Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kragplan kan tot R100 mjd. méér kos as verwag
Sonpanele op kantoorgeboue in Kaapstad. Die IEA verwag sterk groei in dié soort sonkraginstallasies oor die volgende vyf jaar.

Die regering se nuwe kragplan volg nie die roete van laagste koste nie en sal die ekonomie sowat R100 miljard meer kos in die vorm van hoër kragtariewe as die plan se weergawe vir laagste koste.

Só meen die ontleder Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex.

Die geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) is Vrydag deur Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, bekend gestel.

Die IRP2019 breek kunsmatig weg van die laagste-koste-weergawe deur jaarlikse perke op die bou van nuwe groenkrag-aanlegte te plaas, sê Montalto.

Hy wys ook op die vreemdheid dat die plan vir drie jaar geen nuwe fotovoltaïese sonkragaanlegte toelaat nie. In die laagste-koste-weergawe van die plan is daar nie dié gapings nie. Dit kom terwyl die koste van elektrisiteit van fotovoltaïese sonkrag in nuwe bodrondes van die regering se groenkragprogram waarskynlik nog laer sal wees as windkrag.

Montalto waarsku verder die IRP gebruik aannames oor groei in kragvraag wat gans te optimisties is. Dit word gegrond op ’n verwagte jaarlikse ekonomiese groei van 4,3% van nou tot 2030, terwyl die verwagte gemiddelde groei in werklikheid hoogstens 2% per jaar kan wees. Die IRP verwag ’n gemiddelde groei in kragvraag van 1,8%, terwyl Intellidex net groei van 1% verwag.

Montalto glo nie die nuwe steenkool-kragopwekkingsvermoë van 1 500 MW in die plan sal gefinansier word nie. Al hoe meer banke weier om geld vir nuwe steenkoolkrag te leen as dit nie skoon tegnologie gebruik wat kweekhuisgasse beperk nie.

Die IRP maak voorsiening vir 500 MW per jaar se “kleinskaalse ingebedde kragopwekking” – dit is klein kragprojekte vir eie gebruik.

Montalto is skepties of skoonsteenkooltegnologie in Suid-Afrika werkbaar is.

Die IRP maak voorsiening vir 500 MW per jaar se “kleinskaalse ingebedde kragopwekking” – dit is klein kragprojekte vir eie gebruik. Montalto meen dié kwota is te klein en plaas ’n demper op die vraag uit die private sektor om in hul eie kragopwekking te belê.

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) waarsku die IRP loop die geleentheid mis om op die dringendheid van die klimaatkrisis te reageer. “Ongelukkig is die IRP steeds onder die illusie dat ons baie tyd het om op te tree. Dis nie ambisieus genoeg nie. Suid-Afrika sukkel tans om beleggers te lok, en nuwe steenkoolkrag in die toekomstige energiemengsel sal dit nie makliker maak nie. Die IRP kan nie in ’n vakuum toegepas word nie,” sê Prabhat Upadhyaya, senior beleidsontleder van die WWF SA.

Louise Scholtz, bestuurder van die WWF SA se Urban Futures-eenheid, sê hopelik sal die ontbondeling van Eskom en ’n hersiening van sy rol as kragkoper nuwe geleenthede vir stede skep om hernieubare energie regstreeks van onafhanklike kragprodusente te kan koop.

Die Internasionale Energieagentskap (IEA) verwag hernieubare energie se bydrae tot wêreldwye kragopwekking sal oor die volgende vyf jaar tot 2024 van die huidige 26% tot 30% groei. Die beskikbare opwekkingsvermoë van hernieubare energie sal in dié tyd met 50% groei, volgens die jongste markverslag van die IEA oor die sektor.

Fotovoltaïese sonkrag sal die grootste deel van die 50%-groei uitmaak danksy koste wat steeds daal. ’n Groot deel van die sonkraguitbreiding sal van sonkragstelsels kom wat by huise, kantore en nywerheidsgeboue geïnstalleer word, in teenstelling met grootskaalse aanlegte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.