Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Krag word in Julie meer as 6% duurder

As munisipaliteite die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se riglyn volg, sal kragtariewe vir diegene wat deur munisipaliteite voorsien word, op 1 Julie gemiddeld met 6,24% styg.

EFF-lede hou in Februarie ’n optog na Eskom se hoofkantoor teen privatisering en beurtkrag. Foto: ER Lombard

Munisipaliteite sal baie goeie redes moet verskaf om goedkeuring te kry vir tariewe wat hoër is as Eskom se kleinhandeltariewe.

Dit volg nadat Nersa aanbevole tariewe gepubliseer het vir verskillende verbruikersgroepe wat grootliks ooreenstem met dié wat verbruikers sal betaal wat regstreeks deur Eskom van krag voorsien word.

Daarmee probeer Nersa volgens kenners om die groot verskil tussen die kragkoste van regstreekse ­kliënte van Eskom en munisipale kliënte uit die weg te ruim.

Veral nywerhede kan hieruit voordeel trek, sê David Mertens van die Nelson Mandelabaai-sakekamer.

Belanghebbendes het tot 9 April om geskrewe voorleggings te maak oor die riglyn wat Nersa vir munisipale kragtariewe gepubliseer het.

Dit is nie duidelik hoe die staat van inperking dié datum en die openbare vergadering daaroor wat vir ná die sluitingsdatum beplan word, gaan affekteer nie.

Nersa het al sy aktiwiteite gestaak weens die staat van inperking en verwag om dit eers ná 16 April te hervat.

Elke munisipaliteit moet steeds sy eie aansoek om verhoogde tariewe by Nersa indien vir goedkeuring. Die voorgestelde verhoging van 6,24% is bereken op grond van ’n styging van 6,9% in die tariewe wat munisipaliteite betaal vir hul grootmaataankope van Eskom en ’n styging van 6,5% in salarisse. Ander koste wat in ag geneem word, sluit in herstel-, instandhouding- en finansieringskoste.

Mertens gebruik die voorbeeld van ’n groot fabriek wat vyf dae van die week, 24 uur per dag werk, met ’n jaarlikse kragrekening van R44,5 miljoen as hy regstreeks by Eskom krag koop. As dieselfde fabriek in Johannesburg staan en deur City Power voorsien word, sal hy R64,4 miljoen moet opdok. In Kaapstad sal dit R54,4 miljoen beloop (sonder aansporingsmaatreëls), in Tshwane R52,7 miljoen en in Nelson Mandelabaai R47,4 miljoen.

Volgens die Wet op Elektrisiteitsregulering moet tariewe wat Eskom en munisipaliteite hef die doeltreffende koste van kraglewering plus ’n redelike winsgrens weerspieël.

Nersa probeer al geruime tyd munisipaliteite dwing om kostestudies te doen, maar die reaksie was tot dusver power.

Munisipaliteite gebruik elektrisiteitsinkomste om ander dienste te subsidieer, al is daar bepalings in hul kragverspreidingslisensies wat dit verbied.

Nersa stel nou ’n tariefband vir elke verbruikersgroep voor, waarvan die boperk gelykstaande is aan Eskom se kleinhandeltariewe.

Die reguleerder sê hy het daarop besluit omdat die Eskom-tariewe op kostestudies gegrond is.

Die doel is om verbruikers te beskerm teen tariewe wat te hoog is, om munisipaliteite te dwing om hul eie kostestudies te doen en om ’n mededingende mark te verseker in die lig van planne om Eskom te ontbondel in afsonderlike maatskappye vir kragopwekking, transmissie en verspreiding.

Volgens Mertens het die sakekamer vantevore die dokumente waarop munisipaliteite hul tariewe grond van Nersa aangevra en nadat hulle dit bestudeer het, tot die gevolgtrekking gekom dat daar meestal nie ’n behoorlike rasionele grondslag vir die tariewe is nie.

Morné Mostert, hoof van munisipale sake by AfriForum, sê dit is noodsaaklik dat munisipaliteite hul kragtariewe op akkurate kostestudies grond. AfriForum gaan volgende week ’n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om munisipaliteite se kostestudies te kry.

Hy sê in geheel is ’n gemiddelde tariefverhoging van 6,24% minder as 2% bo die heersende inflasiekoers en dit is billik.

Nersa se riglyne stel ook ’n marge van tot 20% voor vir herverkopers van elektrisiteit. Dit is volgens die vereniging vir herverkopers van elektrisiteit in ooreenstemming met Nersa se vroeëre standpunt dat ’n winsgrens van tussen 15% en 20% vir die bedryf volhoubaar is.

Meer oor:  Eskom  |  Kragtariewe  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Dienslewering  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.