Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Koue sweet oor Eskom? 13 redes hoekom

Eskom is soos ’n afgeknoude jeugmisdadiger wat net nie kan wegbreek van sy boelies of van sy eie slegte gewoontes om ander te boelie nie.

Hier volg die ontleder Peter Attard Montalto van Intellidex se begrip van Eskom se jongste jaarresultate en die implikasies daarvan. Sien ook grafika hieronder.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA  JANUARY 30:(SOUTH AFRI
Daar heers kommer oor Jabu Mabuza se dubbele rol by Eskom. Foto: Getty Images

  

1. Geen nuwe idees en onsekere beloftes

Montalto wys op twee kernwaarhede wat Phakamani Hadebe, uittredende uitvoerende hoof van Eskom, op die mediakonferensie Dinsdag geuiter het – dat Eskom in ’n doodspiraal is deurdat sy verkope algaande daal namate sy tariewe styg, en dat Eskom ’n aardbewing nodig het om hom wakker te skud.

Dis volgens Montalto straks ’n verwysing na die stagnasie waarin Eskom hom bevind, want met die gebrek aan politieke leierskap, politieke dwarswinde en terselfdertyd politieke mikrobestuur het daar nie nuwe idees die lig gesien oor hoe Eskom reggeruk gaan word nie, maar bloot onseker beloftes is gemaak.

  

2. Grootste verlies tot nog toe

Die markte het aanvanklik positief gereageer op die resultate, want die verlies van R20,7 miljard was minder as die verwagte R25 miljard. Maar dis die grootste verlies wat ’n Suid-Afrikaanse staatsonderneming tot dusver bekend gemaak het.

  

3. Kontant krimp

Die eintlike syfer wat Montalto bekommer is die netto skuld wat met R44,1 miljard gestyg het, en Eskom se kontantbalans aan die einde van die boekjaar wat van R15,8 miljard ’n jaar gelede tot R2 miljard gekrimp het.

LEES OOK: Dié verlies 'maar net die begin'

  

4. Selfs staat se reddingsboei nie genoeg

Die rente op skuld wat Eskom moet betaal gaan in die komende jaar van R69 miljard tot R84 miljard styg. Montalto reken daar gaan steeds ’n tekort van R5 miljard wees op Eskom se balansstaat ondanks die reddingsboei van altesaam R49 miljard vir die lopende boekjaar.

  

Electricity pylons stand as emissions rise from th
Elektrisiteit word by Eskom se Kendal-kragstasie opgewek. Foto: Getty Images

5. Maar Eskom is te bang om poste te sny

Eskom verwag sy personeelgetalle sal teen einde 2020-’21 met nog 3 000 daal, maar dit is minimaal teenoor die 16 000 wat genoem is in voorstelle in Desember verlede jaar, en ver minder as die 66% van personeel wat volgens die Wêreldbank gesny behoort te word.

LEES OOK: Eskom 'gaan nie werkers aflê'

  

6. Nog hofsake teen Nersa

Eskom gaan in die komende weke by die nasionale energiereguleerder (Nersa) aansoek doen vir terugwerkende inkomste van R27 miljard uit die aansuiweringsrekening (RCA). Montalto dink enige sukses hiermee sal deur laer kragverkope opgeslurp word. Hy twyfel of Eskom selfs ’n derde hiervan sal terugkry, want as die rede vir die aansoek is omdat hy meer moes bestee aan dieselkragopwekking en instandhouding, is Nersa langtand om dit toe te staan.

Die aansuiweringsrekening-proses is waar Nersa geld aan Eskom teruggee of wegvat wanneer sy werklike inkomste en uitgawes verskil van dit wat voorsien is toe die tariewe vir die spesifieke tydperk bepaal is.

Montalto is ook skepties oor Eskom se sukses met ander hofsake teen Nersa se besluite.

  

7. Koolstofbelasting en ander bedreigings

Teen die 2021-’22-boekjaar is die geld van die jongste spesiale toedelingswetsontwerp opgebruik, en Montalto verwag reddingsboeie van onderskeidelik R24 miljard en R23 miljard sal in daardie jaar en die jaar daarna benodig word. Maar teen 2023 sal Eskom koolstofbelasting moet betaal, en dit sal hom oor tien jaar R300 miljard kos.

Teen daardie tyd kan daar weer politieke druk wees vir hoër loonverhogings. Boonop is die koste om Eskom se ou steenkoolkragstasies af te takel onbekend.

