Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Koeberg en korona? Kaapstad is tevrede
Die Kaapstad-metro is tevrede dat die bestaande noodplan vir die Koeberg-kernkragstasie robuus genoeg is om te midde van die nasionale inperking en die Covid-19-pandemie toepaslik te wees.

Die Kaapstad-metro is nie besorg dat die noodplan vir die Koeberg-kragstasie onvanpas is te midde van die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie nie.

Die plan om mense te verwyder “in die onwaarskynlike geval van ’n kernramp” by Koeberg is “betreklik robuus” en kan voldoen aan die regulasies oor die Covid-19-pandemie, sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid.

Dit kom ná kommer van die aksiegroep Koeberg Alert Alliance, wat meen Eskom se Koeberg-kragstasie behoort vir die duur van die inperking eerder te sluit omdat die huidige noodplan nie prakties uitvoerbaar is te midde van die inperking nie.

Dit is volgens die alliansie weens die vereiste dat duisende mense binne ’n beperkte tyd met busse uit die 5 km- en 16 km-sones rondom Koeberg verwyder moet word ingeval van ’n ramp. Dit sou beteken dat die vereiste vir sosiale distansiëring tussen mense nie prakties gehandhaaf sou kon word nie.

Die Koeberg Alert Alliance meen ook die moontlike invloed van die siekte op die tegniese personeel by Koeberg skep ’n risiko om die kernkragstasie veilig te bedryf.

Smith sê busse wat in ’n noodgeval gebruik moet word om mense te verwyder sal ontsmet word vir moontlike radioaktiewe bestraling, asook van moontlike besmetting weens die koronavirus.

As enigiets by Koeberg verkeerd sou loop, sal dit volgens Smith tot ’n nasionale ramp verklaar word en sal Kaapstad die nodige hulpbronne van die nasionale regering kry, wat weermaghulp insluit.

Daar is ooreenkomste met ander munisipaliteite om sorgsentrums vir ’n massa mense beskikbaar te stel sou dit benodig word.

Die eerste vergadering van 2020 van die Koeberg-openbare-veiligheidinligtingsforum, ’n forum wat vier keer per jaar byeenkom, was vir 26 Maart beplan, maar is gekanselleer weens nasionale inperking, wat daardie aand sou begin, blyk uit ’n nota op die Nasionale Kernreguleerder (NNR) se webblad. Die forum is ’n geleentheid waar inwoners binne die munisipale gebied waar Koeberg geleë is, oor veiligheidsaspekte by die kragstasie kan beraadslaag.

Eskom het belowe om te reageer op die besorgdheid van die Koeberg Alert Alliance, terwyl ’n woordvoerder van die NNR gesê het hulle wag op reaksie van die regering voordat hy ’n regulatoriese mening sal waag oor die situasie.

Koeberg Alert Alliance het briewe aan die presidensie en die gesondheidsowerhede gestuur om te vra oor die toepaslikheid van die huidige noodplan vir Koeberg, maar het nog nie reaksie ontvang nie.

Die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) het Woensdag aangekondig hy het sy pogings versnel om die operateurs van kernkragstasies wêreldwyd by te staan met kennis en riglyne hoe om te midde van die pandemie en inperkings steeds kernaanlegte veilig te bedryf.

Peter Tarren, hoof van die IAEA se afdeling vir bedryfsveiligheid, sê in ’n verklaring ’n belangrike vereiste is dat kernkrag-operateurs ’n minimum kerngroep van personeel aan diens by reaktors moet hê om te sorg dat reaktors veilig bedryf en afgesluit kan word indien nodig. Die IAEA het ’n netwerkplatform geskep waar kernkraglande by mekaar kan leer oor beste praktyk in die bedryf van kernreaktors tydens die pandemie.

Volgens die IAEA se inligting is al 442 kernkragreaktors wêreldwyd in bedryf ondanks die pandemie, en lewer hulle meer as 10% van die wêreld se elektrisiteit.

In Frankryk, wat meer as 70% van sy elektrisiteit van kernkrag kry, het die Franse kernkragmaatskappy EDF die personeel by sy Flamanville-kernkragstasie in die noorde van Frankryk van 800 tot 100 verminder weens die uitbreking van die pandemie in die omgewing.

Meer oor:  Eskom  |  Covid-19  |  Ramptoestand  |  Ontruiming  |  Koronavirus  |  Kernkrag  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Koeberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.