Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Koebaai, Caltex! Hallo, Astron

Groetnis, Caltex! Hallo, Astron!

Die Caltex-handelsnaam gaan ná dekades nie meer by meer as 850 vulstasies in Suid-Afrika en Botswana pryk nie.

Astron Energy, nuwe eienaars van wat eers die Amerikaanse oliereus Chevron se bates in Suid-Afrika was, het besluit om sy handelsnaam by al sy bedryfseenhede te vestig. Die raffinadery in Milnerton, Kaapstad, wat 100 000 vate brandstof per dag kan lewer, is reeds herdoop tot die Astron-raffinadery.

Dit kom nadat ’n konsortium gelei deur Glencore in 2018 die meerderheidsbelang in Chevron Suid-Afrika gekoop het. Sedertdien het Astron die Caltex-handelsnaam ingevolge ’n lisensie-ooreenkoms bedryf.

Die instel van die nuwe handelsnaam by die netwerk van vulstasies sal oor die volgende paar jaar gedoen word en saamval met ’n opknappingsveldtog by alle bestaande vulstasies.

Alle Caltex-vulstasies sal oor die volgende paar jaar opgeknap en aangepas word met die nuwe handelsnaam Astron Energy. Foto: Astron Energy

“Dis ’n eenmaal-in-’n-leeftyd-geleentheid om onsself as ’n Afrika-energiemaatskappy te herontdek,” sê Braam Smit, waarnemende uitvoerende hoof van Astron Energy.

Dis deel van die groep se ambisie om die grootste brandstofhandelsnaam in Suid-Afrika te word.

Smit is op 12 Julie as waarnemende hoof aangestel. Hy het in 2019 by die groep begin as finansiële hoof, en was voorheen finansiële hoof van ’n Glencore-mynmaatskappy in Colombia. Hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester wat voorheen vir Blue Label Telecoms in Nigerië en Mosambiek gewerk het.

Benewens die meer as 850 vulstasies sluit die handelsnaam-opknapping ook die raffinadery in Milnerton, die smeermiddel-aanleg in Durban, 15 brandstofeindpunte, 180 kommersiële en nywerheidsdepots en Astron se kantoorgeboue in.

Die groep het bevestig dieselfde diens en produkte wat Caltex-klante by vulstasies kry, sal steeds daar wees, insluitend die oliehandelsname Havoline en Delo.

Astron Energy se voorganger is oorspronklik in 1911 in Suid-Afrika gestig toe die Amerikaanse groep Texaco begin het om olie in te voer.

Glencore besit 72% van Astron Energy Suid-Afrika, en 100% van Astron Energy Botswana. Die oorblywende belang van 28% word besit deur Off the Shelf Investments (OTS), wat 23% besit, en ’n werknemertrust, wat 5% besit.

Astron het bevestig die vennootskappe met FreshStop vir geriefswinkels by vulstasies, asook met Standard Bank vir die UCounts-lojaliteitsprogram, sal voortduur.

Die vlootkaart- en betalingstelsels Starcard en Access is Chevron-geregistreerde handelsname en mag net by Caltex-vulstasies gebruik word. Dit sal vervang word met nuwe produkte namate Caltex-vulstasies se name verander word, het Astron verduidelik.

Die Techron-handelsnaam sal ook wegval omdat dit ook slegs saam met Caltex gebruik kan word, en Astron sal ’n nuwe hoëgehalte-motorolieproduk bekend stel om dit te vervang.

k
Meer oor:  Petrol  |  Caltex  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.