As Eskom nie sy skuld herstruktureer nie, sal sy skuldgat dus bloot net dieper word. Die ander onaptytlike opsie is natuurlik nimmereindigende reddingsboeie deur die belastingbetaler.

  

8. Stygende kragtariewe grawe die gat dieper

Montalto vind dit bisar dat Eskom steeds tariewe wil verhoog en geld wil terugvra van vorige tariewe. Hy stem saam tariewe weerspieël nie werklike koste nie, maar die vraag is of die koste wel verstandig aangegaan word. En selfs dan is daar ’n argument uit te maak dat Eskom nie sy tariewe verby ’n sekere punt kan verhoog voordat die ekonomie en mense wat nie van Eskom kan ontsnap geskaad word nie.

  

9. G’n woord oor voorwaardes

Tito Mboweni, minister van finansies, het vroeër met groot bravade gepraat van streng voorwaardes vir Eskom se reddingsboei van belastingbetalers, maar Dinsdag is steeds niks daaroor gesê nie. Deursigtigheid daaroor sou nuttig wees vir Eskom se krediteure, sê Montalto.

  

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MAY 14: South African
Suid-Afrikaners is keelvol vir die probleme by Eskom. Foto: Getty Images

10. Geen breër energie-konteks

Die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat ’n bloudruk moet wees van Suid-Afrika se kragplanne tot 2030 en verder, is veronderstel om ’n raamwerk te skep van ’n hersiende energiesektor waarin Eskom se planne moet inpas. Maar dit is steeds vertraag en sal glo eers in September voor die kabinet dien.

Dit kan boonop deur regstappe bevraagteken word omdat dit na verwagting weer nuwe kernkrag en steenkoolkrag gaan insluit (noudat daar ’n mynbou-minister in beheer van die departement van energie is). Boonop is die IRP se aannames reeds verouderd en word dit nie op die laagste kragkoste gegrond nie.

  

11. Verwarring oor die regrukhoof

Dit het aanvanklik geklink asof die nasionale tesourie die herstruktureringshoof sou aankondig, maar Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vir Mboweni voorgespring. Maar dan was daar teenstrydighede in die departement van openbare ondernemings en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) se verklarings oor die pos.

Volgens Saica sal dié liggaam die kantoor van die regrukhoof opstel en finansier en Freeman Nomvalo, Saica se uitvoerende hoof wat dié werk gekry het, sal net dele van sy tyd aan die taak bestee, wat dit laat klink asof dit ’n deeltydse werkie is. In ’n telekonferensie met finansiële ontleders het Eskom genoem die aanstelling is vir drie jaar, terwyl Saica sê dis net vir ses maande.

Verder sal die herstruktureringshoof aan die Eskom-direksie, die departement van openbare ondernemings, die nasionale tesourie en die departement van energie verslag doen – wat klink soos ’n spaghetti-dis van verslagdoeningslyne.

Dit klink nie na ’n pos met genoeg mag om radikale verandering aan die gang te sit nie – eerder soos “dood weens komitee”, sê Montalto.

LEES OOK: Dit is hoe regrukhoof Eskom moet help

  

12. Waar is die Eskom-witskrif?

’n Witskrif oor die ontbondeling van Eskom is teen September belowe, maar dit klink volgens Montalto nie asof Eskom enige vordering gemaak het met die fynere besonderhede oor die ontbondeling nie.

Daar is nie politieke leierskap oor presies hoe die Eskom van die toekoms moet lyk nie – ’n sambreel van monopolieë of ’n nuwe transmissiemaatskappy van wêreldgehalte met ’n paar steenkoolkragstasies wat hy stelselmatig sal sluit. Die gepratery oor ’n “regverdige oorgang” na hernieubare energie is nog net retoriek.

   

13. Die tussentydse hoof

Volgens Montalto was Eskom-krediteure geskok om te hoor die voorsitter word nou ook die waarnemende hoof.

Dit wys daar was nie oorvleueling te vind tussen mense wat die pos wou hê, wat goed sou wees daarmee, of wat polities aanvaarbaar sou wees nie.

Eskom se bestuursuitdagings en risiko’s is tans so geweldig dat die stap om Jabu Mabuza as uitvoerende voorsitter aan te stel nie volgens Montalto vertroue inboesem nie, al is dit net vir drie maande. Mabuza is ook ’n direkteur in verskeie ander direksies, en is onlangs in die Multichoice-direksie ook aangestel.

Met beurtkrag wat weer wink is dit nie ’n positiewe stap nie.

LEES OOK: Kommer oor Mabuza se dubbele rol by Eskom

k
Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Resultate  |  Staatsondernemings  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.