Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kragskepe se pryse nié vasgestel

Die kragtariewe waarteen Karpowership se drie kragskepe elektrisiteit aan Eskom gaan verkoop, kan in ’n oogwink opskiet van die lae vlak wat voorgehou word – en dit sal die verbruiker wees wat daarvoor sal moet betaal.

Een van die Turkse groep Karpowership se kragskepe, wat 470 MW kan opwek.

Die tariewe is gekoppel aan onder meer die internasionale prys van vloeibare aardgas en die rand-dollar-wisselkoers, en veranderings daarin sal tydens die duur van die 20 jaar-kontrak volledig aan die verbruiker deurgegee word.

Die ekonoom Mike Schüssler van Economists.co.za waarsku dat dié tariewe vir Suid-Afrikaners in net so ’n nagmerrie kan ontaard as die dekade lange afslagooreenkoms wat Eskom met die Hillside-aluminiumsmelter by Richardsbaai gehad het.

Dáár was die kragtarief gekoppel aan onder meer die aluminiumprys op die Londense mark, die Amerikaanse produksieprysindeks en die rand/dollar-wisselkoers. Hillside het in ’n stadium gemiddeld 22,65c/kWh betaal, terwyl dit Eskom 41c/kWh gekos het om die elektrisiteit op te wek en toe huishoudings sowat R1,40 betaal het.

’n Onafhanklike ontleder, Ryk de Klerk, het verlede jaar bereken Eskom het sedert 2013 ’n verlies van sowat R15 miljard gely uit die kontrak met Hillside se potlyne 1 en 2 wat op 31 Julie verlede jaar verval het. Eskom en die regering het sedertdien ’n konsepbeleidsraamwerk aanvaar vir sulke kontrakte wat die termyn tot tien jaar beperk en wegdoen met eksterne aanwysers om die tarief te bepaal.

Tog word ’n soortgelyke meganisme nou deur die departement van minerale hulpbronne en energie gebruik in sy voorgestelde kontrakte met Karpowership.

k

Die regering het onlangs die oorgrote meerderheid van die kragaankope wat daarop gemik is om beurtkrag uit te skakel aan Karpowership toegeken. Dié wek krag met kragskepe in die hawens van Koega, Richardsbaai en Saldanha uit vloeibare aardgas op. Die drie skepe sal saam 1 220 MW se opwekkingsvermoë verskaf, terwyl al vyf die ander suksesvolle projekte saam gekontrakteer is vir 625 MW. Laasgenoemde gebruik meestal hernubare energie saam met batteryberging.

Die tariewe waarteen Karpowership krag gaan verkoop, is, volgens syfers wat die departement van minerale hulpbronne en energie verskaf het, van die laagste onder die agt projekte.

Die verskil is dat die ander projekte se tariewe vasgestel word vir die 20 jaar en net jaarliks in pas met die inflasiekoers aangepas word. Die prystrajek is dus voorspelbaar.

In die geval van die kragskepe sal die prys waarteen Eskom krag aankoop, maandeliks aangepas word, grootliks na gelang van die wisseling in die prys van vloeibare aardgas en die wisselkoers.

Eskom sal wanneer hy sy verkoopstariewe vasstel ’n aanname maak oor die gemiddelde gasprys vir die komende tariefperiode en as sy werklike uitgawes aan die einde van die periode daarvan verskil, dit deur die aansuiweringsmeganisme van verbruikers terugeis. Dit beteken dat die volgende jaar se tariewe op- of afwaarts aangepas word na gelang van die werklike koste van Karpowership se krag.

Volgens Bloomberg het die betrokke gasprys reeds skerp gestyg sedert Karpowership die tariewe wat nou genoem word, bereken en vroeg verlede jaar as deel van sy bod ingedien het. As sy skepe dus reeds in produksie was, sou die tarief nou reeds heelwat hoër gewees het.

Die onafhanklike ekonoom Elize Kruger maan 2020 kan weens die impak van Covid-19 kwalik as ’n norm gebruik word. Sy sê die vraag na vloeibare aardgas sal na verwagting op langer termyn styg namate die wêreldbevolking toeneem en verstedelik.

Vloeibare aardgas word as ’n skoner energiebron geklassifiseer en die vraag daarna sal na verwagting veral in die Ooste styg namate regerings probeer om lugbesoedeling te beperk. Die prys kan egter baie wisselvallig wees en deur dieselfde faktore geraak word as die olieprys – wêreldwye ekonomiese groei, produksievermoë en weerpatrone.

Die Wêreldbank se langtermynvoorspelling vir die prys van Brent-ruolie en S&P Global Platts se verwagting vir beweging in die prys van vloeibare aardgas op die Japan-Koreamark, die aanduider waaraan Karpowership se tarief gekoppel is, dui op aansienlik hoër vlakke as toe hy sy bod verlede jaar ingedien het.

Darryl Hunt, ’n konsultant by Dynamic Energy Consultants, maan dat die land se geïntegreerde hulpbronplan voorsiening maak vir 3 000 MW se nuwe gasopwekkingsvermoë tot 2030. Dis volgens hom nodig om die wisselvalligheid van son- en windkrag aan te vul. Gasopwekking is goedkoper as die dieselopwekking wat Eskom gebruik om die ligte aan te hou.

Die invloed van gaspryse op kragtariewe is dus nie uitsluitlik aan Karpowership gekoppel nie, maar sou noodwendig deel word van die land se kragprentjie, sê Hunt. “Energieverbruikers is reeds vertroud daarmee, omdat dieselfde meganisme met betrekking tot die olieprys gebruik word om brandstofpryse maandeliks aan te pas.”

Eskom gebruik dit ook reeds met sy diesel – private dieselopwekkers en veranderings in die dieselprys kry maandeliks neerslag in sy aankooptarief. Die veranderings word jaarliks aan verbruikers deurgegee deur die aansuiweringsmeganisme.

Chris Yelland, direkteur van EE Business Intelligence, wys daarop dat die kragskepe na verwagting 60% tot 70% van die tyd ingespan gaan word, teenoor die lae geruik van die dieselturbines. Hy meen dus die prysimpak kan baie groter wees.

Kruger sê namate die land se kragbronne uitgebrei word sal kragpryse beweeg na ’n geweegde gemiddelde van al die bronne.

“Dit sal dus moeilik wees om presies te weet hoe veranderings in die prys van vloeibare aardgas die uiteindelike kragpryse sal beïnvloed.”

Meer oor:  Krag  |  Ipp's  |  Kragskepe  |  Elektrisiteit  |  Noodkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.