Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Klagtes, onsekerheid ná aanstelling
 Eskom logo
André de Ruyter is die nuwe hoof van Eskom.

Ná maande van bespiegeling en vertragings, is André de Ruyter Maandagaand as die nuwe uitvoerende hoof van Eskom aangekondig.

Sy onverwagse aanstelling het beleggers onkant gevang en ’n belangrike vakbond rooi onder die kraag gelaat.

De Ruyter (51) het aansienlike ervaring in ’n korporatiewe omgewing, maar het nog nie by ’n staatsonderneming gewerk nie.

Sy aanstelling kom te midde van ’n transformerende tyd vir Eskom, wat onder voortslepende tegniese en finansiële probleme gebuk gaan.

De Ruyter is tans die uitvoerende hoof van Nampak en betree sy pos by Eskom middel Januarie, het die departement van openbare ondernemings Maandag in ’n verklaring gesê.

Die staatsbeheerde onderneming soek reeds sedert Julie na ’n nuwe hoof nadat Phakamani Hadebe die tiende hoof geword het om in soveel jaar te bedank.

“Die mark sal hom beter moet leer ken en begryp watter eienskappe hy na die tafel bring,” sê Jones Gondo, ’n ontleder van Nedbank, ná De Ruyter se aanstelling. Hoewel die mark nie sy aanstelling verwag het nie, “kan ons nou minstens voortgaan om aan die belangrike kwessies (by Eskom) aandag te gee”.

Opbrengs op effekte neem toe

Opbrengs op Eskom se effekte, wat nie deur die staat gewaarborg word nie, het ná die aankondiging met 15 basispunte tot 7,1% toegeneem, die hoogste sedert 13 September.

Eskom gaan onder R450 miljard se skuld gebuk en sukkel om verouderde kragstasies te herstel en om foute by nuwes reg te stel. Ten einde Eskom van ondergang te red, stel die regering ’n reddingsboei van R138 miljard oor die volgende drie jaar aan hom beskikbaar.

Die departement van openbare ondernemings onder leiding van minister Pravin Gordhan, het drie kandidate vir die pos as nuwe uitvoerende hoof van Eskom geoormerk.

Dit sluit in Andy Calitz, voormalige hoof van LNG Canada, en Jacob Maroga, wat reeds voorheen, tussen 2007 en 2009, Eskom se hoof was. Bespiegelings oor wie die derde kandidaat was, het nie De Ruyter se naam ingesluit nie. Sy aanstelling kan moontlik teenkanting van vakbonde ontlok omdat hy nie swart is nie.

“Dit was ’n verrassing – sy naam is nooit genoem nie,” sê David Shapiro, ondervoorsitter van Sasfin Securities.

“Kom ons hoop hy het die moed om te doen wat by Eskom gedoen moet word.”

André de Ruyter Foto: Elvira Wood

De Ruyter is sedert 2014 aan die stuur by Nampak. In sy rol het sy paaie met Tito Mboweni, nou minister van finansies, gekruis wat tussen 2010 en 2018 voorsitter van die maatskappy was.

Voorheen het De Ruyter meer as twee dekades lank by Sasol in ’n senior bestuurspos gewerk.

“Ek wil De Ruyter bedank, nie net omdat hy die pos in ’n moeilike tyd by Eskom aanvaar het nie, maar gegewe Eskom se huidige finansiële posisie, dat hy ook ingestem het tot ’n laer vergoedingspakket as wat tans vir die pos van krag is,” sê die departement.

Nampak se aandeelprys het onder De Ruyter se leiding van ’n hoogtepunt van R48,85 in November 2014 tot so laag as R6,85 verlede week gedaal. In daardie tydperk het hy R21,5 miljoen in bonusse ontvang volgens data wat Bloomberg ingesamel het. Sy vergoeding het verlede jaar R16,5 miljoen beloop, insluitend R8,8 miljoen in bonusse, al het die aandeelprys in dié tyd met 15% gedaal.

Volgens die departement het De Ruyter “beduidende” bestuurservaring in die nywerheids- en energiesektor. Hy is ook daarmee vertroud om met vakbonde te onderhandel, sê Darias Jonker, direkteur van Eurasia Group.

“Sy gebrek aan ervaring by Eskom beteken egter hy het ’n skerp leerkurwe wat voorlê.”

Die feit dat hy geen politieke affiliasie het nie, tel wel in sy guns, sê Jonker.

“Dit is duidelik die Ramaphosa-administrasie wil hê De Ruyter moet op bestuur fokus en nie op politiek nie.”

Eskom se grootste vakbond sê hy was nie bewus van De Ruyter as kandidaat vir die toppos nie en keur nie sy aanstelling goed nie.

Paris Mashego, energiekoördineerder van die NUM, beskryf De Ruyter se rekord as “twyfelagtig”.

“Hy het Nampak verwoes en sal daarom nie ons steun geniet nie.” – Bloomberg

Meer oor:  Nampak  |  Eskom  |  Kragopwekking  |  Staatsondernemings  |  Uitvoerende Hoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.