Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Inperking hou níks goeie nuus vir Eskom in

Eskom kan tot R4 miljard se inkomste uit kragverkope inboet tydens die huidige staat van inperking nadat die vraag na elektrisiteit Donderdag, kort voor die begin van die inperking, met sowat 6 000 MW gedaal het.

Beurtkrag is vir eers iets van die verlede omdat die vraag na krag dramaties gedaal het. Foto: Getty Images

Boonop maak die verlaging dit moeiliker, en nie makliker nie, om die kragnetwerk te bestuur en stabiel te hou.

Eskom het boonop besluit om nie die geleentheid wat die verminderde kragverbruik skep te gebruik vir broodnodige grootskaalse instandhoudingswerk aan sy flentervloot van steenkool-kragstasies nie omdat hy die getalle van werknemers en kontrakteurs op al sy persele tot die minimum probeer beperk. Dis in navolging van pres. Cyril Ramaphosa se stappe om die verspreiding van die Covid-19-pandemie te beperk.

Korttermyn-instandhoudingswerk en herstelwerk aan die netwerk sal wel gedoen word.

Eskom het Donderdag bekend gemaak dat die vraag na elektrisiteit reeds op die vooraand van die landwye inperking met 6 000 MW gedaal het omdat myne hul bedrywighede ingekort het en fabrieke en ondernemings gesluit het.

Volgens Piet van Staden van die energie-intensiewe verbruikersgroep (EIUG) kan die inkrimping styg tot 8 000 MW of 26% van die gewone aanvraag van byna 30 000 MW.

Van Staden sê om bedrywighede tot so ’n mate af te skaal bemoeilik die bestuur van die kragstelsel en die afwesigheid van die groot gebruikers lei tot ’n baie lae verbruik snags, wat dit nog moeiliker maak om die stelsel stabiel te hou.

Volgens Eskom het hy Donderdag begin om van sy opwekkingseenhede af te skakel, maar indien nodig kan hulle vinnig weer in bedryf gestel word.

Van Staden sê Eskom is kontraktueel verplig om te betaal vir die krag wat hy ooreengekom het om van hernubare bronne te koop, of hy dit gebruik of nie. Daar is dus geen besparing as hy nie die krag wat hulle lewer, opneem nie.

Rapport verneem Eskom se interne berekeninge wys sy verlies aan inkomste weens die inperking kan R4 miljard beloop.

Eskom sal mooi moet beplan vir die terugkeer van groot gebruikers. Dit sal geleidelik moet geskied om die stabiliteit van die netwerk te verseker.

9 116 MW van Eskom se sowat 46 000 MW se opwekkingsvermoë was Donderdag uit diens weens kragstasies wat onverwags onklaar geraak het en 5 279 MW weens beplande instandhoudingswerk.

Eskom se kritieke werkers en verskaffers is vrygestel van die inperkingsmaatreëls en die kragverskaffer sê hy verwag nie dat dit sy vermoë om krag te lewer sal beperk nie.

Meer oor:  Eskom  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.