Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Karpowership kap terug oor bewerings van korrupsie

Die maatskappy wat kragskepe aan Suid-Afrika gaan verskaf, sê bewerings van korrupsie is eintlik net gemaak deur ’n “opportunis” wat dikbek is oor hy nie die tender gewen het nie.

Die ‘Onur Sultan’-kragskip van Karpowership. Foto: Karpowership

Die tot en met R225 miljard-kontrak wat vir minstens 20 jaar onderteken gaan word, is “korrupsievry”, volgens Karpowership, en hy het die tender blykbaar gewen op meriete, want sy pryse was die laagste.

Karpowership het vandeesweek sy beantwoordende eedsverklaring by die hooggeregshof in Pretoria ingedien in die saak wat Aldworth Mbalati, uitvoerende hoof van DNG Power Holdings, gebring het om die departement van minerale bronne en energie te dwing om eerder sy maatskappy aan te wys as voorkeurbieër vir die verskaffing van 1 220 megawatt (MW) van die 2 000 MW se energie wat versoek is.

Mbalati het in April plofbare bewerings van korrupsie in die tenderproses van die departement se onafhanklike kragprodusenteverkrygingsprogram vir risikovermindering (RMIPPPP), wat 2 000 MW se noodkrag vir die land binne 18 maande wil bekom, ontbloot in hofstukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Mbalati beweer dat die hele proses oorskadu is deur korrupsie en dat die voorkeurbieërs net gekies is omdat hulle korrupte ooreenkomste aangegaan het met senior amptenare van die departement en ’n sakeman wat noue bande het met Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Die ondergeskikte amptenaar van die departement het my ingelig ek moet verstaan dat daar ’n stelsel is in die land, en as ek nie volgens daardie stelsel werk nie, sal ek misluk, selfs al is my projek die beste.
Aldworth Mbalati

Mbalati beskryf in die hofstukke hoe hy op 2 November 2020 deur Mantashe se medewerker gelok is na ’n private middagete in ’n spogrestaurant, Kream, in Nieuw Muckleneuk in Pretoria. Dié restaurant was vir dié middagete vir die publiek gesluit.

Aan tafel was die medewerker van Mantashe wat hom na die ete genooi het, ’n senior amptenaar van Mantashe se departement, nog ’n ondergeskikte amptenaar, en ’n naby familielid van Mantashe.

“Die senior amptenaar het gevra ‘hoe kan ons help met die tender?’ Ek het uitdruklik geantwoord dat ons nie hulp met die opstel van die tenderdokumente nodig het nie en dat die beste manier waarop hulle kan help, is om nie met die tenderproses in te meng nie,” volgens Mbalati.

“My antwoord het woede en minagting by hulle ontketen en die ondergeskikte amptenaar van die departement het my ingelig ek moet verstaan dat daar ’n stelsel is in die land, en as ek nie volgens daardie stelsel werk nie, sal ek misluk, selfs al is my projek die beste,” lui Mbalati se verklaring. Dit was vir hom onaanvaarbaar en hy is daar weg.

Op 22 Desember is hy ingelig dat DNG se tender aan die vereistes voldoen. Op 15 Maart het dieselfde medewerker van Mantashe hom meegedeel dat DNG die tender gekry het, maar dat hy dit gaan verloor “as (hy) nie saamspeel nie”.

Op 18 Maart het Mantashe se medewerker hom op kantoor besoek en gevra of hy “enige laaste woorde” wil spreek voordat die uitslag van die tenderproses bekend gemaak word.

“Ek het geantwoord dat ek wag op die uitslag van die proses. Hy het gesê dié antwoord beteken dat ek niks gaan kry nie,” lui Mbalati se verklaring.

Hy is later die dag meegedeel dat sy tender gediskwalifiseer is.

Die klaarblyklike implikasie is dat die suksesvolle bieërs, wat aangewys is as voorkeurbieërs, die uitnodiging aanvaar het en onwettig met korrupte staatsamptenare saamgespan het.
Mehmet Katmer, direkteur van Karpowership SA

Maar nou beweer Karpowership dat Mbalati duidelik nie teen korrupsie gekant is, soos hy voorgee, nie.

