Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Kernkrag kan klimaat red’

’n Groep organisasies wat kernkrag bevorder, het Donderdag ’n ernstige beroep op wêreldleiers gedoen om kernkrag as een van die tegnologieë in te sluit om kweekhuisgasse te verlaag.

'n Uitsig op die Koeberg-kernkragstasie by Melkbosstrand in Kaapstad. Dit is die enigste kernkragstasie in Suid-Afrika. Foto: Sharief Jaffer

Pres. Joe Biden van die VSA hou Donderdag en Vrydag ’n aanlyn beraad met leiers van verskeie lande, insluitend pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika, oor klimaatsverandering.

Die Wêreldkernvereniging, tesame met die Kanadese Kernvereniging, die Japannese Atoomnywerheidsforum, die Kernenergie-instituut, die Kernbedryfvereniging, asook Foratom, die Europese bedryfsliggaam vir die kernkragbedryf, het in ’n gesamentlike verklaring gevra leiers moet realistiese, wetenskapsgegronde benaderings volg om kweekhuisgasse te verlaag.

Daar is minder as 30 jaar oor om kweekhuisgasse in elke sektor van die internasionale ekonomie tot ’n neutrale vlak (waar ewe veel kweekhuisgasse vrygestel word as wat geneutraliseer word) te kry, waarsku die kernkragverenigings.

Hulle glo elke vorm van laekoolstoftegnologie wat beskikbaar is, moet daarvoor gebruik word en kernkrag móét een daarvan wees.

Die organisasies sê niks oor die veiligheid van kernkrag nie, maar glo kernkrag het ’n bewese rekord. Dit word al meer as 60 jaar lank gebruik en is die grootste enkele bron van laekoolstofelektrisiteit in ontwikkelde lande.

Kernkragaanlegte is volgens hulle betroubaar en buigsaam, kostedoeltreffend en kan meer as net elektrisiteit opwek. Dit kan byvoorbeeld ook as onder meer hittebron vir nywerhede, ontsoutingsaanlegte of waterstofproduksie gebruik word.

Die verklaring kom ’n dag nadat Rafael Mariano Grossi, direkteur-generaal van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA), gesê het dit sal vir Afrika-lande die moeite werd wees om kernkrag as opsie te oorweeg om genoeg krag op te wek sodat hul ekonomie kan groei.

In Suid-Afrika het verskeie pogings om nuwe kernkrag te bou sedert die 2000’s misluk – soos ’n aanvanklike kernkragprogram wat in 2008 tenders aan die Amerikaanse groep Westinghouse en die Franse groep Areva sou toeken vir die bou van nuwe reaktors, die staat se eie korrelbedkernreaktorprogram, wat gestaak is, en die poging van oudpres. Jacob Zuma om ’n kernbouprogram van 9,6 GW met die Russiese maatskappy Rosatom te beklink.

'n Argieffoto wat wys hoe vorder opruimingswerk by die Foekoesjima Daïtsji-kernaanleg in Japan. Foto: Getty Images

Die jongste poging is 2 500 MW se klein modulêre reaktors wat volgens die regering en Eskom nou al beplan moet word om dit in die tydperk ná 2030 in bedryf te kry. Omgewingsgroepe hou vol met hul teenkanting van kernkrag in die lig van die Foekoesjima-kernramp van 2011 in Japan, vrese oor korrupsie met kernkragtenders en die probleem van die langtermynopgaar van hoëgraadse kernafval.

Terwyl die Wêreldkernvereniging kernkrag bevorder, is verskeie lande, insluitend Duitsland, besig om weens openbare teenkanting van kernkrag af weg te beweeg.

Twee weke gelede het die Verenigde Arabiese Emirate aangekondig die eerste eenheid van 1 400 MW van sy Barakah-kernkragaanleg het elektrisiteit begin opwek. Barakah sal uiteindelik 5 600 MW lewer en gebruik die APR1400-reaktorontwerp wat deur die Suid-Koreaanse groep Kepco ontwikkel is.

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Kernkrag  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.