Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kommer oor krag terwyl koue op SA toesak

Net toe ’n kouefront op die land toesak, reën, sneeu en sterk wind inkluis, pleit Eskom by Suid-Afrikaners om krag te bespaar.

Die kragnetwerk is “onder kwaai druk”, volgens Eskom.

Dit kan nog ’n koue, donker winter word te midde van die inperking. Foto: Unsplash

Eskom vra in ’n twiet dat mense alle onnodige ligte, hul warmwatersilinder, swembadpomp en nienoodsaaklike toestelle afskakel.

Dis die tweede waarskuwing oor die kragnetwerk wat Eskom in twee weke uitstuur. Verlede week het ’n woordvoerder egter verseker dit beteken nié noodwendig dat beurtkrag op hande is nie.

Die nutsmaatskappy sê sy aankondigings dat daar druk op die netwerk is, is ’n “proaktiewe vrywillige besluit om verbruik te bestuur en die vraag deur die wintertyd gelyk te maak”.

Eskom verwag ’n minimum van drie dae beurtkrag op fase 1 in die winter, en die grootste risiko is tussen 17:00 en 20:00 wanneer die vraag na krag op sy hoogste is, het Bheki Nxumalo, hoof van opwekking, verlede week in ’n voorlegging oor die stand van die netwerk gesê.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, sê die jongste verwagting is gegrond op ’n verwagte vraag na krag van gemiddeld 32 500 megawatt (MW) per dag tydens Julie, wanneer Eskom verwag dat die staat van inperking gelig sal word.

Die energiekommentator Ted Blom, konsultant van Mining & Energy Consultants, is egter baie pessimisties. Hy reken die ergste beurtkrag wat Suid-Afrikaners nóg gesien het, kan voor die einde van Junie al toeslaan soos wat swaar nywerhede soos myne en smelterye weer begin werk – en ook soos wat die winter begin.

Suid-Afrikaners het laas op 15 Maart – meer as twee maande gelede – beurtkrag beleef.

Die vraag na krag sal op 1 Junie aansienlik toeneem omdat die meeste ondernemings weer hul deure mag oopmaak op vlak 3 van die staat van inperking.

Volgens Eskom se weeklikse verslag oor sy kragreserwes het sy totale opwekkingsvermoë in die week tot 17 Mei tussen 35 042 MW en 36 386 MW per dag gewissel. Verbruik het tussen 28 623 MW en 30 139 MW gewissel.

Die nutsmaatskappy se reserwekrag het tussen 4 026 MW en 6 521 MW gewissel, wat ’n besonder dun marge laat vir onbeplande foute by kragstasies. Die reserwekrag is die verskil tussen sy opwekkingsvermoë (ingesluit die opwekking van hernubare krag deur onafhanklike kragprodusente) en die vraag na krag.

Meer oor:  Eskom  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.