Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kernkrag . . . nee, groenkrag te duur!

Wyduiteenlopende menings oor of Suid-Afrika moet begin bou aan 2 500 MW se nuwe kernkrag is Dinsdag op die nasionale energiereguleerder (Nersa) se openbare sitting gehoor.

Die Excelsior-windplaas van 32,5 MW sowat 30 km suidwes van Swellendam in die Overberg, wat deur BioTherm Energy ontwikkel is. Die windplaas het op 23 Desember verlede jaar kommersieel in bedryf gekom. Dit bestaan uit 13 windturbines met ’n vermoë van 2,5 MW elk.

Enige nuwe kernkrag sal 30% tot 50% goedkoper moet wees as hidrokrag uit die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) as dit steeds sakesin wil maak, het dr. Jarrad Wright van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad aan Nersa gesê.

As die verwagte kragvraag teen 2030 boonop sowat 10% minder is, sal dit ’n baie moeiliker beleggingsbesluit wees om op kernkrag te besluit, gegewe die koste van alternatiewe energie.

Volgens Wright is dit onwaarskynlik dat 2 500 MW se nuwe kernkrag teen 2030 in bedryf sal kom soos die regering se geïntegreerde hulpbronplan beoog gegewe internasionale ervaring met vertragings in bouprogramme.

Selfs met baie ambisieuse teikens vir Suid-Afrika se verlaging in kweekhuisgasvrystellings sal kernkrag nie kwalifiseer as die goedkoopste kragopsie vergeleke met wisselvallige hernubare energie en ander alternatiewe soos batterystelsels nie.

Ná sterk groei in kernkrag van 1970 tot 1990, het dit gestabiliseer teenoor sonkrag en windkrag wat sedertdien eksponensieel gegroei het.

Hoewel kragopwekking meer as verdubbel het sedert 1990, was daar marginale groei in kernkragkapasiteit.

Kernkrag sal vir 30 jaar R2,8 miljard per jaar ekstra kos as dit ingevoerde hidrokrag uit die DRK moet vervang, meen Wright.

En as kernkrag vergelyk word met ’n mengsel van die goedkoopste kragopsies, sal dit R3,8 miljard per jaar ekstra kos.

David Nicholls, afgetrede kernkraghoof van Eskom, glo weer Suid-Afrika moes al lankal begin het om nuwe kernkrag te bou en meen slegs ’n kommersiële tenderproses kan die werklike koste van kernkrag bepaal.

Hy waarsku dat Suid-Afrika op ’n per capita-grondslag agter geraak het met ander opkomende en ontwikkelende lande bloot omdat die land nie genoeg betroubare elektrisiteit kan lewer nie.

“Vanjaar sal ons armer wees as die gemiddelde ontwikkelende land, want ons kan nie nywerhede bou as daar nie krag is nie.”

Nicholls het gewys op lande soos Frankryk en Swede se sukses wat sedert die 1960’s en 1970’s sterk in kernkrag belê en nou laekoolstof-elektrisiteit teen ’n lae koste het.

Hierteenoor sukkel Duitsland met die koolstofintensiteit van sy energie omdat hy sy kernkragstasies sluit.

Prof. Simon Connell van die Universiteit van die Witwatersrand meen ook Suid-Afrika moet dadelik begin voorberei vir nuwe kernkrag, want op lang termyn sal die land nie spyt wees nie. Kernkragstasies kan 60 tot 80 jaar bedryf word, maar son- en windkragaanlegte het ’n leeftyd van net 20 tot 25 jaar.

As Afrika ryker wil word, sal dit baie meer energie benodig. Afrika het 20 keer meer krag nodig as wat hy nou het.

Kernkrag is die oplossing, want dit is ’n baie digter en intensiewer vorm van energie as steenkool, olie, sonkrag of windkrag.

Hy wys daarop dat hernubare energie rugsteunkrag nodig het vir wanneer dit nie op bestelling gelewer kan word nie en op die verskuilde koste van hernubare energie, soos die batterystelsels, die rugsteunkrag en die netwerkkoste.

Hernubare energie is ook nie noodwendig so omgewingsvriendelik nie.

“Het ons genoeg van die skaars hulpbronne wat nodig is vir al die windkrag?”

Meer oor:  Kernkrag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Geïntegreerde Hulpbronplan  |  Energie  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.