Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Kragverhoging van tot 108% draai in hof
Kragtariefverhogings van tot 108% het Goudveldse sakelui warm onder die kraag. Foto: Vida Booysen

Die Goudveldse sakekamer wil hê die hof moet die energiereguleerder Nersa en die plaaslike munisipaliteit dwing om sy kragtariefverhogings van tot 108% te herroep.

Meulenaars, staalverwerkingsaanlegte, vleisverwerkers, grootmaatbakkerye en ander nywerhede in en om Welkom is in Julie 2016 aaklig verras toe hul rekening skielik baie hoër was as voorheen – en dít nadat hulle vroeër laer tariewe aangebied is om buite spitstyd krag te gebruik.

Sedertdien beveg die sakegemeenskap die besluit van die Matjhabeng-munisipaliteit (Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia en Welkom) en Nersa. Die saak is dié week in die hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor.

Die sakekamer vra die hof om twee besluite oor tariefverhogings tersyde te stel. Die een is die Nersa-besluit om die Matjhabeng-munisipaliteit se aansoek vir verhogings in die 2016-’17- finansiële jaar goed te keur. Die ander is die munisipaliteit se goedkeuring van die tariefverhoging op 27 Mei 2015, toe sy begroting goedgekeur is.

Die aansoek gaan spesifiek oor buite spitstyd-tariewe. Schalk van der Merwe, destyds president van die sakekamer, sê die munisipaliteit het nooit melding gemaak van die verskillende tariewe en tariefverhogings vir verskillende kategorieë verbruikers op verskillende tye van die dag nie.

Die verwagte inkomste uit elektrisiteit het bloot die verhoging van 7,47% weerspieël. Nadat die verhoging geïmplementeer is, het die sakekamer begin klagtes kry oor “belaglike” verhogings.

Die sakekamer het ná ’n vergadering met die munisipaliteit vasgestel dat verhogings van 40% in sommige gevalle en tot 108% in ander gevalle goedgekeur is. Luidens Van der Merwe se verklaring het die munisipaliteit Eskom R2 miljard geskuld, en R20 miljoen in rente betaal per maand. Die munisipaliteit het net R60 miljoen per maand verdien uit die verkoop van elektrisiteit, maar sy rekening by Eskom was R80 miljoen per maand.

Die munisipaliteit antwoord die tariewe moes verhoog word om Eskom te betaal. Laer tariewe vir buite spitstye was ’n lokmiddel, maar om geriewe in stand te hou en dienste te lewer, moet die elektrisiteitsprys die ware koste van lewering weerspieël, en moes die munisipaliteit “moeilike besluite” neem. Hy sê die gemiddelde verhoging was binne die Nersa-riglyn, in dié geval 7,64%.

Uitspraak word voorbehou.

Meer oor:  Eskom  |  Goudveld  |  Kragtariewe  |  Elektrisiteitstariewe  |  Munisipale Dienste  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.