Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kragkrisis gaan nog jare duur

Private maatskappye en munisipaliteite is gereed om self krag op te wek te midde van ewig dreigende beurtkrag, maar burokratiese rompslomp, onwrikbare reëls en voetslepery deur reguleerders kan dié planne in die wiele ry.

Die sowat 5 000 MW se hernubare energie van onafhanklike kragverskaffers lewer tans ’n reusebydrae om die ligte tydens spitstye aan te hou.

Dít blyk uit ’n opname onder 239 voornemende munisipale en private kragopwekkers deur EE Business Intelligence.

Meridian Economics, wat die resultate ontleed het, meen tot 5 000 MW se opwekkingsvermoë kan beskikbaar gestel word as die regering die vereiste dat aanlegte wat meer as 1 MW kan opwek gelisensieer moet word, verhoog na 50 MW.

Dié lisensiëring deur die energiereguleerder Nersa is ’n langdradige en duur proses wat ontwikkel is vir groot kragstasies en uit pas met die veranderende kragverskaffingsmark.

As dié potensiaal gerealiseer kan word, sal dit Suid-Afrika se huidige hernubare kragopwekking deur onafhanklike kragverskaffers omtrent verdubbel.

Rapport het vroeër berig dat die sowat 5 000 MW se hernubare energie van onafhanklike kragverskaffers tans ’n reusebydrae lewer om die ligte tydens spitstye aan te hou.

Flenters kragstasies

Eskom se woordvoerder Sikonathi Mantshantsha het die afgelope week op Twitter gesê Eskom self het 45 000 MW se opwekkingsvermoë. Daarvan is 8 000 MW se vermoë “nie besig om krag op te wek nie en sal nooit weer opwek nie”, sê Mantshantsha. Dit is glo “net te oud en té flenters om ooit weer te werk”.

As die oorblywende 37 000 MW behoorlik werk, sal dit net vir ’n jaar genoeg wees, sê hy.

Die probleem is egter dat ook dié kragstasies verflenter is en Eskom ten spyte van ondernemings dat hy instandhouding verhoog, nie hond haaraf maak om die werkverrigting te verbeter nie. In die tweede week van die jaar was die beskikbaarheid van die Eskom-vloot net minder as 58%. Die gemiddelde beskikbaarheidsfaktor verlede jaar was sowat 65%.

Eskom se eie vooruitskouing wys dat daar waarskynlik ten minste tot laat in April ’n deurlopende tekort van meer as 2 000 MW se opwekkingsvermoë gaan wees. Dít ten spyte daarvan dat die vraag na krag weens ekonomiese probleme maar flou bly.

Potensiaal vir private opwekking

Meridian Economics wys daarop dat die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) verlede jaar gesê het private kragopwekking kan teen die einde van volgende jaar reeds ’n bykomende opwekkingsvermoë van 3 400 MW bydra. Dít sluit eie opwekking deur huishoudings, ondernemings, nywerhede en boere in.

Dít kan oor twee jaar glo groei tot 4 900 MW, wat meer is as wat Medupi sou kon lewer as die kragstasie behoorlik gewerk het.

Die WNNR se uitspraak was egter gegrond op die aanname dat die regulatoriese omgewing verander om dinge vir private kragverskaffers makliker te maak.

Dít het egter nog nie werklik gebeur nie.

Sonkrag nie ontgin

Sonpanele het groot potensiaal om Suid-Afrika se kragkrisis te verlig, maar dié opsie is nog grootliks onontgin. Volgens Meridian Economics het Viëtnam verlede jaar 7 000 MW se bykomende opwekkingsvermoë geskep en daarmee sy fotovoltaïese opwekkingsvermoë sewe maal groter gemaak.

Australië verwag om in die volgende vier jaar sy vermoë te verdubbel tot 26 000 MW deur jaarliks 3 200 MW se sonpanele op te rig. Die land kon dit bereik nadat hy weggedoen het met burokratiese rompslomp.

Kragopwekking met sonpanele het tussen 2016 en 2019 jaarliks met 47% gegroei in Indië.

Sowat 61% van EE Business Intelligence se respondente wat graag hernubare kragstasies wil ontwikkel, sê terselfdertyd dat die ongunstige beleid, regsraamwerk, regulering, beplanning en kragtariewe hulle twee keer laat dink.

Van die aspekte wat hulle die meeste pla, is regulatoriese onsekerheid en ’n ontoereikende regulatoriese raamwerk, die gesukkel om by Eskom of betrokke munisipaliteite toestemming te kry om hul aanlegte aan die kragnetwerk te verbind, die ontoereikende regsraamwerk vir hernubare energie en hoë kapitaalkoste.

Nuwe groenkragkontrakte

Intussen beweeg die regering met ’n slakkegang om broodnodige nuwe kontrakte toe te ken vir verdere hernubare kragopwekking. Die land se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat in Oktober 2019 gepubliseer is, het die weg gebaan vir die aankoop van 2 000 MW se noodkragopwekking om beurtkrag die nek in te slaan. Die aankoopproses het traag aan die gang gekom en nie ’n enkele kontrak is nog toegeken nie.

’n Ander regeringsprogram om 11 813 MW se hernubare energie aan te skaf, vorder net so stadig.

Prof. Anton Eberhard, energiekenner verbonde aan die bestuurskool van die Universiteit van Kaapstad, het onlangs gesê die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, is al 21 maande in sy pos sonder dat een enkele kontrak gesluit is vir nuwe opwekkingsvermoë.

Prof. Anton Eberhard van die Universiteit van Kaapstad kap die regering se voeteslepery met die goedkeuring van nuwe kragkontrakte.

Hy sê die regering se aankope van hernubare energie het in 2015 tot stilstand geknars en pleks daarvan dat Mantashe so vinnig moontlik die mees kostedoeltreffende opsies instel, lol hy met pogings om kernkrag en nuwe steenkoolkragstasies daar te stel.

Dít, sê Eberhard, sal nie die land se kragkrisis in die volgende dekade oplos nie. Hy sê die noodkragaankope moes binne maande bykomende krag gelewer het, maar dit gaan jare duur.

“Elke maand wat die aankoop van die goedkoopste krag, soos bepaal in die IRP, sloer, beteken nog ’n maand of twee se kragonderbrekings,” sê Eberhard.

Meer oor:  Eskom  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Ipp's  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.