Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
KYK: Beurtkrag verwoes klein besighede

Beurtkrag kan klein ondernemings laat vou, veral entrepreneurs wat in die armste dele van die land probeer oorleef.

Ná maande se spaar het Veronica Mazibuko ’n roomysmasjien gekoop om haar informele onderneming op die sypaadjie van Julesstraat in Jeppestown, Johannesburg, aan te vul. Sy sê dit was ’n opwindende sakebesluit om uit te brei van slaptjips – wat sy ook met ’n diepbraaier maak – en vrugte.

Maar weens beurtkrag is Mazibuko se nuwe roomysmasjien gereeld leeg omdat sy nie liters onbruikbare voorraad wil uitgooi nie.

Op ’n toer deur Jeppestown Donderdag het Natasha Mazzone, DA-LP, en Bongani Nkomo, ’n stadsraadslid van Johannesburg, probeer vasstel wat die invloed van beurtkrag is op klein ondernemings wat nie maklik kan aanpas as die krag af is nie.

Nhlanhaniso Gumbo, eienaar van Teddie’s Bakery, verloor weens selfs net ’n paar uur se beurtkrag duisende rande.

“Op sulke kort kennisgewing kan ons nie betyds voorberei nie. As die krag afgaan terwyl ons voorraad in die oonde het, verloor ons net so maklik R3 000,” sê Gumbo.

“As ons net sekerheid kan kry oor die skedule ’n paar dae voor die tyd, kan ons beplan om nog vroeër in die oggend te begin, of deurnag werk.”

Hy is egter nie seker dat sy handjievol werkers wel vervoer sou kon reël in so ’n geval nie. Die 25 m²-bakkery is ver van waar die meeste van die werkers woon en sy klante se lojaliteit is nie verseker nie, sê Gumbo.

Net in Julesstraat was daar verskeie entrepreneurs wat nie geweet het hoe hulle volgende maand se huur gaan betaal nie weens veral die verlies van voorraad wat in vrieskaste tot niet gegaan het.

Ek ly enorme verliese. Ek weet nie hoe ek my huur op die 7de gaan betaal nie
Apu Sarowar, eienaar van BD Supermarket

Apu Sarowar, eienaar van BD Supermarket, sê hul krag is langer af as die geskeduleerde beurtkrag weens die onbetroubaarheid van kragsubstasies wat ure neem om aanlyn te kom nadat beurtkrag amptelik eindig.

“Dit was onlangs twee dae in ’n ry vir sewe uur op ’n slag! My vrieskaste ontdooi en breek en my klante kan glad nie lugtyd koop nie.

“Ek ly enorme verliese. Ek weet nie hoe ek my huur op die 7de gaan betaal nie,” sê Sarowar.

Mazzone, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê daar is net een oplossing op kort termyn.

“Eskom se monopolie moet doodeenvoudig gebreek word. Beleid sal moet toelaat dat die publiek onafhanklik hul eie elektrisiteit deur sonpanele opwek, én dit terug in die stelsel kan invoer vir vergoeding, anders sal beurtkrag nie eindig nie.

“Eskom is besig om die Suid-Afrikaanse ekonomie, die staatskas en die Suid-Afrikaanse publiek as gyselaar aan te hou. Daar kan nie toegelaat word dat sy monopolie voortduur nie.”

Meer oor:  Eskom  |  Natasha Mazzone  |  Johannesburg  |  Jeppestown  |  Steenkool  |  Kragonderbreking  |  Ekonomiese Groei  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.