Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dís hoekom ons terug is op fase 2-beurtkrag, sê Eskom

Probleme wat by die Medupi-kragstasie opgelos is, die weer wat opgeklaar het en eenhede by ander kragstasies wat weer aanlyn is, is hoekom Eskom Donderdag tot fase 2-beurtkrag kon afskaal.

Dit is die verduideliking wat Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, aan Netwerk24 gegee het.

Jan Oberholzer
Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Hy het by Eskom se nuwe mediasentrum ingeloer waar joernaliste al langer as drie uur gewag het om terugvoer te kry oor die vergadering tussen pres. Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, en die direksie van Eskom.

“Kyk, die afgelope week was net ’n perfekte storm vir Eskom.

“Ons het sonder twyfel ’n netwerk wat baie onstabiel is. Toe ons Medupi verloor en boonop met swaar reën sukkel wat steenkool by kragstasies deurweek het, het ons geen keuse gehad as om beurtkrag in te stel nie,” sê hy.

Die Medupi-kragstasie kon nie krag lewer nie nadat ’n kragpaneel by van die vervoerbande wat steenkool in die kragstasie inneem, gebreek het.

Oberholzer het bevestig dié probleem is nou reggemaak, en dat Medupi aanlyn is en krag lewer.

Oor berigte dat die Koeberg-kragstasie net 50% se krag lewer, sê hy dit is bloot omdat daar geskeduleerde instandhouding gedoen word.

“Onthou, ons moet daardie kragstasie van tyd tot tyd herlaai, dit is al wat nou aangaan,” sê hy.

Kapasiteit

Oberholzer sê hy het dit tydens die vergadering met Ramaphosa en die ministers baie duidelik gestel dat Eskom kapasiteit nodig het.

“Ons het sowat 5 000 MW se kapasiteit nodig. Ons kan sonder twyfel 25 000 MW lewer. As ons ekstra kapasiteit het, sal dit ons tyd gee om instandhouding wat vir jare nie gedoen is nie, behoorlik uit te voer,” sê hy.

Oberholzer sê tans is Eskom onder soveel druk dat net die absolute nodige instandhouding gedoen word.

“Dit is soos om ’n pleister op ’n wond te plak. Die wond is nie gesond nie, daar is net ’n tydelike plan gemaak,” verduidelik hy.

Bewerings oor olie

Op die vraag of daar enige waarheid steek in die stemnota wat die ronde op WhatsApp doen waarin ’n persoon beweer die huidige vlaag beurtkrag is omdat Eskom nie vir olie betaal het wat gebruik word om steenkool van swak gehalte te “spike” nie, rol Oberholzer net sy oë.

“Ek weet nie wat daardie persoon rook nie,” was sy eerste reaksie.

“Ek weet regtig nie wat iemand besiel om so iets uit te dink nie.”

Oberholzer het verduidelik Eskom koop wel olie wat hy in sy kragstasies gebruik.

“Ons gebruik dit om die ketels aan te vuur. Dit is soos daardie stukkie Blitz wat jy gebruik om jou vleisbraaivuur aan die gang te kry.

“Maar glo my, ons ‘spike’ nie steenkool nie.”

Oberholzer sê hy het persoonlik die stemnota by sowat 18 mense ontvang.

“Die eerste persoon wat dit vir my gestuur het, was my vrou,” sê hy.

Ná die gesprek met Oberholzer is hy na ’n ander vergadering geroep. Nie Ramaphosa of enige ander Eskom-amptenaar het nog die media amptelik toegespreek nie.

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Koeberg  |  Medupi  |  Steenkool  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.