Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Krag-monopolie se einde kom nader

Die Suid-Afrikaanse kragvoorsieningsbedryf is besig om ingrypend te verander met al hoe meer alternatiewe vir die Eskom-monopolie. Dít kan grootliks bydra tot die herstel in sakevertroue, ekonomiese groei en werkskepping, sê dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.

Die Medupi-kragstasie is reeds sedert 2007 in aanbou. Foto: Getty Images

Mike Levington, ’n kenner van hernubare energie, stem saam die energie-omwenteling in Suid-Afrika is op koers nadat die regering oplaas besluite daaroor begin uitvoer het. Dit sluit in:

  • Die aankoop van 2 000 MW noodkrag het begin;
  • ’n Soortgelyke proses vir die aankoop van 11 800 MW se opwekkingsvermoë van onafhanklike kragverskaffers begin in Desember of Januarie;
  • Intensiewe kraggebruikers soos myne kan nou self krag opwek of direk van onafhanklike verskaffers koop;
  • Projekte kleiner as 1 MW hoef nie meer ’n lisensie te kry nie;
  • Munisipaliteite mag nou hul eie krag opwek of direk van onafhanklike kragverskaffers koop; en
  • Die ontbondeling van Eskom vorder fluks en teen einde volgende jaar kan ’n onafhanklike transmissiemaatskappy op die been wees wat krag op mededingende grondslag van verskillende kragopwekkers sal koop en landwyd versprei.

Levington sê die regering het nie meer ’n keuse gehad nie, want die beweegruimte het al hoe kleiner geword namate Eskom begin vasbrand het. Nadat beurtkrag verlede jaar ’n rekordvlak bereik het, was daar in die eerste sewe maande van 2020 reeds meer beurtkrag as in die hele 2019. Boonop het finansiers toenemend druk begin uitoefen op die bedryf om van fossielbrandstof na meer omgewingsvriendelike tegnologieë oor te skakel.

Volgens Levington is ’n sleutelfaktor ook die pragmatiese ingesteldheid van André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof. Hy het ’n sakeagtergrond en is ’n onafhanklike denker, sê Levington. “De Ruyter het die steun van Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings) en word die ruimte gegun om te doen wat nodig is.”

By verskeie onlangse geleenthede het De Ruyter die stappe om meer hernubare energie daar te stel verwelkom en selfs gesê dit is steeds te min. Dít is in skerp kontras met sy voorgangers, wat hernubare energie beveg het.

Die land se uiters suksesvolle hernubare energieprogram is met minstens twee jaar vertraag omdat Matšhela Koko in sy tyd as waarnemende bestuurshoof geweier het om koopooreenkomste met 27 onafhanklike verskaffers te onderteken, al het die regering klaar daarvoor onderhandel.

Dit is uiteindelik in 2018 onderteken. Die proses is nou aan die gang om dié projekte aan die netwerk te koppel.

Uit ’n voorlegging van Eskom se transmissie-ontwikkelingsplan Dinsdag blyk kragopwekking wat tot dusver by groot kragstasies in Mpumalanga se steenkoolvelde gevestig was, is besig om te verskuif na die suidelike en oostelike dele van die land, waar omstandighede vir son- en windkrag uiters gunstig is. Al hoe meer steenkoolkragstasies gaan sluit omdat hulle die einde van hul ontwerpleeftyd bereik en met hernubare krag vervang word.

Die grootste vraag na krag is egter in Gauteng, wat beteken die kragnetwerk moet versterk word om krag van byvoorbeeld die Noord-Kaap na die nywerheidsentra in die noorde te vervoer. Daarvoor is sowat R118 miljard in die volgende tien jaar volgens Eskom nodig. Die omwenteling gaan egter ook met risiko’s gepaard.

Eskom het die afgelope week daarop gewys dat sy tariewe sal moet styg om dié besteding moontlik te maak. Hoewel finansiering vir dié soort verandering en ook vir die wegbeweeg van steenkoolopwekking beskikbaar is, moet finansiers weet of Eskom se inkomste uit tariewe voldoende sal wees om sy skuld terug te betaal.

Levington sê dit is van uiterste belang dat die department van minerale bronne en energie personeel met die regte vaardighede het om die oorgang te bestuur. “Tot dusver was die department baie prosesgedrewe. Dinge het langsaam en moeisaam gebeur. Hulle sal vorentoe buigsaam en rats moet wees.” Dít geld volgens hom ook vir die energiereguleerder, Nersa.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, sê daar is finansiering vir private kragopwekking en werkskepping deur ’n regverdige oorgang. “Die probleem is die raamwerk waarin dit moet inpas.”

Volgens hom moet langtermynbeplanning deur die onafhanklike stelsel- en markoperateur in die transmissiemaatskappy oorgeneem word, die land se hulpbronplan moet gereeld aangepas word, struikelblokke vir ander markspelers moet verwyder en tariewe hervorm word. “Baie hiervan hang van die departement af wat glad nie daartoe in staat is om vinnig te beweeg nie.” Montalto meen dit kan die ontbondeling van Eskom met jare vertraag. “Op die ou end is die enigste oplossing om met die nodige spoed te beweeg, om nuwe leiers vir die departement aan te stel.” Op die minste moet Gwede Mantashe as minister vervang word, sê Montalto.

Levington wys uit dat die agteruitgang van die kragverspreidingsnetwerk, wat meestal aan munisipaliteite behoort, baie min aandag kry. “Wat help dit ons wek krag op, maar kan dit nie by die verbruikers besorg nie?”

De Ruyter het Donderdag tydens ’n tegniese voorlegging gesê die risiko vir beurtkrag sal na verwagting tot September volgende jaar voortduur.

Meer oor:  Eskom  |  Kragkrisis  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.