Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Krag kan in April tot 11% duurder word

Eers was dit 5,22%, toe word dit 8,12%, en uiteindelik kan dit óf 9,53% of 10,95% wees.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Reuters
Kragtariewe gaan vanjaar skerp styg, ongeag hoe Nersa die syfers verwerk. Foto: Gallo Images/Reuters

Dís wat Eskom-kliënte van 1 April af meer vir elektrisiteit sal moet betaal. Eskom-kliënte is mense wat regstreeks by Eskom krag koop, asook munisipaliteite, wat op hul beurt krag aan die meeste huishoudings verkoop. Munisipale kragtariewe styg egter eers in Julie.

Die tot 10,95% is erg, maar dit kon baie erger gewees het. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het Donderdag sy hersiende besluite aangekondig oor terugwerkende kragtariefaansoeke van Eskom, waaroor die hooggeregshof hom (Nersa) vroeër teruggestuur het om te herbesin.

Dit behels opsommend dat Nersa ’n ekstra R6 miljard se toegelate inkomste aan Eskom toeken, het Nhlanhla Gumede, reguleerder van elektrisiteit by Nersa, Donderdag aan die media gesê.

Nersa sal einde Februarie bekend maak hoe skerp die verhoging in April gaan wees, afhangend van sy besluit of die ekstra R6 miljard oor een of twee jaar van kragverbruikers verhaal moet word.

Eskom se aansoeke

Eskom het oorspronklik het in sy terugwerkende aansoeke vir die tariefjare 2014-’15, 2015-’16 en 2016-’17 vir R66,6 miljard se ekstra inkomste gevra. Daarby het hy R5,4 miljard ekstra vir ’n bykomende terugwerkende aansoek vir die 2018-’19-tariefjaar gevra.

Nersa het aanvanklik slegs R32,67 miljard toegeken uit die totaal van meer as R66 miljard wat Eskom ekstra vir die eerste drie jare gevra het, waarna Eskom het hom tot die hof gewend het.

Die hooggeregshof het in Junie verlede jaar in Eskom se guns beslis, Nersa se besluite tersyde gestel en hom beveel om die somme oor te doen.

Nou het Nersa besluit om R4,749 miljard ekstra aan Eskom toe te ken vir die eerste drie jare, en het R1,288 miljard vir die 2018-’19-tariefjaar toegestaan.

Nhlanhla Gumede van Nersa.
Minimum en maksimum

As die ekstra net meer as R6 miljard oor een jaar van kragverbruikers verhaal moet word, sal die totale nominale tariefverhoging van 1 April af 10,95% moet wees, maar as dit oor twee jaar verhaal word, sal krag in April 9,53% duurder word.

Dit is nadat Nersa reeds in Mei verlede jaar ’n ekstra meer as R13 miljard aan Eskom toegestaan het wat oor twee jaar verhaal word, en wat vanjaar se tariefverhoging, wat aanvanklik net 5,22% sou wees, tot 8,12% opgestoot het, het Gumede verduidelik.

Eskom het aanvanklik vir ’n verhoging van 15% per jaar oor drie jaar gevra.

Eskom se reaksie

Hasha Tlhotlhalemaje, hoofbestuurder van regulering by Eskom, het Donderdagmiddag in reaksie op Nersa se besluit gesê Eskom sou verkies dat verbruikers betaal vir die krag wat hulle gebruik, eerder as dat belastingbetalers die las moet dra.

Hoewel kwesbare gemeenskappe deur gratis kragtoelaes gesubsidieer word, is dit nie wenslik dat belastingbetalers moet instaan om kragvoorsiening te subsidieer nie, want dit beteken ander staatsprogramme ly dan daaronder. Tlhotlhalemaje het nie aangedui of Eskom weer teen die jongste besluit gaan appelleer nie.

’n Nersa-amptenaar het aan die media gesê dit staan Eskom vry om wel weer die jongste besluit op hersiening in die howe te neem.

En dis nie al nie

In nog ’n omstrede saak maak Eskom beswaar teen Nersa se besluit om ’n reddingsboei van R23 miljard (wat Eskom as ’n hulppakket van R69 miljard oor drie jaar van die staat gekry het) nie deel van sy toegelate inkomste te maak nie. Dit was as deel van Eskom se veeljarige tariefaansoek vir 2019-’20 tot 2021-’22.

Die saak word Vrydag in die hof aangehoor en Nersa-amptenare wou nie Donderdag kommentaar daarop lewer nie.

Volgens Gumede neem die vraag na krag af, en selfs met die verhoging van 8,12% sal Eskom waarskynlik weens laer kragverkope nie sy verlangde inkomste kry nie.

Hy het verduidelik die kragvoorsieningsomgewing het baie verander. “Die wêreld waarin ons vorige foute probeer regstel, is baie anders as die wêreld waarin die foute gemaak is.”

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.