Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kenners verskil oor Ramos by Eskom

Kundiges het Maandag verskil in hul mening oor of Maria Ramos (60), voormalige uitvoerende hoof van Absa, geskik sal wees in die nuwe pos as herskikkingshoof van Eskom.

Maria Ramos, wat vir tien jaar Absa se uitvoerende hoof, was.

Tito Mboweni, minister van finansies, het erken Ramos word oorweeg vir dié nuwe pos by Eskom.

Mboweni het Maandag op Twitter ’n skakel na die SAUK-berig geplaas waarvolgens hy bevestig dat Ramos ’n kandidaat is wat vir die pos oorweeg word.

Sunday Times het Sondag berig Ramos, wat voorheen direkteur-generaal van die tesourie was, word oorweeg vir die pos en dat sy die gunsteling-kandidaat is.

Mboweni het wel aan die SAUK gesê “niemand” is nog in die pos aangestel nie.

Ramos was vir tien jaar uitvoerende hoof van Absa. Voor dit was sy uitvoerende hoof van Transnet.

Volgens Mboweni is die prosesse nog onderweg om ’n herskikkingshoof aan te stel.

Waar kom die pos van CRO (chief reorganising officer) vandaan?

Mboweni het vanjaar in sy begrotingsrede die pos aan die publiek bekend gestel toe hy gesê het Eskom gaan in drie afsonderlike maatskappye verdeel word.

Hy het verwys na die bykomende geld wat vir Eskom bewillig word in die komende drie jaar (R23 miljard per jaar) om hom finansieel te ondersteun terwyl dié plan uitgevoer word.

“Die fiskale ondersteuning is onderhewig aan die aanstelling van ’n onafhanklike hoof van herorganisering (CRO) wat gesamentlik deur die minister van finansies en openbare ondernemings aangestel gaan word.”

Die pos van ’n CRO is bekend in die sakesektor, maar verwys normaalweg na ’n hoof van herstrukturering.

Wikipedia omskryf dit as ’n senior amptenaar van ’n maatskappy wat breë magte het om alle aspekte van ’n maatskappy se geldsake te heronderhandel om ’n dreigende bankrotskap te hanteer of om ’n maatskappy te herstruktureer ná ’n aansoek om bankrotskap.

In ’n spesiale aanhangsel van die begrotingsrede van 20 Februarie oor die “fiskale ondersteuning vir die hervorming van die elektrisiteitsmark” is daar weer na die CRO verwys.

“Gegewe die omvang van die taak sal baie besonderhede oor Eskom se ommekeer en herstrukturering in die komende maande gefinaliseer word. Die eerste stap is om ’n hoof van herorganisering aan te stel, wat saam met die direksie en bestuur sal werk om die aanbevelings van die taakspan oor Eskom se volhoubaarheid toe te pas.”

Mboweni het terselfdertyd in sy begrotingsrede gesê die reëls vir staatswaarborge wat gegee word vir staatsondernemings om geld te leen, moet strenger gemaak word.

“As ’n staatsonderneming aansoek doen om ’n staatswaarborg vir bedryfsdoeleindes, sal dit nodig wees om ’n CRO aan te stel met die toestemming van die nasionale tesourie en die houers van hul skuldbriewe. Die CRO sal ’n volledige bedryfs- en finansiële oorsig oor die onderneming doen.

“Wanneer banke staatshulp benodig, word ’n kurator aangestel. Wanneer provinsiale en munisipale geldsake in ’n gemors is, kan die regering die administrasie oorneem. Dieselfde reëls moet geld vir alle staatsondernemings.”

Mboweni het toe ook gesê die regering oorweeg dit om waarborge vir lenings vir bedryfsdoeleindes stop te sit.

Te warm, te koud

Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van Agrimark Consulting en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd, meen Ramos se ondervinding by Absa sal haar goed te staan kom by Eskom omdat Absa ook ’n “betreklik komplekse onderneming is” wat uit verskeie entiteite bestaan met duisende personeellede. Absa het die afgelope boekjaar met meer as 40 000 personeellede afgesluit.

“Dat sy ’n bewese sakevrou is, is belangrik vir my.”

Hy meen sy sal die ANC se ondersteuning hê en met haar bestuursvaardighede sal sy in dié pos nie kennis oor die kragbedryf nodig hê nie.

“Ek was ’n paar jaar saam met haar op Absa se direksie en sy het die insig om deur komplekse dinge te sien en besluite te neem en dit deur te voer,” sê hy.

Ted Blom, ’n energiekenner en konsultant van Mining & Energy Advisors, meen dit is onduidelik in watter pos Ramos sal wees tydens die ontknopingsproses.

“Die groot pos wat hieruit gaan voortspruit gaan dié van uitvoerende hoof van kragopwekking wees,” het hy by navraag gesê.

“Ramos is nié toegerus om uitvoerende hoof van kragopwekking te wees nie, omdat ervaring van Eskom en kragopwekking kritiek belangrik is vir die pos. Ek dink enige persoon wat nie ’n ingenieur is nie, moet nie eens oorweeg word nie.”

Blom meen sy kan CRO wees solank dit die pligte van uitvoerende hoof van kragopwekking uitsluit, omdat dit ’n tegniese aanstelling moet wees.

Dawie Roodt, ekonoom by Efficient Group, meen ook aan die korporatiewe kant het sy genoeg ondervinding om in so ’n pos aangestel te word, maar dat daar steeds ’n groot leemte gaan wees aan kundigheid oor die bedryf en elektrisiteit.

“Die probleem met Eskom is hulle het begin ontslae raak van diegene wat die elektrisiteitsbedryf verstaan en kon verstaan het. Daar is steeds ’n groot leemte daarmee.” – Fin24 en bygewerk deur Nellie Brand-Jonker

Meer oor:  Anc  |  Eskom  |  Tesourie  |  Tito Mboweni  |  Ted Blom  |  Dawie Roodt  |  Johan Willemse  |  Maria Ramos  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.