Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Is Medupi regtig klaar of is dit net op papier?

Eskom het Maandag aangekondig bouwerk aan die Medupi-steenkoolkragsentrale naby Lephalale in Limpopo is klaar, want daar is aan alle statutêre, veiligheids- en wetsvereistes voldoen.

’n Silhoeët van die Medupi-kragstasie in Limpopo toe dit nog onder konstruksie was.

Daar is egter nog uitgebreide herstelwerk wat oor die volgende 24 maande aan die kragsentrale gedoen moet word omdat dit steeds nie teen sy maksimum vermoë krag lewer nie. Nog belangriker is dat daar nog tegnologie geïnstalleer moet word om swaeldioksiedvrystellings te verminder.

Die energie-ontleder Chris Yelland dink Maandag se aankondiging was ’n voortydige papieroefening gegewe die omvangryke herstelwerk wat nog gedoen moet word weens die verkeerde of swak ontwerp van die kragsentrale se stoomketels, tesame met die installering van die ontswaelingstoerusting sodat die kragsentrale aan nasionale luggehaltestandaarde kan voldoen.

“Dit is nog nie afgehandel nie. Daar is aansienlike werk wat nog gedoen moet word. Dit lewer nie krag teen die regte energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) nie,” sê Yelland.

Die EAF meet die hoeveelheid elektrisiteit wat deur die loop van ’n jaar aan die kragnetwerk gelewer word. As die aanleg regdeur die jaar in bedryf is, is die EAF in teorie 100%. Gegewe die nodige instandhoudingswerk sal die EAF egter nagenoeg 85% tot 90% wees, verduidelik Yelland.

Maar Medupi lewer nog nie naastenby die hoeveelheid krag waarvoor dit ontwerp is nie. Die bouprojek, wat in 2007 begin het, is deur erge koste- en tydoorskrydings gekenmerk. Omdat die optimale EAF nie gelewer word nie, impliseer dit dat die koste per eenheid energie wat gelewer word hoër is as wat dit behoort te wees.

Eskom verwag die ontswaelingstoerusting sal eers teen 2030 klaar geïnstalleer wees. Die installasie daarvan is deel van die voorwaardes wat die Wêreldbank gestel het vir ’n lening van $3,75 miljard wat hy aan Eskom toegestaan het. Deel van die lening is gebruik om Medupi te bou.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het in Maart gesê die ontswaelingsprojek sal R40 miljard kos.

In 2019 het Eskom aansoek gedoen om van die minimum vrystellingstandaarde kwytgeskeld te word. Dié standaarde dek lugbesoedeling wat nie kweekhuisgasse is nie, maar wat ’n vernietigende impak op mense se gesondheid en welstand het, sê Robyn Hugo, direkteur van die aandeelhouersaktivisme-organisasie Just Share.

Swaeldioksied van steenkoolkragsentrales veroorsaak inflammasie van die asemhalingstelsel en kan tot asma en chroniese brongitis lei.

Die minimum standaarde vir swaeldioksied by steenkoolkragstasies is in 2010 op 500 mg per m³ gestel. Die regering het dit egter tot 1 000 mg verslap, wat swakker standaarde is as wat in China en Indië geld.

Eskom het selfs van dié lae standaarde kwytskelding gevra, sê Hugo.

Volgens Yelland kan Eskom ingevolge wetgewing slegs een kwytskelding kry, wat in 2025 verstryk. Eskom kan dus nie nog ’n kwytskelding kry vir Medupi tot 2030 wanneer die ontswaelingstoerusting na verwagting klaar geïnstalleer sal wees nie.

As die departement van omgewingsake die wet moet toepas, sal Eskom in werklikheid die Medupi-kragsentrale moet sluit.

“Dit sal die ekonomie in diep moeilikheid laat. Daar is geen manier dat die regering dit kan bekostig om nie die wet te verander nie,” sê Yelland.

Volgens Richard Halsey van die omgewingsorganisasie Project 90 by 2030, het Eskom nog ’n kwytskeldingsaansoek om hom toe te laat om van nou tot Maart 2030 in der waarheid 4 000 mg swaeldioksied per m³ vry te stel totdat die ontswaelingsprojek afgehandel is. Van April 2031 sal Eskom die aanleg se vrystellings monitor om te sorg dat dit maandeliks nie meer as 1 000 mg per m³ is nie.

Eskom beweer Medupi is voltooi omdat dit aan al die wetlike vereistes voldoen, maar eintlik is al wat gebeur het dat hulle op kort termyn daarin geslaag het om kwytskelding te kry van sommige dele van die wet, sê Halsey.

As Medupi ten volle in bedryf is, sal dit Suid-Afrika se lugbesoedeling en kweekhuisgasse verhoog en klimaatrisiko’s vergroot, waarsku Hugo.

Lees die volledige berig op Fin24.

Meer oor:  Eskom  |  Medupi  |  Steenkoolkragstasies  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.