Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Laer kragpryse wink vir nywerhede

Die deur is weer oop vir sukkelende nywerhede om afslagkragpryse met Eskom te beding, maar eintlik wil hulle net hul billike deel betaal en niks meer nie.

Goud word in ’n staaf gegiet. Foto: Bloomberg

Só sê Nellis Bester, voorsitter van die ferro-allooiprodusentevereniging (Fapa), wat vra dat Eskom die subsidies vir huishoudings, wat sowat 14% van sy tariewe vir nywerheidskliënte uitmaak, afskaf.

Dít sal egter ’n tekort laat wat deur óf die regering óf verbruikers gevul moet word.

Bester het gereageer op die departement van energie se finalisering van die raamwerk vir onderhandelde prysooreenkomste met Eskom en munisipale kragverskaffers. Dis onder meer daarop gemik om werkgeleenthede te behou en Eskom se verkoopsvolume te handhaaf.

Die energiereguleerder (Nersa) het vroeër spesiale korttermyn-prysooreenkomste met twee maatskappye, Silicon Smelters en Sublime Technologies, goedgekeur. Albei was vir twee jaar geldig.

Silicon Smelters het sy aanlegte by Witbank en Polokwane verlede jaar gesluit, ’n paar maande voordat die ooreenkoms verstryk het, en Sublime Technologies s’n het in September verstryk.

Hoewel daar meer aansoeke vir soortgelyke ooreenkomste was, het Nersa dit nie oorweeg alvorens die departement van energie ’n raamwerk gefinaliseer het waarbinne sulke ooreenkomste aangegaan kan word nie.

Dít is nou afgehandel.

Daarmee saam het die departement ook ’n tussentydse raamwerk vir soortgelyke langtermynooreenkomste gefinaliseer.

Eskom het reeds dekades lank ’n voorkeurooreenkoms met South32 (voorheen BHP Billiton) om sy aluminiumsmelter in Richardsbaai te voorsien van krag teen ’n tarief wat gekoppel is aan die aluminiumprys. Dít het Eskom by tye baie duur te staan gekom en daar was fel kritiek van verbruikers wat onder hoë tariewe moes deurloop, terwyl die kommoditeitsreus ’n breukdeel daarvan betaal het.

Dié ooreenkoms het ook tot ’n einde gekom. South32 se bedryfshoof, Mike Fraser, het vroeër vanjaar aan Engineering News gesê daar is ’n nuwe ooreenkoms wat, soos Eskom se ooreenkoms met Mozal Aluminium, nie meer die kragprys aan die prys van aluminium koppel nie. Dit moes egter nog die groen lig van Nersa kry.

Eskom het die afgelope week aan Rapport gesê hy is besig om die ooreenkoms by die nuwe raamwerk aan te pas, waarna dit vir goedkeuring aan Nersa voorgelê sal word.

Volgens die nuwe raamwerk sal korttermynooreenkomste vir drie jaar geld, met ’n opsie om dit met twee jaar te verleng. Dit is beskikbaar vir ondernemings in prioriteits- en strategiese bedrywe wat óf aanlegte gesluit het óf waar sluitings dreig.

Elektrisiteitskoste moet onder die grootste drie bedryfskoste-items tel, hul kragrekening moet op datum wees en hulle moet ’n skoon prestasielys by die mededingingsowerheid hê.

Die aansoek moet deur die departement van handel, nywerheid en mededinging gesteun word en in ruil vir die laer tariewe sal Eskom se stelseloperateur die aanleg se krag op kort kennisgewing kan afskakel as die nood druk.

As die kommoditeitsprys in die betrokke bedryf styg, sal Eskom in die voordeel deel en die maatskappy sal vir die duur van die ooreenkoms die ooreengekome bedrag aan Eskom moet betaal, of hy die krag gebruik of nie.

Die tussentydse raamwerk vir langtermynooreenkomste is soortgelyk, maar maak voorsiening vir kontrakte van tot tien jaar. Volgens die dokument sal die finale weergawe ook aansporingsmaat­reëls vir die vestiging van nuwe nywerhede in Suid-Afrika bevat.

As ’n maatskappy of sy hoofaandeelhouer in die voorafgaande drie jaar aan korrupsie skuldig bevind is, word hy gediskwalifiseer en selfs ’n korrupsieondersoek tydens die duur van die ooreenkoms kan die einde daarvan beteken. Dan sal die maatskappy die afslag wat hy reeds gekry het, moet terugbetaal.

Bester sê die twee dokumente laat egter baie vrae. Fapa het die onduidelikhede met Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, bespreek en wag vir terugvoering.

Hy sê dit is te betwyfel of die raamwerke kostebesparings van meer as 5% tot 10% teweeg kan bring. “Dit is te min. Sowat 30% van Fapa se produksievermoë staan tans in onbruik.”

Dis weens die hoë koste en lae vraag na hul produk.

Volgens Bester betaal nywerhede in Suid-Afrika $75/MWh vir elektrisiteit, teenoor die $40 wat mededingers elders ter wêreld betaal. In Europa, waar regerings ingryp om hul bedrywe te help, is dit so min as $20.

Hy sê plaaslike nywerhede sal makliker kan asemhaal as hul kragtariewe bloot die koste van lewering aan hulle weerspieël. Dit is egter gelaai met tot 14% se subsidies wat nywerhede betaal om krag goedkoper aan huishoudings te besorg.

As die subsidies verdwyn, sal iemand egter dié gat moet vul.

Nywerhede is volgens Bester ook bekommerd dat Eskom die ekstra inkomste waarop hy kragtens onlangse hofuitsprake geregtig is, gaan kry. “Dit sal die doodsklok vir ons lui.”

Meer oor:  Eskom  |  Kragtariewe  |  Kragkrisis  |  Nywerhede  |  Mynbou  |  Fabrieke  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.