Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Landbou kan binne jaar help met kragverskaffing – Agri SA

Suid-Afrika se landbousektor het die vermoë om binne ’n jaar nadat die registrasieproses vir groenkragprojekte goedgekeur is, krag aan die nasionale kragnetwerk te verskaf. Dit sal help om die druk op Eskom te verlig.

Wyle Moeammar Ghaddafi was so beïndruk met Charl Senekal (op foto) se besproeiingstelsel in die noorde van KwaZulu-Natal dat hy hom en ’n afvaardiging van Agri SA na Libië genooi het. Foto: Sarel van der Walt

Hoe gouer hierdie registrasieproses plaasvind, hoe gouer kan landbou begin krag lewer, sê Agri SA.

Die organisasie sê hy verwelkom die aandag wat pres. Cyril Ramaphosa verlede week in sy staatsrede aan die Eskom-krisis gegee het.

Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se eenheid vir ekonomie en handel, sê Agri SA is al geruime tyd met Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, in gesprek oor die energiekrisis in die land en die rol wat landbou kan speel om die tekort aan energie te verlig.

Agri SA het saam met finansieringsinstellings ’n produk ontwikkel wat finansiering onafhanklik van die balansstaat bied vir die oprig van sonkragstelsels.

“Dit is vir Agri SA belangrik dat die landbousektor deel kan wees van die oplossing tot volhoubare energievoorsiening binne die raamwerk van hernubare energie sonder om die sekuriteit wat nodig is vir die ontwikkeling van dié sektor in energie-opwekking vas te vang.

“Sodoende kan ontwikkelings plaasvind én die beskikbare hulpbronne maksimaal benut word.”

Charl Senekal, die land se grootste suikerboer, het aan Netwerk24 gesê hy is baie opgewonde oor die idee dat die landbousektor toegelaat sal word om self krag op te wek.

Die pypbrug wat die suikerboer Charl Senekal oor die Mkhuzerivier in KwaZulu-Natal bou om water van die Jozinidam na sy suikerplaas by Mkhuze te kry. Die stelsel werk met swaartekrag en Senekal het nie elektriese krag nodig om ’n deel van sy plaas te besproei nie. Foto: Charl Senekal
Nicol Jansen van Agri SA. Foto: Deon Raath

“Om ekonomies volhoubaar te boer moet ons meer innoverend dink en optree.

“Ons (Senekal-boerdery) is reeds in gesprek met ’n groot ingenieursfirma vir ’n hernubarekragprojek wat sowat R70 miljoen sal kos. Ons beplan om uiteindelik wind, sonkrag en water te gebruik om krag op te wek,” sê Senekal, wat in die noorde van KwaZulu-Natal naby Mkhuze boer.

“Ons moet planne maak, want ek kan nie sien dat Eskom se probleme gou opgelos sal word nie. Daarom is ek baie gretig om geld in groenenergie te belê.

“Beurtkrag kos ons geld. As die krag af is en ek kan nie die 4 000 ha wat onder suiker is, besproei nie, kos dit my R29 000 per uur,” sê Senekal.

Hy sê die Umfolozi-suikermeule waarvan hy ’n aandeelhouer is, wek reeds op die oomblik ’n beperkte hoeveelheid krag op, maar hy hoop dié meule kan in die toekoms genoeg krag opwek dat dit ook aan die nasionale kragnetwerk gekoppel kan word.

Senekal het onlangs ’n waterpyp, wat 800 mm in deursnee is, van die Jozinidam na sy plaas aangelê.

Dié stelsel werk met swaartekrag en sal help dat hy in die toekoms sowat 750 ha sonder elektrisiteit kan besproei. “Die kans is goed dat ons ’n klein kragturbine in die pyp gaan installeer,” sê Senekal.

Agri SA sê dit is belangrik om die proses vanaf die aansoek tot en met die registrasie by die nasionale energiereguleerder (Nersa) te bespoedig vir eenhede onder 1 megwatt en nie net bo 1 megawatt soos daar in die staatsrede genoem is nie.

Hy sal druk plaas op die departement van energie, Eskom en Nersa vir die spoedige, praktiese inwerkingstelling van die planne wat Ramaphosa in sy staatsrede uitgelig het.

Meer oor:  Agri Sa  |  Eskom  |  Krag  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.