Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kabeldiefstal ‘nie gestuit met belasting’

Die uitvoerbelasting wat van volgende jaar af op skroot sal geld, sal nie die onwettige handel in en uitvoer van kabeldiefstal bekamp nie, maan belastingkenners.

’n Uitvoerbelasting op skroot sal van April 2021 gehef word, maar belastingkenners twyfel of dit die onwettige handel in en diefstal van veral koperkabels sal stuit. Foto: VERSKAF

Die uitvoerbelasting op skrootmetaal, soos koper, brons, lood, aluminium en sink, sal op 1 April 2021 in werking tree.

Duane Newman, direkteur van Cova Advisory, ’n konsultantefirma, sê met onwettige handel in skroot word vals verklarings aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedoen. “Met ander woorde, die uitvoerproduk word nie verklaar as skroot nie en word dikwels versteek saam met ander goedere – of bloot verklaar as iets anders. ’n Uitvoerbelasting gaan dit nie stopsit nie. Dit kan onwettige handel selfs bevorder.”

Kabeldiefstal kos die ekonomie jaarliks miljarde rande, met reuse-ontwrigtings aan dienslewering, soos elektrisiteitsvoorsiening, treindienste en konnektiwiteit.

Donald MacKay, direkteur by XA International, sê ’n misdadiger wat pas ’n 500 m-Eskom-kabel gesteel het, gaan hom nie daaroor kwel om aan belastingvereistes te voldoen nie.

“Neem gesteelde koper as ’n voorbeeld: Dit verlaat die land nie as koperdraad nie, maar word gesmelt in gietblokke wat nie onderhewig is aan uitvoerbelasting nie.”

Diefstal is ’n misdaad en dit gaan nie reggestel word met ’n uitvoerbelasting nie, sê MacKay.

Benewens ’n uitvoerbelasting op skroot, beoog die regering ook om chroomerts wat uitgevoer word, te belas.

Soos met skroot, is die hoop dat so ’n uitvoerbelasting dit vir plaaslike vervaardigers goedkoper sal maak en dat daar uiteindelik ’n groter vraag sal wees vir Suid-Afrika se plaaslike metaal- en ferrochroom-vervaardigers.

Die ferrochroombedryf se grootste uitdaging is egter onbetroubare en duur elektrisiteit. “Gegewe Eskom se toestand is dit onwaarskynlik dat Suid-Afrika enige nuwe beleggings in ferrochroomproduksie sal lok,” sê Newman.

“Ons moet eers die onderliggende probleme takel.”

Newman en MacKay is bekommerd oor die onlangse wysiging aan Suid-Afrika se Wet op Doeane en Aksyns, wat in Maart 2021 van krag word. Die nuwe wetgewing baan die weg vir die regering om na goeddunke uitvoerbelastings op enige grondstof of produk te hef.

MacKay sê die minister van finansies sal van volgende jaar af self kan besluit watter belastingkoers op uitvoer ingestel word. “Hoewel daar openbare konsultasies was voor die besluit om uitvoerbelasting op skroot te hef, hoef die minister van finansies in die toekoms nie hieroor te konsulteer nie. Die wet vereis dit nie, so hy kan dit bloot instel.”

MacKay waarsku die proses om uitvoerbelastings in te stel, is dikwels ondeursigtig en kan indruis teen Suid-Afrika se internasionale handelsooreenkomste.

“Ingevolge ons ooreenkoms met die Europese Unie, byvoorbeeld, kan Suid-Afrika net in ‘buitengewone omstandighede’ ’n uitvoerbelasting hef. Na die beste van my medewete is die EU nie in kennis gestel van die uitvoerbelasting op skroot nie. Die ooreenkoms met die EU bepaal ook dat belastings tydelik moet wees.”

Dit kan ook handelsooreenkomste met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) beïnvloed. ’n Uitvoerbelasting op chroomerts sal byvoorbeeld problematies wees in die geval van Mosambiek, wat die tweede grootste uitvoerbestemming naas China is.

“Ons is midde-in die finalisering van ’n Afrika-vryhandelsooreenkoms. Dit kan ’n politieke nagmerrie word as ons begin om uitvoerbelastings te hef vir ander Afrikalande – veral Mosambiek as ’n lid van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG),” sê MacKay.

Meer oor:  Kabeldiefstal  |  Belasting  |  Infrastruktuur  |  Uitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.