Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kommissie kap Eskom oor Duvha-kontrak

Eskom moet die R4 miljard-kontrak vir die herstel van die Duvha-kragstasie se stoomketel kanselleer en moet ook ’n onafhanklike oudit van al sy kontrakte van meer as R1 miljard sedert 2014 doen.

Daarby moet die individue wat die tender toegeken het, ondersoek word.

Skade ná die ontploffing by Duvha in Maart 2014.

Dis onder die aanbevelings wat die Kommissie vir Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging (die B-BBEE Commission) Woensdag aangekondig het nadat hy bevind het Eskom het bemagtigingsvereistes verontagsaam toe die tender aan ’n Chinese firma, Dongfang, toegeken is.

Dit het die kommissie 20 maande geneem vandat hy aangekondig het hy ondersoek die kontrak totdat dié bevinding gedoen is. Die kommissie val onder die vaandel van die departement van handel en nywerheid.

Die kommissie het bevind die toekenning van die tender oortree art. 10(1)(b) van die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging, asook Eskom se eie verkrygingsprosedures.

Duvha se stoomketel is in ’n skouspelagtig ontploffing by die kragstasie in Mpumalanga in Maart 2014 beskadig .

Die tender vir die herstel daarvan is in Julie 2017 in die hooggeregshof in Johannesburg bevries en terugverwys na Eskom.

Dongfang het die kontrak gekry danksy die bemiddeling van Trillian Capital Partners, ’n firma waarvan die Gupta-meeloper Salim Essa die grootste aandeelhouer was. Hy het in 2017 sy aandele in Trillian verkoop.

Die B-BBEE Commission sê in ’n verklaring hy het sy ondersoek ná ’n “naamlose klag” begin.

Dongfang het “0% swart eienaarskap”, terwyl die tender vlak 4-bemagtiging vereis het, ’n vlak wat slegs bereik kan word indien daar ’n mate van swart eienaarskap, bestuur en ander vorme van bemagtiging by ’n maatskappy is.

Staatsinstellings móét aan die wet voldoen “en nie net wanneer hulle wil nie,” sê die kommissie in ’n verklaring. “Daarom, benewens die aanbeveling dat die kontrak gekanselleer word en ’n onafhanklike oudit by Eskom gedoen word, beveel ons ondersoeke aan in verband met amptenare wat by dié tenderproses betrokke was sodat beslissende optrede gedoen kan word om dit in die toekoms te vermy.”

Die kommissie sê daar is ’n sterk vermoede dat die tenderproses “doelbewus gekompromitteer is”.

Die aanbevelings is ook aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Tito Mboweni, minister van finansies, oorhandig “vir verdere oorweging”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.