Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Koolstof-taks: 1 Junie is D-dag vir dié morsjorse

Van Saterdag af moet Suid-Afrikaanse maatskappye betaal vir die koolstofdioksied wat hulle vrystel, maar as die regering werklik skoner lug wil hê, moet hy dit makliker maak vir ondernemings om hul eie skoon krag op te wek, sê rolspelers.

’n Argieffoto van Witbank in Mpumalanga wat gebuk gaan onder erge lugbesoedling. Die regering stel van 1 Junie af ’n CO2-belasting in werking om besoedeling te probeer verminder. Foto: Verskaf

Dis veelbesproke belasting op die vrystelling van koolstofdioksied wat op 1 Junie in werking tree, is veronderstel om Suid-Afrika se koolstofdioksiedspoor aansienlik te verklein.

Modelle wat die Wêreldbank in 2016 ontwikkel het, het getoon dat dié belasting koolstofdioksiedvrystellings van tussen 13% en 14,5% teen 2025 tot gevolg kan hê. Dit kan teen 2035 selfs verder krimp – tussen 26% en 33%, vergeleke met ’n situasie waar daar geen koolstofbelasting gehef sou word nie, het die Wêreldbank bereken.

Maar in sakekringe heers daar ongelukkigheid oor die regering se wetgewing en regulasies wat uit pas is met mekaar.

“Die regering wil byvoorbeeld nywerhede aanmoedig om van skoner krag gebruik te maak, maar hulle maak dit nie vir hulle maklik om hul eie energie op te wek nie,” sê Hugo Pienaar, hoofekonoom by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch.

Chris Griffith, uitvoerende hoof van Amplats, het onlangs in ’n onderhoud met Sunday Times gesê die platinummyngroep ontwikkel ’n sonkragaanleg wat tussen 75 MW en 100 MW se skoon energie kan opwek, maar die regering beperk ondernemings tot 10 MW.

“Mynmaatskappye moet baie meer krag opwek – en 10 MW gaan hulle nie ver bring nie,” het Pienaar gesê.

Die regering wil nywerhede aanmoedig om van skoner krag gebruik te maak, maar hulle maak dit nie vir hulle maklik om hul eie energie op te wek nie.
Hugo Pienaar van die BEO

Dr. Tsakani Mthombeni, voorsitter van die energie-intensiewe verbruikersgroep (EIUG), wat meer as 30 ondernemings soos Sasol en myngroepe insluit, het aan Rapport gesê die groep betwis nie die feit dat Suid-Afrika sy koolstofspoor moet verminder nie en dat besoedelaars moet betaal vir die skade wat die vrystelling van koolstofdioksied berokken nie.

Hy meen egter dit kom op die verkeerde tydstip te midde van ’n uiters lae ekonomiese groeikoers wat swaar nywerhede se inkomste en winste en hul vermoë om tot die land se BBP by te dra, net verder sal knou.

Die Reserwebank het Donderdag sy vooruitskatting vir ekonomiese groei in 2019 opnuut afwaarts aangepas – van ’n vorige 1,3% tot 1%.

“Die CO2-belasting en die meganisme waarvolgens die regering begroot vir koolstofdioksiedvrystelling is nie in pas met mekaar nie,” sê Mthombeni.

Volgens hom kan die regering baie meer aansporings instel om swaar nywerhede aan te moedig om oor te skakel na groentegnologie, aangesien die oorgang uiters duur is.

Die CO2-belasting is vasgestel op R120 per ton CO2. Daar is wel ruim vergunnings gemaak, wat beteken belasting word uiteindelik net op tussen 6% en 40% per ton van vrystelling gehef, en sekere sektore (landbou, bosbou en die afvalbedryf) is voorlopig daarvan kwytgeskeld. Volgens die tesourie is daar nog nie ’n akkurate manier om dié sektore se vrystelling vas te stel nie.

Meer oor:  Chris Griffith  |  Besoedeling  |  Koolstof  |  Omgewing  |  Koolstoftaks  |  Koolstofbelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.