook nie meer bloot kontant in Eskom stort nie, maar gaan dit in die vorm van lenings gee wat Eskom moet terugbetaal.

Mthembu sê die beleidsdokumente oor Eskom is oop vir kommentaar en kundige Suid-Afrikaners is welkom om ingeligte kommentaar daarop te lewer.

Hy is gevra hoe die regering ooit die staat se salarisrekening kan verklein as die vakbonde gedurig teen enige verandering vasskop.

Mthembu het bloot gesê Mboweni is in beheer van die staatsfinansies en het verskeie opsies tot sy beskikking.

Hy het bevestig die kabinet het die plan vir die herstrukturering van Eskom goedgekeur.

“As ons nie openbare besteding hokslaan nie, is ons in tamatiestraat,” het Mthembu gewaarsku.

Die kabinet het die mediumtermynbegrotingsraamwerk verwelkom.

Beleggings in Afrika onder die loep

Die tweede beleggingskonferensie wat van 5 tot 7 November gehou word, word opgevolg deur die Afrika-beleggingsforum van 11 tot 13 November waar beleggings in Afrika as geheel bespreek sal word, het Mthembu gesê.

Die eerste beleggingskonferensie verlede jaar het R200 miljard se nuwe beleggings gelok, insluitend die internasionale myngroep Vedanta se belegging in ’n nuwe smelter, die internetreus Amazon wat ’n wolkrekenaarsentrum in Suid-Afrika vestig, Aspen Pharmacare wat steriele narkosemiddels gaan vervaardig, en die Rwandese tegnologiefirma Mara Corporation wat slimfone in Suid-Afrika wil vervaardig. Meer as 1 500 afgevaardigdes word verwag en baie van hulle het reeds in die land aangekom, het Mthembu gesê.

Adj.pres. David Mabuza is in China vir ’n Suid-Afrikaans-Chinese binasionale kommissie om beter handelsbande tussen die twee lande te bevorder.

SA Toerisme het ’n tweejaarlikse ooreenkoms met die Chinese internetreus Tencent gesluit vir die bemarking van Suid-Afrika as toeristebestemming. Tencent besit die platform wat toerismegeleenthede aan Chinese bemark.

Dit sal help om die getal buitelandse toeriste na Suid-Afrika van 10,4 miljoen tans tot 21 miljoen toeriste teen 2030 te verhoog, het Mthembu gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.