Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kaapse metro wil gouer hof toe oor kragverskaffers

Die Kaapstadse metroraad het Dinsdag gesê hy gaan die hooggeregshof in Johannesburg nader sodat sy saak oor die gebruik van onafhanklike kragverskaffers (IPP’s) gouer aangehoor kan word.

Ian Neilson, onderburgemeester van Kaapstad. Foto: Malherbe Nienaber

Die metroraad se aansoek dat die minister van energie en die nasionale energiereguleerder (Nersa) toelaat dat hy krag regstreeks van onafhanklike verskaffers mag koop, is vir Mei 2020 op die hofrol.

Ian Neilson, onderburgemeester van Kaapstad, sê in ’n verklaring dié stap kom nadat “die kragkrisis in Suid-Afrika nuwe hoogtes bereik het”.

Volgens Neilson veg die metroraad om die reg om skoner krag regstreeks van IPP’s te koop en energiesekerheid te verbeter.

“Die metro se regspan raadpleeg die regspanne van ander partye in die hofsaak met die oog daarop om die regter-president te nader met vroeër datums waarop daar gesamentlik ooreengekom is.”

Neilson sê die saak sloer glo omdat Nersa en die minister nie ’n ooreenkoms kan bereik oor die regsraamwerk wat sal toelaat dat ’n lisensie aan die metroraad uitgereik word om hernubare krag van onafhanklike verskaffers te koop nie.

Indien dié ooreenkoms bereik word voordat die hof die saak aanhoor, sal die metroraad selfs vroeër kan begin met planne om IPP’s te gebruik.

“Ons hou vol dat dit noodsaaklik vir die nasionale regering is om op die mark vir kragopwekking oop te stel as ons die bestendigheid van kragverskaffing wil herstel.”

Die metroraad eis dat die minister ’n beslissing ingevolge art. 34 van die Wet op Kragregulering maak om toe te laat dat hy 150 megawatt (MW) sonkrag en 280 MW windkrag van onafhanklike verskaffers mag aankoop.

“Hoewel dit tydrowend gaan wees om dié nuwe opwekkingsvermoë te kry, wil die metroraad so gou moontlik aan dié alternatiewe begin werk,” lui Neilson se verklaring.

Indien die hofaansoek slaag, gaan die metroraad tenders uitreik en voorstelle van onafhanklike verskaffers aanvra.

Meer oor:  Ian Neilson  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.