Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Jul steenkool te grof, sê afgetrede Eskom-kenner

Die probleem by Eskom se Kusile- en Medupi-kragstasies is te wyte aan die stoomketels wat te klein is en ’n verandering in die ontwerpplan vroeg aan die begin van die bouwerk. Die gespesifiseerde vergruisingsmeule wat die steenkool moet fynmaal, is vervang met ’n ander soort.

Eskom se Lethabo-steenkoolkragstasie in die Vaaldriehoek. Foto: Elise Tempelhoff

Dit kan reggestel word deur weer die soort steenkoolmeule te installeer wat by bestaande Eskom-kragstasies soos Lethabo en Kendal werk.

Dít is die mening van Alex Ham, ’n ingenieur wat 30 jaar by Eskom gewerk het. Ham was hoofingenieur: kragstasie-ontwerp en was vir die ontwerp van Eskom se Lethabo-, Majuba-, Matimba- en Kendal-kragstasies verantwoordelik. Voordat hy in 1994 afgetree het, is hy as uitvoerende direkteur: tegnologie by Eskom aangestel.

Ham skryf in ’n ope brief aan Eskom wat deur die kragbedryfspublikasie EE Publishers gepubliseer is dat Suid-Afrika se steenkool heelwat anders is as die soort steenkool wat in Amerika, Europa, Brittanje, Australië en Japan vir kragopwekking gebruik word.

Hy sê die Suid-Afrikaanse steenkool brand baie stadiger en volgens hom neem internasionale ontwerpers van stoomketels vir steenkoolkragstasies dit nie in ag nie. Eskom moet sy steenkool veel fyner maal voordat dit verbrand word om vir die stadiger brandkoers te vergoed, volgens Ham.

Toe die Matimba-, Kendal-, Majuba- en Lethabo-kragstasie ontwerp is, het Ham dus aangedring op groter stoomketels. Buis-meule is gebruik pleks van die vertikaal-roterende vergruisingsmeule. Die buis-meule is soortgelyk aan dié wat in die goudmynbedryf gebruik word en lewer fyner steenkoolkorrels vir die brandoonde.

Steenkool word by ’n oopgroefmyn naby Witbank gemyn. Steenkool het reeds in 2008 goud verbygesteek as die mineraal wat die grootste bydrae tot die bruto binnelandse produk lewer.

Volgens Ham blyk dit die stoomketelkontrakteur vir Medupi en Kusile (die Japanse verskaffer Mitsubishi Hitachi) het slegs van Australiese en Japanse steenkool ervaring gehad, maar nooit van Suid-Afrikaanse steenkool nie. Gevolglik is die stoomketels te klein vir die stadig-brandende steenkool.

Dit blyk die kontrakteur het gevra die buis-meule wat oorspronklik gespesifiseer is, met vertikale meule vervang word, want dit sou die prys van die kontrak verlaag. Eskom het dié verandering aanvaar.

Maar Ham verduidelik dit het beteken die steenkool kon nie tot die nodige fynheid gemaal word nie, wat buitensporige slytasie tot gevolg het.

Ham meen die oplossing sou wees om by Kusile se onvoltooide eenhede die buis-meule te gebruik. Hoewel dit ’n groot verandering in konstruksie sal wees, is dit volgens hom moontlik en sal dit die moeite werd wees. Dit sal egter die voltooiing van Kusile se laaste eenhede met nog twee jaar uitstel.

Eskom het nog nie op navrae hieroor gereageer nie.

Hier is die oorspronklike ope brief van die oudingenieur.


Meer oor:  Hitachi  |  Eskom  |  Medupi  |  Steenkool  |  Kusile  |  Steenkoolkragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.