Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Komitee besorg oor krisis by PetroSA

Die parlement se portefeuljekomitee oor minerale bronne en energie het self gaan uitvind wat by die staat se brandstofmaatskappy PetroSA aangaan.

PetroSA se gas-tot-brandstof-aanleg in Mosselbaai. Foto: Verskaf

Die komitee is baie bekommerd oor die feit dat PetroSA se gasbronne einde vandeesmaand opdroog, is geskryf in ’n verslag oor die komitee se toesigbesoek aan die aanleg in Mosselbaai vroeër vanjaar.

Die verslag is Woensdag op ’n komiteevergadering bespreek.

PetroSA se direksie het ingestem om hul direksiefooie met 30% te sny, en van die oortollige bates in die maatskappy gaan vir R100 miljoen verkoop word, het die komitee verneem. Maar dit sal steeds nie genoeg wees nie en afleggings is onafwendbaar.

Die komitee is besorg oor die swak verhoudinge tussen PetroSA en die Mosselbaai-munisipaliteit. Daar is ook swak verhoudinge tussen PetroSA en sy werknemers se vakbonde. Vakbonde se voorstelle oor hoe om die maatskappy te red word volgens vakbondverteenwoordigers nie ernstig opgeneem nie.

Die komitee het verneem van ’n omstrede projek van PetroSA om 87 000 songeisers in die Mosselbaai-omgewing te laat installeer. Skynbaar is nog net enkele van dié songeisers al geïnstalleer.

’n Groot rede vir PetroSA se penarie is die mislukking van die sogenaamde Projek Ikhwezi, wat veronderstel was om nuwe aardgasbronne te vind. Die projek se vyf boorgate het nie noemenswaardig nuwe gasvoorraad opgelewer nie.

Van die komitee se aanbevelings is dat die amptenare wat verantwoordelik was vir die songeiser-projek aan die parlement moet kom verantwoording doen. Die komitee wil teen vroeg volgende jaar terugvoering kry oor alle forensiese ondersoeke wat onder meer oor Projek Ikhwezi gedoen is.

Die komitee het aanbeveel Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, moet met die Franse oliereus Total skakel en die komitee op die hoogte hou oor die vordering om gas van Total te koop om die PetroSA-aanleg aan die gang te hou.

Kevin Mileham, DA-lid van die komitee, het genoem Total en verskeie ander waarnemers het reeds daarop gewys dit kan nog vyf tot sewe jaar duur voordat aardgas van Total se ontdekkings aan die Suid-Kaapse kus beskikbaar sal wees. Total is nog besig met sy eksplorasie.

Die komitee wil hê die Sentrale Energiefonds, moedermaatskappy van PetroSA, en die departement van minerale bronne en energie moet saamwerk om werkverliese by PetroSA te vermy.

Die Sentrale Energiefonds is besig met ’n proses om PetroSA saam met twee van sy ander filiale – die Strategiese Brandstoffonds en iGas – te laat saamsmelt in ’n poging om die onderneming van ondergang te red.

Meer oor:  Petrosa  |  Gwede Mantashe  |  Staatsondernemings  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.