Mbalati het volgens Karpowership reeds in Julie 2020 “bewus” geword van korrupsie in die tenderproses, maar geensins moeite gedoen om dit aan die owerhede aan te meld nie.

Hy was net daarop ingestel om te verseker dat sy maatskappy die tender kry, ongeag of daar korrupsie was of nie, beweer Karpowerskip.

Mbalati is besig om strafregtelike klagte by die owerhede in te dien teen die naamlose amptenare wat hom genader het, maar eers nadat hy ’n siviele proses van stapel gestuur het om die departement te dwing om sy maatskappy as voorkeurbieër te kies.

“DNG beweer dat hy tydens hierdie ontmoetings genooi is om onwettig met staatsamptenare en hul medewerkers saam te span, wat die uitslag van die tender vooraf bepaal het,” sê Mehmet Katmer, direkteur van Karpowership SA, in sy beëdigde verklaring.

“DNG beweer dat hy geweier het om met hierdie korrupte individue in gesprek te tree en dat sy bod gevolglik gediskwalifiseer is.

“Die klaarblyklike implikasie is dat die suksesvolle bieërs, wat aangewys is as voorkeurbieërs, die uitnodiging aanvaar het en onwettig met korrupte staatsamptenare saamgespan het.”

Katmer sê dit is heeltemal vals, ongegrond en gegrond op hoorsê.

As die hele proses dan besmet is met korrupsie, moes Mbalati dan aansoek gedoen het dat die hele program ongeldig verklaar word, nie dat net hy op die lys geplaas word nie, sê Katmer.

En Mbalati sukkel glo om bewyse te verskaf vir sy bewerings.

Katmer het gevra vir ’n kopie van ’n beweerde SMS wat volgens Mbalati aangedui het dat Karpowership voorkeurbehandeling gekry het in die tenderproses omdat hy saamgespan het met die amptenare, maar kon glo nie die SMS verskaf nie.

Die SMS het blykbaar gelui dat Mantashe se vrou genader is deur Karpowership vir ’n uitstel van die sperdatum van die tenderproses, en dat die versoek waarskynlik toegestaan sou word, maar nie aan ander bieërs gekommunikeer is nie.

Dit het Karpowership na bewering ’n enorme voordeel gegee in die voorbereiding van sy tender, waar ander gejaag het om die aanvanklike sperdatum te haal.

Maar Katmer sê Karpowership het nie die uitstel benut nie en sy tender wel ingehandig op die aanvanklike sperdatum van 30 Oktober 2020.

Maar daar word beweer dat daar deurgaans veranderinge aan die tendervereistes aangebring is, wat lyk asof dit daarop gerig was om Karpowership te bevoordeel.

AmaBhungane se eie ondersoeke dui daarop dat die tenderproses wel gewysig is deur middel van verskeie notas om groenkragprodusente te benadeel en Karpowership se gasprojekte voorkeur te gee.

Katmer sê Karpowership het die tender gekry omdat sy pryse beter was as dié van die ander groenkragbieërs.

Volgens Katmer is die prys wat selfs DNG sou vra vir sy projek, 21% hoër as Karpowership se laagste prys.

Karppowership, wat in drie hawens in Suid-Afrika sy kragskepe gaan vasmeer, vra op die meeste R1 686,48 per MWh.

DNG se beste prys was R1 788 per MWh.

DNG moet teen 9 Junie ’n aanvullende eedsverklaring by die hof indien, en die saak sal dan in Julie aangehoor word.

Die finale sperdatum vir die RMIPPPP is ook in Julie.

Meer oor:  Karpowership  |  Gwede Mantashe  |  Verkryging  |  Kragskepe  |  Tenders  |  Aardgas  |  Kragkrisis  |  Noodkrag  |  Beurtkrag  |  Irp2019  |  Hofsaak  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Korrupsie  |  Onafhanklike Kragprodusente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.