Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Koop jy krag by Eskom? So lyk jou tariewe nou

Dis nou makliker om te bepaal hoeveel jy vir krag moet begroot nadat Eskom die tabelle van sy nuwe tariewe gepubliseer het.

Large concentration of Power lines and pylons. (Ph
Kragtariewe vir mense wat krag regstreeks van Eskom koop, het reeds gestyg. Munisipale kliënte weet nog nie wat hul nuwe tariewe is nie. Foto: Getty Images

Huishoudings wat hul krag regstreeks van Eskom koop, betaal vanaf 1 April gemiddeld 15,06% meer per eenheid vir hul krag.

Eskom het bekend gemaak huishoudings wat tot 600 eenhede krag gebruik, betaal nou 182,21c per eenheid, ingesluit belasting op toegevoegde waarde. ’n Eenheid is ’n kilowattuur (kWh).

Huishoudings wat meer as 600 eenhede krag gebruik, betaal ’n aansienlik hoër tarief van 309,71c per kWh op elkeen van die eenhede meer as 600 kWh.

Die tariewe is vir die meeste huishoudings, wat ’n lading van 60 A het.

k

Eskom se verklaring maak dit duidelik dit maak nie saak of jy al jou krag op een slag koop of in verskillende sarsies nie – iets waaroor baie mense twyfel. Die eerste 600 kWh word op die goedkoper tarief bereken en alle eenhede meer as dit op die duurder tarief, ongeag hoeveel keer per maand jy krag koop.

Op die eerste van elke maand begin jy weer met ’n skoon lei en word jou eerste 600 kWh op die goedkoper tarief bereken.

Huishoudings wat altesame 600 kWh se krag per maand gebruik, gaan nou R1 093,26 opdok. Huishoudings wat altesame 800 kWh se krag per maand gebruik, gaan nagenoeg R1 712,68 opdok.

Baie klein huishoudings, met ’n lading van 20 A, het ’n ander tariefstruktuur. Hulle betaal 160,99c per eenheid vir die eerste 350 kWh en daarna 182,41c.

Die tariewe geld vanaf 1 April.

In dieselfde aankondiging maak Eskom bekend munisipaliteite moet hom vanaf 1 Julie 17,8% meer vir krag betaal. Dis ’n onheilspellende syfer vir verbruikers wat hul krag van munisipaliteite aankoop, aangesien hulle op hul beurt die styging van huishoudings en ondernemings moet verhaal.

Munisipaliteite se voorgestelde tariefstygings is nog nie by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien vir goedkeuring nie. Dit sal ook eers op 1 Julie in werking tree.

FNB het onlangs gewaarsku mense sal die botter maar dun moet smeer om voorsiening te maak vir duurder krag.

Die bank het bereken sy kliënte het tussen 2019 en 2020 ook ’n styging van tussen 9% en 15% in hul kragrekeninge beleef.

LEES OOK: Só ruk duurder krag jou sak

Lesers het daarop gereageer met heelwat wenke om krag te bespaar en só hul huishoudelike besteding aan krag te verminder of minstens in toom te hou, selfs al styg die tariewe.

LEES OOK: Krag: Dié leser is ’n superspaarder

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.