Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
KYK: Só lyk Sasol se eie ‘Medupi’

Die petrochemiese reus Sasol voel waarskynlik teen dié tyd oor sy Lake Charles-projek soos wat Eskom oor sy Medupi- en Kusile-kragstasies voel. Dit neem net al hoe langer en word al hoe duurder om te voltooi.

Sasol het reeds in 2010 sy planne aangekondig om die aanleg buite die stad Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana te bou.

Dit moes in 2018 teen $8,9 miljard voltooi gewees het.

Daar word nou verwag dat dit eers later vanjaar teen $12,9 miljard voltooi sal wees.

Die projek is dus nou reeds 45% duurder en met meer as ’n jaar vertraag as wat beplan was.

Hier is ’n tydlyn van toe die projek aangekondig is tot waar dit nou is:

2 Desember 2010: Sasol kondig aan sy direksie het die planne goedgekeur om die aanleg by Lake Charles te bou.

In daardie stadium was daar nog nie sprake van ’n etaan-kraakdistilleerder nie, en was daar ook geen aanduiding van wat dit sou kos nie.

16 Mei 2011: Sasol stel S&B Engineers and Constructors van Houston, Texas, as die ingenieurs-, verkrygings-en-konstruksiebestuurder by die projek aan.

13 September 2011: Bobby Jindal, destydse goewerneur van Louisiana, en Ernst Oberholster, besturende direkteur van Sasol Synfuels, kondig op die Lake Charles-perseel aan dat Sasol ’n uitvoerbaarheidstudie voltooi het om ’n gas-tot-vloeistof-aanleg daar te bou. Sasol kondig twee maande later in November 2011 aan dat hy dit ook oorweeg om ’n etaan-kraakdistilleerder daar te bou; die distilleerder wat 1,5 miljoen liter etileen per jaar sal produseer, en dan ses chemiese aanlegte wat die etileen sal verwerk.

Die Lake Charles-projek van Sasol in die VSA onder konstruksie. Foto: Sasol Noord-Amerika

3 Desember 2012: Die ingenieursontwerpfase van die gas-tot-vloeistof-aanleg en die etaan-kraakdistilleerder skop af.

15 Julie 2013: Fluor Corporation word as die hoofingenieur vir die projek aangestel. Ander kontrakteurs wat aangestel is, sluit Toyo Engineering, Mitsui Engineering & Shipbuilding en Samsung Engineering America in. Worley Parsons word as projekbestuurder aangestel.

Sasol maak vir die eerste keer melding van die geraamde koste en die tyd wat dit sal neem om te voltooi. Hy het tóé gereken die projek sal tussen $5 miljard en $7 miljard kos en dat dit in 2017 voltooi sal wees.

27 Oktober 2014: Die finale beleggingsplan vir die aanleg word bekend gemaak. Sasol sê dit gaan hom $8,1 miljard kos en dat die aanleg in 2018 voltooi sal word.

’n Verdere $800 miljoen gaan bestee word om die perseel se infrastruktuur en dienste te verbeter en om nog grond in die omgewing te koop sodat die aanleg in die toekoms uitgebrei kan word.

23 Desember 2014: ’n Sindikaat van 18 internasionale banke en ander finansiële instansies keur ’n kredietfasiliteit van $4 miljard goed.

28 Januarie 2015: ’n Besluit word geneem om die konstruksie van die aanleg vir eers uit te stel weens die lae olieprys wat toe aan die orde van die dag was.

7 Maart 2016: Sasol sê in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, dat siviele werk op die perseel begin het. Hy het reeds laat in 2015 met dié werk begin, maar swaar reën het die proses vertraag.

Die maatskappy voorspel dat die projek teen 2019 voltooi sal wees.

6 Junie 2016: Sasol gaan die projek hersien nadat hy voorheen besluit het om die aanleg stadiger te bou as wat beplan is.

Die geraamde koste styg nou tot $11 miljard. Dit sluit in die ontwikkeling van die infrastruktuur en verbeterings vir die verskaffing van dienste. Dié aanduiding was toe dat die kostestyging meesal aan vertragings met die bouwerk toegeskryf kon word.

Daar word voorspel dat die projek teen die tweede helfte van 2019 voltooi sal wees.

12 September 2016: Konstruksie gaan voort en die projek is net meer as 50% voltooi. Sasol het reeds $4,8 miljard aan die projek bestee.

Medupi en Kusile

Luidens amptelike syfers gaan Eskom meer as dubbeld soveel betaal vir sy kragstasies as wat beplan is, en dit is reeds verskeie jare laat.

Aanvanklik sou Medupi R69 miljard en Kusile R80 miljard gekos het. Die laaste amptelike vooruitsig was dat Medupi R145 miljard en Kusile R161,4 miljard gaan kos.

Medupi moes reeds in 2015 voltooi gewees het.

Dr. Titus Mathe, Eskom se hoofbestuurder verantwoordelik vir tegnologie, het in Februarie gesê die verwagting is dat die kragstasies waarskynlik eers in 2021 voltooi sal wees.

27 Februarie 2017: Konstruksie is 64% voltooi en $6 miljard is bestee.

21 Augustus 2017: Konstruksie is 74% voltooi en $7,5 miljard is bestee.

23 Januarie 2018: Konstruksie is 81% voltooi en $8,8 miljard is bestee. Sasol voorspel nou dat die projek hom sowat $11,13 miljard gaan kos.

20 Augustus 2018: Konstruksie is 88% voltooi en $9,8 miljard is bestee.

8 Februarie 2019: Konstruksie is 95% voltooi en $10,9 miljard is bestee. Sasol kondig egter aan dat hy verwag dat dit nou vyf maande langer gaan neem om die aanleg te voltooi weens verskeie faktore soos slegte weer, byvoegings tot die projek en die afwesigheid van werkers.

Hy verwag dat die aanleg in Julie 2019 voltooi sal wees. Die laedigtheid poli-etileen-eenheid sal in Augustus klaar wees, teenoor Maart. Ander eenhede in die projek is ’n maand tot vier maande vertraag.

Die projek gaan ook nou meer kos as verwag; tussen $11,6 en $11,8 miljard.

Die liniêre laedigtheid-poli-etileen-eenheid het in Januarie sy eerste produksie gelewer.

22 Mei 2019: Die koste vir die aanleg word wéér aangepas. Sasol voorspel nou dat dit hom waarskynlik tussen $12,6 en $12,9 miljard gaan kos. Dit is $1 miljard meer as sy voorspelling in Februarie.

Die addisionele $1 miljard is weens ’n aanpassing van $530 miljoen op die vooruitsig wat in Februarie gemaak is en bykomende gebeure en werk wat ingereken moet word wat $470 miljoen beloop.

Meer oor:  Sasol  |  Eskom  |  Vsa  |  Lake Charles  |  Medupi  |  Kusile
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.