Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kragrekening steeds met R250 000 agterstallig

Lucia van Vollenstee het in Maart verlede jaar R213 000 se elektrisiteit in haar drieslaapkamerhuis gebruik.

Lucia van Vollenstee by haar huis in Queenswood, Pretoria, waar sy met ’n kragrekening van honderde duisende rand sit. Foto: Antoinette Slabbert

Dís nou as jy die Tshwane-metroraad se skatting van haar huishoudelike gebruik vir die maand sou glo.

Die vorige maand was haar kragrekening R2 531,11.

Dit was die begin van ’n stryd wat steeds geen einde het nie. Sy het die munisipaliteit op sy fout gewys en hulle het ’n deel van die uitstaande rekening teruggeskryf, maar in Junie was die rekening weer onverklaarbaar hoog: R12 041,88.

En selfs ná die terugskrywing het Van Vollenstee volgens die raad steeds R72 000 geskuld.

Al wat sy kon doen, was om maar getrou ’n paar duisend rand te betaal, min of meer soveel soos wat sy gedink het die verbruik moes wees.

In November verlede jaar was daar nog ’n vroeë, nare “Kersgeskenk” van die raad. ’n Kragrekening van R183 577,79 vir die maand.

Sy het weer ’n “regstelling” gekry en aangehou om haar rekening te betaal, maar teen Mei het haar totale agterstallige rekening op byna R250 000 gestaan.

Van Vollenstee is moedeloos. Sy sê sy het die kwessie op Tshwane se digitale rekeningportaal, e-Tshwane, aangemeld en haar elektrisiën, Louis van Tonder van Ugezi Electrical, het dit via die oproepsentrum en per e-pos probeer oplos.

Louis van Tonder van Ugezi Electrical wys na die kragmeters by Lucia van Vollenstee se huis wat hy meen verkeerd gelees is.

Hy het self ook die metroraad se kantore besoek, waar ’n amptenaar vir hom bloot gesê het: “Gaan neem ’n meterlesing en stuur dit in.”

Van Tonder sê hy het seker gemaak dat geen ander eiendomme verkeerdelik aan Van Vollenstee se meters gekoppel is nie. Volgens sy ontleding is die probleem ’n kombinasie van belaglik hoë skattings en lesings wat verkeerd geneem of verkeerd ingevoer is.

Van Vollenstee het intussen ’n brief aan die raad gestuur om hulle te waarsku sy sal regstappe doen as hulle haar krag afsny.

Tans oorweeg sy dit om in elk geval hof toe te gaan as die probleem nie gou opgelos word nie.

Die stad se burgemeesterskomiteelid vir finansies het einde Mei in ’n persverklaring gesê Tshwane gaan voortaan vinniger reageer op klagtes, maar Van Vollenstee sê sien is glo.

In antwoord het die raad gesê 80% van die oproepe by sy oproepsentrum word binne 20 sekondes beantwoord en alle e-posse binne 48 uur. Die raad hou sy sosialemediaplatforms deurgaans dop en probeer om binne 24 uur te reageer.

Maar hoeveel van die aangemelde probleme dan opgelos word,sê die raad nie.

Die raad het bevestig hy stel ondersoek in na Van Vollenstee se rekening.

Meer oor:  Pretoria  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Tariewe  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.