Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
IEA: Stop eksplorasie en red aarde

Hou dadelik op soek na nuwe olie- en gasbronne, is die radikale boodskap in die Internasionale Energieagentskap (IEA) se jongste verslag.

Dr. Fatih Birol, uitvoerende direkteur van die Internasionale Energieagentskap.

Om klimaatsverandering te keer en te sorg dat die wêreld teen 2050 niks meer kweekhuisgasse vrystel as wat hy absorbeer nie, moet enige nuwe beleggings in die ontwikkeling van nuwe fossielbrandstofprojekte onmiddellik van vandag af gestaak word, is die IEA se aanbeveling.

Sy verslag oor die padkaart na koolstofneutraliteit teen 2050 is vandeesweek met skok en verbasing in die oliebedryf ontvang.

Steenkool

Die IEA meen ook geen nuwe belegging behoort van vandag af in enige nuwe steenkoolkragstasies gemaak te word wat nie skoonsteenkooltegnologie insluit nie.

Dr. Fatih Birol, uitvoerende direkteur van die IEA, gee toe dit is dalk die enkele grootste uitdaging wat die mensdom ooit moes aanpak, en die doelwit daarvan is formidabel.

Klaar met binnebrandenjins

Dit sluit ook in dat daar teen 2035 nie meer enige nuwe passasiersmotors verkoop word wat binnebrandenjins gebruik nie, en dat die internasionale elektrisiteitsbedryf teen 2040 reeds koolstofneutraal is.

Die omgewingsdinkskrum 350.org sê die nuwe IEA-verslag is merkwaardig omdat die IEA as ’n relatief konserwatiewe organisasie beskou word wat in die verlede die potensiaal van hernubare energie gereeld onderspeel het. “Die IEA was in die verlede altyd traag om die fossielbrandstofbedryf vas te vat. Wanneer dié konserwatiewe organisasie eis vir die einde van fossielbrandstof, is dit regtig tyd vir regerings om hul retoriek te laat vaar en aan die werk te spring om hul steun aan besoedelende maatskappye te sny,” het Anna Vickerstaff van 350.org se Britse kantoor gesê.

Oliebedryf ly aan bomskok

Tom Kool, redakteur van die oliebedryfnuusbrief Oil.com, beskryf die IEA se verslag as ’n bom wat gelos is. Dat die IEA vra vir ’n einde aan eksplorasie vir enige nuwe olie en gas, is ’n dramatiese skuif, skryf Kool in die nuusbrief.

Hy meen dit kan ontleders se waarskuwing oor ’n moontlike verskaffingstekort in die volgende jare laat realiseer. Die groot oliereuse het reeds hul kapitaalbesteding kwaai gesny, en die al hoe strenger beleidsrigtings oor klimaatsveranderings dwing hulle om hul groeiplanne af te skaal.

Die IEA word as die voorste internasionale energiekenner beskou, met talle regerings wat sy modellering en gevolgtrekkings in beleidsbesluite gebruik.

Groenes juig

Die Amerikaanse omgewingsgroep As You Sow meen die IEA se benadering kom nou uiteindelik in pas met beleggers se verwagtinge, met ’n duidelike boodskap aan fossielbrandstofmaatskappye dat hulle duidelike strategieë vir die oorgang na ’n laekoolstofekonomie in plek moet kry. Daniel Stewart, senior navorsingsgenoot by As You Sow, sê die IEA se navorsing is tot dusver gebruik om die risiko’s vir die fossielbrandstofbedryf as minder ernstig af te maak. “Maar sy nuwe scenario bevestig wat beleggers reeds weet oor die stappe wat nodig is om klimaatsverandering teen 2050 te laat stabiliseer.”

Kernkrag

Terwyl die IEA in sy verslag al hoe meer beleggings in hernubare energie soos wind- en sonkrag voorskryf, het die Wêreld-Kernkragvereniging op sy beurt aangevoer die IEA plaas te veel geloof in tegnologie wat “onseker, ongetoets of onbetroubaar” is. Die vereniging juig wel dat die IEA sê kernkrag sal ’n wesenlike bydrae maak tot koolstofneutraliteit teen 2050. Die IEA-verslag meen kernkrag se bydrae tot kragopwekking sal teen 2030 met 40% moet groei en teen 2050 moet verdubbel. As besluite hieroor egter nie betyds gemaak word nie, kan dit die koste van die padkaart na koolstofneutraliteit verhoog.

Meer oor:  Iea  |  Klimaatsverandering  |  Kernkrag  |  Olie  |  Gas  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.