Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Koeberg se noodplan ‘sal nie nou werk’
Die Koeberg-kernkragsentrale aan die Weskus. Foto: Argief

As daar nóú iets skeefloop by die Koeberg-kernkragstasie en die mense in die omringende gebied aan die Kaapse Weskus moet ontruim word, is die huidige noodplan vir Koeberg nie werkbaar te midde van die nasionale inperking nie.

’n Groep omgewingsgroepe en gemeenskapsorganisasies het Dinsdag gesê Eskom behoort die oorblywende kragopwekkingseenheid by Koeberg ook af te skakel vir die duur van die nasionale inperking in die stryd teen die Covid-19 pandemie.

Peter Becker van Koeberg Alert Alliance, ’n aksiegroep wat die kernkragstasie se bedrywighede monitor, stel in ’n brief aan die presidensie se nasionale bevelsraad en die gesondheidsowerhede voor dat die eenheid van 900 MW vir die duur van die inperking ook eerder afgesluit word. Volgens Eskom-syfers is die nasionale kragvraag in elk geval tans meer as 7 500 MW laer en het die land nie die krag nodig nie.

Die ander eenheid van Koeberg is reeds vroeër gesluit tot einde April.

Die huidige noodplan vir Koeberg is laas in 2015 opgestel en behels dat MyCiti-busse gebruik word om inwoners in die gebiede rondom Koeberg binne 4 tot 16 uur te ontruim, volgens Becker. Op grond van 2001-syfers het dit die skuif van 79 000 mense behels, maar dis tans onbekend hoeveel mense in die gebied woon, waarsku Becker.

Die MyCiti-busdiens het tydens die inperking beperkte bedryfsure en die maatreëls om ’n veilige afstand tussen mense te behou sal beteken die busse sal nie volgelaai kan word nie, wat meer busritte sal beteken as wat in die plan aangeneem word.

Die noodplan behels verder dat mense na tydelike skuilings geneem word, maar te midde van die pandemie sal dit ’n grootskaalse probleem skep om honderde en dalk duisende mense bymekaar te moet laat bly in ’n tydelike skuiling soos die Bellville Velodrome.

Mense net buite die amptelike ontruimingsone sal in geval van ’n kernramp waarskynlik moet kies of hulle vrywillig wil ontruim of by die reëls van die pandemie-inperking wilhou en tuisbly.

Kritieke tegniese personeel van Koeberg kan geraak word deur die virus, terwyl ’n klein groep hoogs gespesialiseerde tegniese werknemers nodig is om die aanleg veilig te bedryf. Die risiko van ’n kernongeluk kan dus vergroot as van dié mense deur die virus platgetrek word. Van die noodprosedures by Koeberg is afhanklik van hoëvlak- tegniese steun van Franse kenners, terwyl Frankryk self nou onder ’n hoë besmettingskoers ly. Daar sal dus minder Franse tegnici beskikbaar wees om te kan help.

Liziwe McDaid, hoof van die energieportefeulje by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê dit sou ’n wen-wen-situasie wees en die gesondheids- én veiligheidsrisiko’s verminder as die tweede eenheid van Koeberg wel ook tydelik afgesluit word.

“Dit is hoogs tegniese mense wat Koeberg veilig moet bedryf en as van hulle siek word wil ons nie hê minder bekwame mense moet vir die kragstasie verantwoordelik wees nie.”

Volgens Becker word daar van die weermag verwag om te help in die geval waar Koeberg en die omringende gebied ontruim moet word, maar die weermag word tans nasionaal ontplooi om die inperkingsmaatreëls te help polisieer.

Eskom en die Nasionale Kernreguleerder het ten tyde van publikasie nog nie op navrae gereageer nie.

Die Kaapstad-metro se rampbestuursentrum is ook om kommentaar genader. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Staat Van Inperking  |  Kernkrag  |  Elektrisiteit  |  Koeberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.