Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Korona, Opul-twis laat olieprys skerp val

Die skerp val in die olieprys sedert verlede week is goeie nuus vir olie-invoerlande soos Suid-Afrika, maar slegte nuus vir olie-uitvoerlande.

Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande kon nie Vrydag ooreenstemming bereik oor die sny van produksie nie. Foto: Reuters

Die daling is deels weens die invloed van die virussiekte Covid-19 op die internasionale ekonomie wat die vraag na olie demp, maar dit kom ook te midde van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy vennote wat nie Vrydag ’n ooreenkoms oor nuwe produksieperke kon bereik nie.

Opul, ’n kartel wat meestal bestaan uit die groot olieproduserende lande in die Midde-Ooste tesame met ’n paar ander olieprodusente soos Nigerië, Angola en Venezuela, vergader gereeld by sy hoofkantoor in Wene, Oostenryk om oor produksieperke te besluit in ’n poging om oliepryse te stabiliseer.

Vrydag se dooiepunt in gesprekke het ontstaan nadat Rusland, wat nie amptelik lid is van Opul nie maar as groot internasionale olieprodusent ’n strategiese vennoot van Opul is, nie wou instem tot Saoedi-Arabië se eis dat Rusland deel in die sny van nog 1,5 miljoen vate per dag nie.

Opul en sy vennote beheer bykans die helfte van die wêreld se olieproduksie.

Benewens ’n besluit oor die sny van produksie met 1,5 miljoen vate per dag, moes Opul+, soos die groepering van 20 lande bekend staan wat deel uitmaak van Opul en sy vennote, ’n verlenging van ’n bestaande ooreenkoms bekragtig. Dit is om soveel as 2,1 miljoen vate per dag minder te produseer. Dié ooreenkoms is in Desember bereik en dit verstryk aan die einde van Maart. Sonder die bekragtiging om dit te verleng, beteken dit lidlande kan van 1 April af soveel olie produseer en uitvoer as wat hulle wil.

Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande en sy internasionale vennote soos Rusland beheer byna 50% van die wêreld se olieproduksie.

Brent-ruoliepryse het Vrydag in Londen met byna 10% getuimel tot $45,27 per vat – die laagste vlak sedert middel 2017.

West Texas Intermediate, die Amerikaanse olieprysmaatskappy, was Vrydag 10% laer op $41,28. Bloomberg-syfers wys geraffineerde produkte soos verhittingsolie en petrol het op die internasionale kommoditeitsmarkte ook skerp met tussen sowat 7% en 9% geval.

Die invloed daarvan op Suid-Afrikaanse brandstofpryse sal waarskynlik deur die loop van die week gesien word namate die Sentrale Energiefonds sy jongste oor- en onderverhalingsyfers uitstuur wat op die randdollar-wisselkoers en internasionale produkpryse gegrond word. Heelwat van die daling in internasionale brandstofpryse kan na verwagting weggekalwe word deur die swakker rand, wat die afgelope weke skerp van onder R15 teen die dollar tot bo R15,60 verswak het.

Meer oor:  Opul  |  Olieprys  |  Koronavirus  |  Brandstofprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.