Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kernkrag: Eskom en groenes stry steeds

Eskom en omgewingsgroepe gekant teen kernkrag is ná 14 jaar steeds in mekaar se hare oor ’n omgewingsimpakstudie vir nuwe kernkrag.

Die son sak agter die Koeberg-kragsentrale naby Kaapstad.

Eskom het in 2007 begin met ’n omgewingsimpakstudie vir die bou van nog ’n kernkragstasie reg langs Koeberg by Melkbosstrand aan die Weskus. Dit was nog as deel van ’n aanvanklike poging van Eskom om nuwe kernkrag te bou, maar dié proses is gestaak toe die internasionale finansiële krisis van 2008 ontstaan het. Die Franse groep Areva en die Amerikaanse groep Westinghouse was in daardie stadium voorkeurbieërs vir die kontrak om nuwe kernkrag te bou.

Oudpres. Jacob Zuma se eie kernkragplanne het sedertdien gekom en gegaan. Eskom het intussen voortgegaan met die omgewingsgoedkeuringsproses en die departement van omgewing het in Oktober 2017 omgewingsgoedkeuring toegestaan.

IRP

Volgens Eskom skryf die regering se jongste geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) voor dat 2 500 MW se nuwe kernkrag wel beplan moet word vir wanneer dit ná 2030 benodig sal word. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het einde verlede jaar ’n ministeriële bepaling uitgereik vir 2 500 MW se klein modulêre kernkragstasies, en ’n versoek om inligting daaroor het teen Februarie vanjaar heelwat reaksie ontlok van belangstellende private maatskappye.

Dis egter hier waar Eskom se paaie skei met die omgewingsgroepe wat steeds protes aanteken teen die departement van omgewing se omgewingsgoedkeuring van 2017. Die omgewingsgroepe interpreteer die IRP2019 as dat dit impliseer kernkrag is onbekostigbaar en onnodig, terwyl Eskom die bewoording anders interpreteer en glo dit skep juis ruimte vir kernkrag, waarvoor nou al beplan moet word.

Eskom meen die omgewingsgroepe is verkeerd as hulle uit die IRP2019 se uitsluiting van kernkrag tot en met 2030 aflei dat dit enige voorbereidingstappe vir kernkrag ná 2030 verbied.

Eskom meen die IRP2019 is nie relevant om in ag geneem te word in besware teen die omgewingsgoedkeuring nie, want die omgewingsgoedkeuring is reeds in 2017 gegee.

Terwyl die omgewingsgroepe aanvoer die IRP2019 waarsku teen besluite met langtermyn-implikasies weens die snelle verandering in energietegnologie, waarsku Eskom dat so ’n siening tot beleidsverlamming sal lei.

Seismiese risiko

Eskom sê in reaksie op aanvullende appèlaansoeke van beswaarmakers teen die omgewingsgoedkeuring dat die raming oor seismiese risiko in die omgewingsimpakverslag steeds geldig is. Dit kom in die lig van die onlangse aardtrillings in die omgewing van die Weskus.

Peter Becker van Koeberg Alert Alliance, een van die omgewingsgroepe, sê die oorspronklike seismiese studie by Koeberg is in 1976 gedoen en alle latere studies is daarop gegrond, met die laaste wesenlik opgedateerde studie wat in 2011 gedoen is, maar verouderde metodes gebruik het.

Verouderd

Die omgewingsgroepe meen die omgewingsimpakverslag sal heeltemal verouderd en uitgedien wees teen die tyd dat ’n nuwe kernkragprojek ná 2030 gebou word weens alles wat sedertdien verander het. Dit sluit in die bevolkingsgroei in die omgewing van Melkbosstrand, veranderende energiebeleid, nuwe alternatiewe en nuwe metodes om seismiese risiko te bepaal.

Ontwikkelingsplan

Terwyl die omgewingsgroepe aanvoer dat die nasionale ontwikkelingsplan ook teen kernkrag waarsku en ’n laekoolstofekonomie voorstaan, sê Eskom dat kernkrag nie kweekhuisgasse vrystel nie en daarom ’n belangrike rol kan speel in die skuif na ’n laekoolstofekonomie.

Ulrich Steenkamp, programbeampte by Earthlife Africa, meen egter kernkrag is wel koolstofintensief as die hele brandstofketting van uraanmynbou tot die aftakeling van ’n kernkragstasie in ag geneem word.

Meer oor:  Eskom  |  Melkbosstrand  |  Wes-Kaap  |  Koeberg  |  Kernkragstasies  |  Omgewings  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.