Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kernafval: Ander instituut bestuur gou Vaalputs

Die Nasionale Instituut vir die Bestuur van Radioaktiewe Afval (NRWDIA) het uiteindelik amptelik aansoek gedoen vir die lisensie om die Vaalputs-kernafvalterrein in Namakwaland te bestuur.

’n Vragmotor met houers vol laegraadse radioaktiewe afval draai in na die Vaalputs-bergplek vir kernafval in Namakwaland in die Noord-Kaap.Foto: NRWDIA

Die NRWDIA is in 2017 gestig om alle kernafval in Suid-Afrika te bestuur en om dié taak by die Nasionale Kernenergiekorporasie (Necsa) oor te neem.

Die NRWDIA het Vrydag in opdrag van die Nasionale Kernreguleerder (NNR) in die Staatskoerant aansoek gedoen vir die heruitreiking van die lisensie vir Vaalputs wat voorheen aan Necsa uitgereik is.

Dit is meer as ’n dekade nadat die Wet op die NRWDIA in Desember 2009 van krag geword het.

Die instituut is bedoel om verantwoordelikheid te aanvaar vir die langtermynbestuur en berging van alle soorte radioaktiewe afval in die land. Dit is ’n instituut wat ten volle in staatsbesit is.

Wat gaan by Vaalputs aan?

Vaalputs, sowat 90 km suidoos van Springbok in die Noord-Kaap, is ’n perseel van sowat 10 000 ha waarvan 10% van die oppervlak toegewys is vir die opberging van laegraadse kernafval.

Die blootstelling van werkers by Vaalputs oor die afgelope nege jaar aan radioaktiwiteit was hoogstens 1,34 millisievert (mSv) per jaar, teenoor die regulatoriese perk van 20 mSv, sê die instituut in sy aansoek.

Internasionale riglyne word gevolg om die bedrywighede en radioaktiwiteit te meet, en daar word gereeld aan die NNR verslag gedoen.

Spanje, Tsjeggië en Frankryk is lande wat soortgelyke bergplekke as Vaalputs vir laegraadse kernafval bedryf. By Vaalputs word die afval in metaal- of betondromme verseël en in slote van sowat 8 meter diep begrawe, wat dan met lae klei en sand bedek word sodra die sloot vol is.

Tot einde Desember 2019 het Vaalputs al 21 415 metaaldromme en 3 991 betondromme van Eskom se Koeberg-kernkragstasie ontvang, en van Necsa 6 154 metaaldromme en 420 betondromme.

Vaalputs sal nog tot 2046 bedryf word, waarna dit gesluit sal word en dan vir sowat 300 jaar tot 2350 gemonitor en beheer word.

Die NRWDIA meen Vaalputs is steeds veilig as bergplek want dit is in ’n baie droë, dunbevolkte deel van Namakwaland met min landboupotensiaal en geen mynboubedrywighede in die omgewing nie.

Fonds nog nie gestig

’n Fonds vir die bestuur van radioaktiewe afval moet nog gestig word, maar intussen sal die NRWDIA gefinansier word deur geld van die staat, asook gelde wat die genereerders van radioaktiewe afval soos Koeberg en Necsa aan hom betaal.

In die jongste begroting is sowat R50 miljoen per jaar oor die volgende drie jaar vir die NRWDIA toegeken as deel van die begroting van die departement van minerale bronne en energie. Tot 81,8% (R126,8 miljoen) van sy begroting gaan oor die volgende drie jaar aan salarisse bestee word, blyk dit uit die nasionale tesourie se dokument oor besteding wat Woensdag met die begroting uitgereik is.

Dit blyk 96,5% van sy begroting gaan oor die volgende drie jaar nog uit die staatskas moet kom.

Die publiek kan nou tot einde Maart kommentaar lewer op die uitreiking van die lisensie aan die NRWDIA.

Chris Yelland, elektriese ingenieur en konsultant van EE Business Intelligence, meen die feit dat die fonds nog nie bestaan nie beteken daar is nog geen geld in Suid-Afrika om te betaal vir die koste van die aftakeling van kernaanlegte en die wegdoen van hoëgraadse kernafval nie.

Tans word hoëgraadse afval van Koeberg op die perseel self geberg en raak die plek vinnig vol. Eskom het volgens Yelland wel ’n voorsiening van R16,2 miljard op sy balansstaat vir die sluit van Koeberg en vir ’n nuwe sentrale bergplek vir die hoëgraadse afval. Maar internasionale maatstawwe wys volgens Yelland dat Eskom die koste aansienlik onderskat. Dit kan eerder tussen R42 miljard en R64 miljard kos.

Meer oor:  Kernkrag  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.