
Die nasionale kragnetwerk bly onder druk. Foto: Pixabay
Twee maande nadat dit op die been gebring is, gaan pres. Cyril Ramaphosa se energie-krygskamer uiteindelik Donderdag byeenkom.
Ramaphosa het die spesiale span in Desember saamgestel na aanleiding van ’n span wat in 2014 ook bestaan het.
Die span word gelei deur adj.pres. David Mabuza en sluit ook ander ministers in. Hulle moet die land se kragkrisis help oplos.
Tito Mboweni, minister van finansies, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, sal Donderdag vir die eerste keer vergader, luidens Mabuza se kantoor.
Sy kantoor het geen verdere besonderhede verskaf nie.
Die 2014-krygskamer se aanvanklike doel en hooffokus was om instandhouding van Eskom se verouderende steenkoolkragsentrales te help versnel en verbeter en ook te verseker dat wanbetalers hul skuld aan die nutsmaatskappy betaal.
Dié probleme duur jare later steeds voort, maar André de Ruyter, nuwe uitvoerende hoof van Eskom, het ’n verfynde instandhoudingsplan aangekondig wat daarop gemik is om herstelwerk binne die volgende 18 maande te doen.
– Bloomberg