Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Krag: Dié leser is ’n superspaarder

Om jou kragverbruik oor ’n tydperk van 20 jaar met 64% te verminder, is opsigself ’n prestasie.

Huishoudings met ’n swembadpomp het ’n gulde geleentheid om heelwat elektrisiteit te bespaar.

Maar in die proses het ’n Netwerk24-leser ook baie geld gespaar én daarin geslaag om sy kinders meer oor doeltreffende kragverbruik te leer.

Koos Grové skryf in kommentaar op die berig Só ruk duurder krag jou sak hoe hul huishouding hul kragverbruik van gemiddeld 2 500 eenhede – dus 2 500 kWh per maand – tot 900 eenhede verminder het.

Hier is van die dinge wat hy gedoen het om dit reg te kry.

Swembadpomp

Die swembadpomp, wat normaalweg 12 uur per dag geloop het, loop in die somer nou net 6 uur per dag en in die winter net 4 uur per dag;

Water

Die gesin het weens onder meer droogte en die dreigende Dag Zero van ’n jaar of wat gelede in die Wes-Kaap besluit om baie suiniger met water om te gaan.

Dit het beteken een warmwatersilinder van 150 liter is genoeg vir vier mense, en die ander geiser is afgeskakel.

Die temperatuur van die geiser is boonop afgestel tot 57 grade Celsius (loodgieters beveel gewoonlik aan dat ’n geiser nie laer as 50 grade Celsius gestel word nie anders kan bakterieë in die water begin groei).

Daar is ook ’n tydskakelaar aan die geiser aangebring.

Hoe minder water jy gebruik, hoe minder water hoef verhit te word, en jy spaar dus water én krag, verduidelik Grové. Munisipale water word gewoonlik op ’n progressiewe glyskaal verkoop, so hoe minder water verbruik word, hoe minder betaal ’n huishouding per eenheid water.

Toestelle

Grové sê hy het ’n opname gemaak van al die elektriese toestelle in die huis en teen lae koste kon hy drastiese besparings bewerkstellig. As ’n elektriese toestel gebreek het, is dit vervang met ’n verbeterde kragsuiniger weergawe.

Beligting

Ligte gebruik oor die algemeen min krag en mense dink dus dikwels nie veel daarvan om ligte maar aan die brand te hou nie. Maar Grové het twee halogeenligte van 150 watt elk wat minstens 6 uur per dag gebrand het, met nuwe LED-ligte vervang wat ’n groot verskil aan sy kragrekening gemaak het.

Opvoeding

Grové sê in die proses kon hy sy kinders ook leer om meer spaarsamig te wees.

“Ek het my kinders gedril om ligte agter hulle af te sit. Ek was onder die indruk hulle verstaan hoekom.”

Maar toe sy seun uit die huis is en sy eie potjie moes krap, het hy nie geweet ’n mens betaal vir elektrisiteit nie. Noudat hy weer in sy ouerhuis woon, sit hy ligte getrou af.

Grové se dogter het op haar beurt ’n voorafbetaalde kragmeter en het gou besef hoeveel krag ’n geiser wat heeldag aan is, onnodig gebruik. Sy skakel nou die geiser net vir ’n uur aan voordat sy wil stort.

Meer oor:  Spaarwenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.