Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Inenting: Sasol sal wel goedkoper toets aanvaar

Sasol sal wel die goedkoper antigeen-toets aanvaar van werknemers wat in September op sy Secunda-perseel moet wees vir die jaarlikse instandhoudingsprojek.

’n Vroeëre foto van Sasol se aanleg in Secunda, Mpumalanga. Foto: Leon Sadiki

Sasol het Donderdag in antwoord op vrae van Netwerk24 bevestig hy sal ook dié toets aanvaar en nie nét die polimerase-kettingreaksietoets (PCR) nie.

Albei toetse meet aktiewe Covid-19-infeksies.

Die antigeen-toets, waarvan die uitslag binne 15 minute beskikbaar is, kos R350, terwyl die PCR-laboratoriumtoets, waarvan die uitslag tot twee dae kan duur, R850 kos.

Beswaarmakers teen Sasol se vereiste dat mense wat nie ingeënt is nie, hulself elke sewe dae laat toets vir die maand wat die projek duur, het aangevoer Sasol vereis die PCR-toets en dat hulle dus R3 400 sou moes opdok. Met die antigeen-toets sal dit R1 400 kos.

Sasol het bygevoeg dat hy die koste van die toetse ondersoek en maniere oorweeg om werkers met die ekstra uitgawe tegemoet te kom.

Die streng reëls van Sasol het ’n storm ontketen onder veral mense wat erg gekant is teen die Covid-19-inenting. Die vakbond Solidariteit vergader ook Donderdag met Sasol-bestuur in Secunda om die saak te bespreek. Solidariteit voer aan dit is irrasioneel van Sasol om van werkers te verwag om negatiewe toetsuitslae te wys as 93% van die land se bevolking nog nie eens ingeënt is nie.

Sasol verduidelik hy verwag byna 20 000 mense op die perseel tydens die instandhouding. Hy moet hou by die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, en moet so ver as prakties moontlik ’n veilige werkomgewing verskaf, sê Matebello Motloung, senior spesialis van mediaverhoudinge.

Sasol se risiko-ontleding het gewys die instandhoudingsprojek is ’n hoërisiko-geleentheid vir moontlike Covid-19-verspreiding en daarom gaan hy werkers verplig om die Covid-19-inenting te kry of om bewys te lewer van ’n negatiewe toets.

Sasol het bevestig dit is individue se keuse om ingeënt te word of nie, en sê die keuse moet uitgeoefen word met inagneming van individuele regte en sonder vrees vir diskriminasie.

Meer oor:  Sasol  |  Secunda  |  Koronavirus  |  Chemikalieë  |  Gedwonge Inentings  |  Pandemie  |  Inentings  |  Brandstof  |  Verpligte Inenting  |  Covid-19  |  Sasol-Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.